Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Nedlac is ’n kultus, dien net homself’
Pres. Cyril Ramaphosa vroeër op ’n vergadering van Nedlac. Foto: GCIS

Nedlac, die forum waarop die regering en die arbeid- en sakesektors verlede week op ’n ekonomiese herstelplan ooreengekom het wat Suid-Afrika uit die Covid-19-as moet laat herrys, is volgens kenners eintlik ’n windeier wat min vertroue inboesem.

Kritici beskryf Nedlac as ’n “kultus” wat ondemokraties en ondeursigtig is.

Nedlac is 1994 gestig as ’n forum waarop die regering, georganiseerde arbeid en die sakesektor ekonomiese en arbeidskwessies deurtrap en ooreenkom oor planne en wetgewing vir ekonomiese groei, maar kritici sê deesdae verteenwoordig dit net sekere gevestigde belange.

Die herstelplan waarop Nedlac vroeër die maand ooreengekom het om die land ná Covid-19 op ’n vinnige ekonomiese groeitrajek te plaas, is reeds die 18de weergawe.

Die klem val op volhoubare, inklusiewe groei en werkskepping. Die oogmerke sluit in om vertroue te herstel, industrialisering en vinnige sukses. Die kabinet moet die plan nog goedkeur.

Claude Baissac, ekonomiese strateeg by Eunomix en outeur van ’n verslag waarin hy voorspel Suid-Afrika kan teen 2030 ’n mislukte staat wees, sê Nedlac het nie die vermoë om enigiets tot uitvoer te bring nie.

Peter Attard Montalto, navorsingshoof van kapitaalmarkte by Intellidex, skryf in ’n onlangse ontleding die markte is verward oor Nedlac se ooreengekome pakt vir ekonomiese herstel omdat dit geensins bindend is nie.

Die regering het hom reeds telkens daartoe verbind om sy groeibeloftes na te kom, maar sonder dat veel daarvan gekom het.

Montalto sê hoewel Nedlac die regering kan druk om by sperdatums te hou en dus verantwoordbaar te wees, was dit ook die geval met al die vorige staatsredes. Dit het tot nou misluk.

Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), het Woensdag in ’n paneelbespreking van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gesê Nedlac was belangrik toe daar nog nie ’n bestendige regering was nie, maar dis nie meer die geval nie.

Die meeste landsburgers, waaronder die kleinsakesektor en werkloses, het nie ’n stem in Nedlac nie.

“Nedlac neem besluite waarmee diegene wat daarin dien, kan saamleef, maar wat van die res van die samelewing?” het Bernstein gesê.

Nedlac neem besluite waarmee diegene wat daarin dien, kan saamleef, maar wat van die res van die samelewing?
Ann Bernstein

Prof. Philippe Burger, visekanselier vir armoede, ongelykheid en ekonomiese ontwikkeling aan die UV, stem saam oor Nedlac se beperkte verteenwoordiging.

Die informele sakesektor, wat vir sowat 18% van indiensneming in die land verantwoordelik is, moet volgens hom gehelp word om ’n stem in Nedlac te kry.

Die groot vakverbond Saftu, waarvan die magtige metaalwerkersvakbond Numsa deel is, en die vakbond Solidariteit is byvoorbeeld ook uitgesluit. Al die groeperings wat uitgesluit word, se belange word dus ook uitgesluit, sê Burger.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, wat 12 000 betalende lede het, sê sy indruk uit ’n sakeoogpunt is dat Nedlac die forum is waarop die regering en georganiseerde arbeid se agenda gelegitimeer word.

“Wat het Nedlac die afgelope dekade gedoen om beleid te vorm vir ’n vryer en regverdiger ekonomie?”

Daar is wel voorbeelde van skadelike beleid soos onteiening sonder vergoeding en swart ekonomiese bemagtiging wat daaruit gespruit het. Dis juis slegte beleid wat Suid-Afrika reeds voor Covid-19 in ’n resessie laat beland het, sê Le Roux.

Volgens hom het Nedlac min bygedra daartoe om die skadelike en dikwels irrasionele Covid-19-inperkingsmaatreëls wat deur die regering ingestel is, te keer of te laat verslap.

Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual, het in die UV-paneelbespreking gesê die grootste probleem is dat vakbonde die sterkste stem in Nedlac het. “Die vakbonde beskou dit as ’n onderhandelingsforum. Dit was nooit die doel nie. Dit is gestig as ’n forum vir dialoog.”

Dieselfde praktyke waarin vakbondbase in hul kantore sit en stakings afkondig en dit dan afdwing, word in Nedlac voortgesit.

Mondli Makhanya, hoofredakteur van Rapport se susterkoerant City Press wat ook deel van die paneel was, het gesê Nedlac het wel bestaansreg, maar dit moet meer demokraties funksioneer. “Nedlac is ondeursigtig en ’n bietjie soos ’n kultus,” het hy gesê.

Baissac meen die regering het begin skuil agter forums waar konsensus tot elke prys bereik moet word sodat hy nie ongewilde besluite hoef te neem nie. “Ons het nie ’n bestendige politieke, ekonomiese en maatskaplike omgewing waarin ons die luukse het van konsensus soek oor ’n lang tydperk nie. Ons regering moet vir vakbonde en die sakesektor sê: ‘Dít is wat ons gaan doen. Vat dit of los dit!’ ”

Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Unity South Africa (Busa), sê in haar weeklikse nuusbrief Nedlac loop soms onder kritiek deur dat dit lank neem om beleid te bevorder, maar “ons kon vinnig oor ’n (ekonomiese herstel-) plan ooreenkom”.

Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, het in reaksie gesê dis nie waar dat net sekere vakbonde se stemme in Nedlac gehoor word nie.

Cosatu, Nactu en Fedusa, wat deel van Nedlac is, verteenwoordig meer as ’n driekwart van alle vakbondlede.

“Daar is mense wat sê gesprekke sterf ’n stadige dood in Nedlac, maar Cosatu het baie gedoen om weer lewe in Nedlac te blaas.”

Hy is veral bemoedig daardeur dat die belangegroepe in Nedlac so gou oor die ekonomiese herstelplan kon ooreenkom. “Dit het net ’n maand gevat en daar was eensgesindheid oor 99% van die plan.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Enkonomiese Groei  |  Nedlac  |  Herstelplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.