Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Net 6% ken Covid-19 se 3 belangrikste simptome

Die boodskap wat die regering aan die begin van die Covid-19-pandemie herhaaldelik beklemtoon het, naamlik dat mense hul hande gereeld moet was of ontsmet, het inderdaad ingesink.

Net 53% van Suid-Afrikaners dra maskers. Foto: Pixabay

Maar nou is dit tyd vir ’n nuwe boodskap wat in pas is met die jongste navorsing oor hoe mense die siekte opdoen: deur die inaseming van besmette druppeltjies. Die beste strategieë om dit te vermy, is om groot groepe mense te vermy, fisieke distansiëring toe te pas en maskers te dra.

Dis die waarskuwing in ’n studie oor Suid-Afrikaners se kennis van Covid-19 en die voorkoming daarvan wat deur Ronelle Burger van die Universiteit Stellenbosch en Carmen Christian van die Universiteit van Wes-Kaapland gedoen is, asook Brendan Maughan-Brown, Russell Rensburg en Laura Rossouw, al drie van die Universiteit van die Witwatersrand. Dis deel van ’n reeks studies deur meer as 30 navorsers aan Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite wat in geheel as die Nids-Cram-studie bekend staan (sien kassie hier onder) en Woensdag uitgereik is.

Verreweg die meeste mense – 91% – sê hulle het wel hul gedrag verander om Covid-19-besmetting te voorkom. Die algemeenste verandering was die was of ontsmetting van hande, wat 70% van mense nou gereeld doen.

Net 35% het egter al drie van die doeltreffendste voorkomende maatreëls (vermy groot groepe, pas fisieke distansiëring toe en dra maskers) deel van hul gedrag gemaak. Van die respondente dra 53% nou wel maskers en 58% vermy mense, hetsy deur tuis te bly of groot groepe te vermy. Net 25% van mense pas fisieke distansiëring toe.

“Totdat ’n entstof teen Covid-19 ontwikkel is, bly regerings uiters afhanklik van niefarmaseutiese ingrypings om die verspreiding van die pandemie te beheer en die oorlading van die gesondheidstelsel te voorkom,” waarsku die studie.

Die navorsers sê wat voldoening aan voorkomende maatreëls bemoeilik, is dat mense geen bevestiging kry dat dit werk nie. As hulle veilig optree, word hulle dalk nie siek nie, maar hulle het nie ’n tasbare bewys dat dit juis dié gedrag was wat gekeer het dat hulle siek word nie.

Aanpassing beteken dat die mag van ons vrese mettertyd sal verswak. Uiteindelik raak ons daaraan gewoond om met risiko’s saam te leef en ons hou op om bang te wees.

“Die lang tydsraamwerk waarbinne die voorkomende maatreëls volgehou sal moet word, is nog ’n uitdaging. Aanpassing beteken dat die mag van ons vrese mettertyd sal verswak. Uiteindelik raak ons daaraan gewoond om met risiko’s saam te leef en ons hou op om bang te wees.”

Die navorsers wys ook daarop hoe moeilik dit is om voorkomende maatreëls prakties in arm woongebiede toe te pas. ’n Studie wat in Kaapstad gedoen is, toon die afstand tussen wonings kan so klein soos 0,6 m wees. Die wonings self is vol en daarby deel gemeenskappe geriewe soos toilette. Daarby het nie almal toegang tot skoon, lopende water vir die was van hande of van maskers nie.

Vir inperkingsmaatreëls om suksesvol te wees, word hoë vertrouensvlakke vereis. As leiers en die inligting wat hulle deel, nie vertrou word nie, sal min mense die inperking aanvaar of aan die regulasies voldoen. Die navorsers verwys na die ontplooiing van die weermag en sê dit skep die gevaar van weerstand en die vernietiging van vertroue. “In dié konteks kan samewerking doeltreffender wees as straf.”

Is mense bang (genoeg)?

Gegoede Suid-Afrikaners is baie banger dat hulle die virussiekte Covid-19 gaan opdoen as die armste mense in die bevolking.

Volgens die navorsers glo 52% van die rykste vyfde van die bevolking dat hulle die virussiekte gaan opdoen. Net 25% van die armste vyfde van die bevolking glo dat hulle vatbaar is.

Dis kommerwekkend gegewe dat dit juis welvarender mense is wat hulself baie makliker kan beskerm – hulle kan waarskynlik van die huis af werk, hoef nie openbare vervoer te gebruik nie en het kontak met baie minder mense per huishouding. As mense in minder bevoorregte posisies nie so bekommerd is dat hulle die siekte gaan opdoen nie, help dit verklaar waarom so baie van die brandpunte vir Covid-19-verspreiding armer woongebiede is waar mense juis nader aan mekaar woon en openbare vervoer gebruik.

Dis volgens navorsers ’n dubbele probleem. Aan die een kant reken te veel mense in arm woonbuurte hulle is veilig en doen daarom nie die basiese dinge wat hulle kan doen om verspreiding te voorkom nie. Aan die ander kant is dit, ongeag hul ingesteldheid, juis moeilik om die beste voorkomende maatreëls – soos sosiale distansiëring en ontsmetting – toe te pas.

