Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Net 75 000 kry hul werk terug in 3de kwartaal

Net 75 000 van die 648 000 mense wat in die tweede kwartaal hul werk in die formele sektor verloor het, kon in die derde kwartaal weer in dié sektor werk kry.

Die formele sektor het nie in die derde kwartaal baie mense aangestel nie, al is die inperkingsregulasies ligter. Illustrasie: iStock

Dis ’n styging van slegs 0,8%, toon Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) vir die derde kwartaal.

Dis ondanks die feit dat die ekonomie in die derde kwartaal baie oper was as in die tweede kwartaal, met die meeste ondernemings wat kon sake doen, hoewel onderhewig aan heelwat inperkingsregulasies.

Tussen September 2019 en September 2020 het die formele sektor 616 000 minder mense in sy diens gehad, ’n daling van 6%.

Altesame 9 548 000 mense werk nou in die formele sektor.

Ondernemings wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is, word in die QES gemeet.

Tussen die tweede en derde kwartaal het vyf uit die agt bedrywe mense aangestel. Die grootste styging volgens persentasie was by konstruksie (4,9% oftewel 24 000 mense), maar die grootste styging volgens aantal mense was vir handel (1,5% oftewel 31 000 mense). Dit weerspieël die heraanstelling van werknemers soos winkels weer hul deure kon heropen.

Die drie bedrywe wat op ’n kwartaalgrondslag nóg poste afgeskryf het, was mynbou (-2 000 oftewel -0,4%), vervoer (-5 000 oftewel -1,1%) en finansiële dienste (-7 000 of -0,3%).

Van jaar tot jaar het alle bedrywe werk afgeskryf. Die grootste daling in persentasie was die 13,5% minder mense (oftewel 80 000) wat in konstruksie gewerk het. In getalle was die grootste dalings vir finansiële dienste, waar 163 000 mense (-7%) hul werk kwyt is, en handel, waar 162 000 werknemers verminder is (-7,1%).

Die syfers van SSA se peiling oor werkloosheid, die kwartaallikse indiensnemingspeiling (QLFS), het daarop gedui dat 1,7 miljoen poste in die derde kwartaal verlore gegaan het teenoor ’n jaar gelede. Die QLFS sluit egter ook private huishoudings, die landbou en informele sektor in.

Die land se amptelike werkloosheidskoers is nou 30,8%.

Verskil tussen QES en QLFS

Die QES beeld altyd ’n effens meer optimistiese beeld van werkskepping uit as die kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) omdat dit slegs gedoen word onder maatskappye in die formele sektor wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is en ’n omset van meer as R300 000 per jaar het.

Die QLFS kyk ook na die informele sektor, landbou en indiensneming in private huishoudings.

In die QLFS word individue gevra waar hulle werk en, indien hulle nie werk nie, waarom nie en of hulle werk soek. In die QES word BTW-geregistreerde ondernemings gevra om te sê hoeveel werknemers hulle het.

Die QLFS is beperk tot werkers van 15 tot 64 jaar oud, maar die QES vra nie mense se ouderdom nie.

Die QLFS tel elke persoon net een keer, selfs al het hulle meer as een werk. In die QES kan daar herhaling wees omdat verskillende ondernemings dalk dieselfde persoon op hul betaalstaat het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.