Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
NDZ, Cyril vra (weer) uitstel in Fita se sigaretsaak
Fita het ’n dringende aansoek gebring om regulasie 27 van die Wet op Rampbestuur, wat op 29 April gepubliseer is, te laat hersien en ter syde te stel.

Die staat wil die eerste hofaansoek wat gebring is oor die verbod op sigaretverkope wat veronderstel is om 9 en 10 Junie aangehoor te word, met twee weke laat uitstel.

Dit is die tweede keer dat die staat vir uitstel vra.

Die regering het tot 3 Junie (vandag) kans om sy beantwoordende eedsverklarings by die hof in te dien in die dringende hofaansoek wat die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) in die hooggeregshof in Pretoria gebring het.

Die respondente in die saak is pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Fita het ’n dringende aansoek gebring om regulasie 27 van die Wet op Rampbestuur, wat op 29 April gepubliseer is, te laat hersien en ter syde te stel. Regulasie 27 het die verbod op die verkoop van tabakprodukte gestel tydens vlak 4 van die staat van inperking.

Die staatsprokureur Arista Wasserman het Dinsdag aan Dunstan Mlambo, die regter-president van Gauteng, geskryf om vir uitstel te vra en gesê dat daar drie dinge is wat gebeur het sedert Fita die aanvanklike dringende aansoek gebring het. Dit sluit in dat die applikante op 29 Mei hul aansoek gewysig het om ook regulasie 45 (die tabakverbod op vlak 3) te laat hersien en ter syde te stel.

Nog ’n verwikkeling is dat British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad ’n aansoek gebring het vir ’n bevel wat regulasie 45 ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Dié hofsaak moet op 22 Junie aangehoor word.

Wasserman vra nou dat die Fita-verhoor van 9 tot 10 Junie in Pretoria uitgestel word tot die week van 22 Junie.

“Hoewel dit aanvanklik lyk of dit ’n vertragingstaktiek is namens die president en die minister, is dit nie. Dit is ’n poging om te verseker dat die wettigheid van regulasie 45 regverdig bepaal word,” skryf sy.

Sinen Mnguni, voorsitter van Fita, het aan Netwerk24 gesê die respondente het nie ’n aansoek gebring waarin vir die uitstel gevra word nie.

Fita voer in sy brief aan Mlambo aan, in reaksie op Wasserman se versoek, dat die versoek op dié gronde alleen geweier moet word en dat die Fita dit teenstaan.

Volgens hom wag hulle dus nog vandag vir die beantwoordende eedsverklaring, want teen 12:00 is daar nog nie ’n reaksie van die regter ontvang nie.

Volgens Mnguni kan dit enige iets tot middernag 3 Junie wees dat die staat die beantwoordende eedsverklaring kan stuur.

Volgens Wasserman is die rede vir die uitstel wat gevra word dat die minister in die Batsa-saak die redes en rekord van die besluitneming oor regulasie 45 aan die hof moet verskaf.

Volgens haar is die minister ook veronderstel om dit in die Fita-saak te verskaf.

Die rekord oor regulasie 45 word reeds vir die hof voorberei.

“Die redes moet ook voorberei word. Dit is eenvoudig prakties onmoontlik om die redes en die rekord behoorlik voor te berei voor 3 Junie en dit in te sluit in die beantwoordende eedsverklaring van die minister in die Fita-saak, veral gegewe die druk waaronder die minister geplaas is om die nasionale staat van inperking te bestuur. Voldoende spertye moet hiervoor verskaf word.”

Wasserman het in die brief die hof versoek om saakbestuur te doen oor die Fita-saak omdat daar ook intussen ’n aansoek tot tussenkoms van Smokers Unite One, Annemarie Beets en Robert Goulding ontvang is (om tot die saak toe te tree).

Sy voer aan die spertye wat gestel word in die saakbestuur moet die geleentheid gee vir die minister om die redes en rekord ten opsigte van regulasie 45 in die Fita-saak te verskaf.

Meer oor:  Fita  |  Koronavirus  |  Verbod  |  Belasting  |  Rook  |  Sigarette  |  Covid-19  |  Sluikhandel  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.