Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Net kwessie van tyd’ of nóg ’n Knysna-ramp tref SA
Die Knysna Koppe.

Dis net ’n kwessie van tyd dat nog ’n ramp soos die Knysna-brande in Suid-Afrika gebeur, waarsku navorsers oor dié ramp.

Daar is gapings in die opleiding van brandbestryders oor hoe om bosbrande te bestry, asook in voorvalbeheer, ontruiming en reaksiebeplanning.

Dit is van die kritieke bevindings in die navorsingsverslag oor die Knysna-brande van 2017.

Santam, die WNNR, die Navorsingsalliansie vir Ramp- en risikovermindering (Radar) en die Universiteit Stellenbosch (US) se navorsingseenheid oor brand-ingenieurswese het Donderdag ’n verslag bekend gestel oor dié ramp wat tot meer as R2 miljard se versekeringseise gelei het.

Sewe mense is dood en byna 1 000 gesinne het hul huise verloor in die brande wat as die ergste bosbrand-ramp in Suid-Afrika se geskiedenis beskou word.

Van die belangrikste aanbevelings in die verslag is dat:

  • brandbare plantegroei en ander materiaal bestuur en beheer moet word;
  • aanmelding van brande opgevolg moet word, al lyk dit nie aanvanklik bedreigend nie;
  • groter fokus op openbare bewusmaking en programme oor die risiko van bos- en veldbrande nodig is.

John Mellville, risikohoof van Santam, sê Santam het in 2017 meer as dubbel die ramp-eise gekry as wat ooit in sy geskiedenis gekry is. Ander versekeraars het ook aangedui dit was die hoogste aantal ramp-eise ooit in die wêreld wat hulle daardie jaar ontvang het. Santam moes sowat R700 miljoen se eise uitbetaal vir die Knysna-brande, benewens sowat ’n R1 miljard se eise vir vloedskade in dieselfde jaar in KwaZulu-Natal.

Dr. Richard Walls van die US sê sowat 19 000 hektaar is vernietig en opruimingswerk het vir weke daarna voortgeduur.

Die samelopende omstandighede wat tot die brande bygedra het was die voorafgaande droogte, baie warm en droë toestande in die tyd en die konsentrasie van huise in hoë-risiko-gebiede.

Sewe mense is dood en byna 1 000 gesinne het hul huise verloor in die brande wat as die ergste bosbrand-ramp in Suid-Afrika se geskiedenis beskou word.

Walls het daarop gewys dat brande in fynbosgebiede wel nodig is en kan nie altyd verhoed word nie. Maar bevolkings neem toe in gebiede waar stedelike areas nader aan bos- en veldgebiede kom.

Die ekonomiese koste van die brande in Knysna was minstens R3,3 miljard, en sluit die verliese uit vir mense wat huise, ondernemings, en hul werk verloor het, sê Walls.

Hy het verduidelik hoe die brande by drie punte ontstaan het. Die een brand het op 7 Junie om 03:30 by Kruisfontein tussen Knysna en Plettenbergbaai ontstaan. Nog ’n brand by Elandskraal wes van Knysna, wat al sedert 22 Maart gesmeul het, het op 7 Junie omstreeks 05:00 opgevlam.

Dan was daar ook brande naby die Knysna Koppe.

Walls sê van die brande het baie vinnig versprei weens sterk winde. Die brande het op verskillende maniere versprei, soos brandende plantegroei wat met so ver as 2,6 km op ’n slag weens wind gespring het, die verspreiding van die brand van een brandende struktuur na ’n ander, en die verspreiding van die brand deur plantegroei op die grond.

Walls sê die brandbare plantegroei in die gebied was baie dig, en bergagtige gebiede het bestryding baie bemoeilik.

In totaal is 929 huise of geboue vernietig of erg beskadig. Daarby is 137 strukture beskadig. Dit word aansienlik onderskat, meen Walls.

Soortgelyke wegholbrandtoestande is in baie gebiede in Suid-Afrika teenwoordig.

As niks verander nie, is sulke mega-brande onafwendbaar, veral weens droogte en klimaatsverandering, waarsku Walls.

Die vermoë om sulke groot bos- en veldbrande te bestry moet verbeter word, sê hy.

Tot 74% van die huise wat afgebrand het, het plantegroei tot teenaan die huis gehad. Walls meen dus mense kan baie doen om die “oorleefbaarheid” van hul huise in brande te verbeter. Dit word bepaal deur watter brandbare materiaal binne 30 m van ’n huis is.

Walls het gewys hoe baie huispersele in Knysna nou nog nie herbou nie.

Hy het gewys op die impak en gebruik van sosiale media om tydens die brand inligting te versprei. Mense het Facebook gebruik om te bepaal waar die brande is en wie moet ontruim. Twitter is weer benut om ná die tyd verligting en hulpverlening te koördineer.

Meer oor:  Santam  |  Brande  |  Ekonomie  |  Brandbestryding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.