Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Nasionalisering raak nie Reserwebank se mandaat’
Die Reserwebank se gebou in die middestad van Pretoria.

’n Verandering in die eienaarskap van die Reserwebank sal geen impak op sy mandaat hê nie.

Dit kan wel ’n impak op deursigtigheid hê omdat die sentrale bank in dié stadium sy jaarverslag aan sy private aandeelhouers moet voorlê en hulle sy nie-uitvoerende direkteure verkies. Die jaarvergadering is ook die geleentheid waarop aandeelhouers vrae oor die werksaamhede van die bank kan stel.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe, sê die debat oor die eienaarskap van die Reserwebank moenie verwar word met die debat oor die bank se mandaat nie.

Rossouw, wat tot in 2014 ’n adjunkhoofbestuurder van die Reserwebank was, sê die ANC kan betreklik maklik die Reserwebank nasionaliseer aangesien slegs die Wet op die Reserwebank verander moet word, iets wat met ’n gewone meerderheid in die parlement gedoen kan word.

Die ANC sal egter op sy eie moeiliker kan peuter aan die Reserwebank se mandaat, aangesien dit in die Grondwet neergepen is en slegs met ’n tweederdemeerderheid verander kan word. Die ANC hou op die oomblik slegs 62% van die setels in die parlement.

Rossouw meen wel die ANC kan die EFF se steun kry indien hy die Reserwebank se mandaat wil verander. Die EFF het 6,25% van die parlementêre setels, wat ’n tweederdemeerderheid daar sal stel.

Die debat oor die eienaarskap van die Reserwebank moenie verwar word met die debat oor die bank se mandaat nie.
Prof. Jannie Rossouw

Dit is nou amptelike ANC-beleid dat die Reserwebank se private aandeelhouers uitgekoop moet word. Die voorstel is in Julie op die party se beleidskonferensie gedoen en is nou deur die nasionale konferensie, wat Woensdag in Nasrec in Johannesburg ten einde geloop het, bekragtig.

Enoch Godongwana, uittredende voorsitter van die ANC se ekonomiese-beleidskommissie, het egter Woensdag op ’n nuuskonferensie gesê die regering het nie geld om die Reserwebank te koop nie.

Hy het ook beklemtoon dat nasionalisering nie die bank se werksaamhede sal beïnvloed nie. “Die bank se mandaat is in 2011 reeds verbreed en daar gaan nie nou aan sy grondwet getorring word nie.”

Rossouw sê dis inderdaad ’n groot vraag hoe aandeelhouers vergoed sal word indien nasionalisering ook regeringsbeleid word. Die bank se 2 miljoen aandele verhandel tans in die omgewing van R3 per aandeel oor die toonbank. Dit beteken die staat sal R6 miljoen nodig hê om aandeelhouers uit te koop.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe by Wits.

Wat is die rol van private aandeelhouers?

Die Reserwebank se private aandeelhouers het geen invloed op die toepassing van sy mandaat of werksaamhede nie. Die Reserwebank hou toesig oor die bankstelsel en bepaal die land se monetêre beleid (vernaam deur die rentekoers en die geldvoorraad te beheer).

Private aandeelhouers het beperkte regte, naamlik om die Reserwebank se jaarstate te oorweeg, om die nie-uitvoerende direkteure te verkies, om eksterne ouditeure aan te stel en om hul vergoeding goed te keur.

Net aandeelhouers wat in Suid-Afrika mag woon, mag op die jaarvergadering stem.

Die ANC se opmerking dat hy die bank wil nasionaliseer om te verseker dat “private aandeelhouerspekulante nie bevoordeel word nie”, is volgens Rossouw “onsin”.

Hy sê aandeelhouers – waarvan hy een is – verdien nou al dekades lank slegs 10c dividend per aandeel per jaar (8c nadat dividendbelasting van 20% afgetrek is).