Hoe waarskynlik is dit dat ek Covid-19 gaan opdoen?

Die navorsers het die getal aangemelde gevalle per 100 000 van ’n kategorie mense (byvoorbeeld mense van ’n bepaalde ouderdom of geslag) vergelyk met die vrees vir Covid-19 onder mense van dié kategorie wat aan die peiling deelgeneem het.

Dis belangrik aangesien die navorsers bewys dat mense se optrede met hul persepsie van risiko verband hou.

Mense van 40 tot 54 jaar oud het hul risiko om die virus op te doen die meeste onderskat, terwyl mense van 75 tot 79 jaar oud hul risiko om die virus op te doen meer as dubbeld oorskat het.

Ouer mense oorskat hul risiko om die virus op te doen, maar die navorsers sê dis waarskynlik omdat hulle bewus is daarvan dat die risiko vir komplikasies indien hulle dit sou opdoen soveel hoër is.

Onkunde oor Covid-19-simptome

Tesame met die feit dat baie mense dalk nie so bekommerd is daaroor dat hulle die siekte gaan opdoen as wat hulle moet wees nie, is mense nie so bewus van die belangrikste simptome as wat gesondheidskenners sou wou hê nie.

’n Hele 8% van mense kon nie een simptoom van Covid-19 opnoem nie. Net 6% van mense kon al drie die algemeenste simptome vir Covid-19 identifiseer, naamlik hoes, koors en moegheid.

Toe respondente gevra is wat hulle dink die simptome is, kon 64% hoes lys en 63% koors, maar net 11% moegheid.

“Dit impliseer dat baie Suid-Afrikaners nie in ’n goeie posisie sal wees om besluite te neem oor wanneer om in isolasie te gaan en/of sorg vir Covid-19-simptome te kry nie. Dit gaan na verwagting negatiewe uitwerkings op individue hê, maar ook meer breedweg vir die samelewing omdat dit beteken die siekte word nie beperk nie.”

Selfs kommerwekkender is die feit dat die kennis van simptome en voldoening aan voorkomende gedrag nie enigsins hoër is onder hoërisikogroepe soos bejaardes en mense met chroniese gesondheidstoestande nie.

Waar kry mense inligting oor Covid-19?

Die bron wat die meeste mense (80%) met vertroue gebruik, is nuusmedia, insluitend radio- en TV-stasies, koerante en die internet. Die regering (14%), sosiale media (14%) en gesprekke met gesondheidswerkers (11%) is ook onder die bronne wat mense vertrou.

Interessant genoeg is dit mense wat op gesondheidswerkers, sosiale media en regeringsbronne staatmaak wat meer akkuraat kan antwoord oor die simptome van Covid-19 en wat meer geneig is om die doeltreffendste voorkomingsmaatreëls (distansiëring, maskers, tuisbly) te volg as mense wat net op die nuusmedia staatmaak.

Aanbevelings

Die navorsers se aanbevelings vir die regering is:

  • Kommunikeer duidelik, bondig en konsekwent.
  • Gee spesifieke en uitvoerbare aanbevelings oor voorkomende gedrag – met die fokus op die dra van maskers en fisieke distansiëring.
  • Gebruik die media doeltreffender om inligting oor te dra.
  • Maak meer staat op staatsamptenare en gesondheidswerkers as ’n betroubare bron van inligting.
  • Verskaf maskers gratis om massagebruik daarvan te verseker.
  • Herstruktureer die lewering van dienste om fisieke distansiëring te bevorder.
  • Maak gebruik van “voorvegters” – leiers in woonbuurte – om sosiale norme te verander.
  • Anker boodskappe in hoop en ’n positiewe visie vir die toekoms.

    

Oor die studie

Die National Income Dynamics Study (Nids) Coronavirus Rapid Mobile Survey (Cram), oftewel Nids-Cram, is die grootste nie-mediese navorsingsprojek oor Covid-19 tot nog toe. Dit word deur ’n konsortium van meer as 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite gedoen.

Meer as 7 000 mense is in telefoniese onderhoude van 20 minute lank oor aspekte soos werk, honger in hul huishouding, migrasie, staatstoelaes en hul persepsies en gedrag met betrekking tot Covid-19 uitgevra. Die oproepe is deur 50 oproepsentrumagente gedoen wat in tien tale kon werk.

Die navorsers gaan tot Desember vanjaar minstens vyf fases van die navorsing uitreik. Fase 1 se navorsing is Woensdag uitgereik.

Die eerste fase se peiling is van 7 Mei tot 27 Junie gedoen. Dit het mense uitgevra oor die tyd van Februarie tot April, met veral April wat besonder moeilik was gegewe dat die land toe die strengste vlak van inperking beleef het.

Nids is ’n afsonderlike studie wat vantevore deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad in opdrag van die regering gedoen is. Nids-Cram peil dieselfde groep individue, wat só saamgestel is dat dit die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.