Daar is ook streng perke op hoeveel aandele individue of maatskappye waarin hulle belange het, mag besit – geen aandeelhouer en sy assosiate mag meer as 10 000 van die 2 miljoen aandele (dus ’n belang van 0,5%) besit nie.

Die Reserwebank het amper 700 aandeelhouers.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Wat van die debat oor die Reserwebank se mandaat?

In Julie het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, beklemtoon dat ’n verandering aan sy aandeelhouding nie sy mandaat verander nie.

Die debat oor die Reserwebank se rol het gekom net ’n paar weke nadat Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), in ’n verslag voorgestel het dat die bank se mandaat verander moet word.

Die Reserwebank en die tesourie het die OB in die hof die stryd aangesê oor haar “voorstel” en die hooggeregshof in Pretoria het bevind sy het haar magte oorskry.

Wat is die Reserwebank se mandaat?

Die Reserwebank se grondwetlike mandaat is om “die waarde van die geldeenheid te beskerm in belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei”. In praktyk beteken dit die bank kan rentekoerse verhoog of verlaag om inflasie in ’n teikenband van 3% tot 6% te hou.

Mkhwebane het voorgestel dat die verwysing in die Grondwet na die “geldeenheid” verwyder word en dat die Reserwebank se primêre doelwit moet wees om gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei te bevorder, terwyl verseker moet word dat die sosio-ekonomiese welstand van die landsburgers beskerm word.

Dit is alom beskou as ’n mandaat wat radikale ekonomiese transformasie, die refrein van pres. Jacob Zuma vanjaar, sal ondersteun.

Die voorstel het in Julie die rand tot die laagste vlak in sewe maande laat daal. Dit het egter nie Woensdag veel van ’n impak op die geldeenheid gehad nie.

Enoch Godongwana, uittredende voorsitter van die ANC se ekonomiese beleidskomitee.

Hoeveel sentrale banke is in private besit?

So ver vasgestel kan word, is daar sewe lande waar private aandeelhouers die sentrale bank besit. Dit is België, Griekeland, Japan, Suid-Afrika, Switserland en Turkye. Die Bank van Italië en die 12 Federale Reserwebanke van die VSA laat slegs private aandeelhouding deur kommersiële banke toe.

Rossouw sê sentrale banke met private eienaarskap is ’n oorblyfsel uit die jare voor die Tweede Wêreldoorlog en dat die neiging om hulle te nasionaliseer in 1935 met die sentrale bank van Nieu-Seeland begin het. Die Bank van Engeland is in 1946 genasionaliseer.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is in 1921 gestig. Teen die tyd dat hy gestig is, het die meeste sentrale banke wêreldwyd private aandeelhouers gehad en die Suid-Afrikaanse Reserwebank het dieselfde struktuur aangeneem.

Die Reserwebank is in April 1922 op die JSE genoteer, maar nadat die noteringsvereistes verander is, het hy in 2002 gedenoteer. Aandele in die bank word oor die toonbank verhandel.

Hoe word die Reserwebank beheer?

Die bank word ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank beheer, saamgelees met die Grondwet.

Die president van die Reserwebank en sy drie adjunkpresidente word deur die president van die land aangestel, in konsultasie met die minister van finansies.

Die Reserwebank se mandaat word in die Grondwet uitgestippel in art. 223 tot art. 226. Kragtens hierdie artikels moet die Reserwebank die waarde van die rand beskerm deur ’n inflasieteikenband van 3% tot 6% na te streef.

Waarom is daar dan ’n veldtog vir nasionalisering as eienaarskap geen verskil maak nie?

Die beleidstandpunt is in dié stadium pure politiekery om vakbonde en ander linksgesinde faksies van die ANC te paai. Daniel Silke, politieke ontleder, het aan Fin24 gesê dis, saam met die beleidstandpunt oor grondonteiening sonder vergoeding, ’n poging om die “diepe politieke verdelings en polarisering” in die ANC te bestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.