Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nét Wes-Kaap se werkloosheid daal

Slegs een uit die nege provinsies het in die tweede kwartaal ’n laer werkloosheidskoers gehad as ’n jaar gelede: die Wes-Kaap, met ’n koers van 20,4%. Dit is ook die laagste werkloosheid ná Limpopo se 20,3%.

Blomme in die Postberg-reservaat in die Weskus Nasionale Park naby Langebaan. Toerisme, landbou en finansiële dienste is onder die groot werkverskaffers in die Wes-Kaap. Foto: Eben Human

Maar selfs dié provinsie se werkloosheidskoers het tussen die eerste en tweede kwartaal van 2019 toegeneem, met 0,9 van ’n persentasiepunt.

Deidré Baartman, lid van die provinsiale wetgewer, sê dis wel kommerwekkend dat daar ’n effense kwartaal-tot-kwartaal-styging in Wes-Kaapse werkloosheid is.

“Die Wes-Kaapse ekonomie is nie immuun teen die uitdagings wat ons land moet trotseer of die uitwerking van die ernstige wanbestuur van die nasionale ekonomie en die nasionale fiskus onder die ANC nie, wat steeds verwoesting saai met Suid-Afrika se groeivooruitsigte.”

Dit blyk uit die kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die tweede kwartaal wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag uitgereik het. Volgens dié peiling is werkloosheid landwyd nou die hoogste nóg, op 29%, en uitgebreide werkloosheid is vir die derde kwartaal in ’n ry op ’n rekord, dié keer van 38,5%.

Van kwartaal tot kwartaal het slegs twee provinsies werkloosheid verminder.

  • Die Oos-Kaap se werkloosheidskoers het met 2% gedaal, maar dis steeds die provinsie met die hoogste amptelike koers van 35,4%.
  • Die Vrystaat se werkloosheidskoers het met 0,5% gedaal en is nou 34,4%, die derde hoogste van die nege provinsies. Die Vrystaat was in die vorige kwartaal die provinsie met die tweede hoogste werkloosheidskoers.

Die skerpste styging in werkloosheid, op ’n kwartaalgrondslag gemeet, is in Noordwes, waar die koers met 6,6 persentasiepunte tot 33% gestyg het. In die Noord-Kaap het werkloosheid met 3,4 persentasiepunte tot 29,4% gestyg.

Die kleinste styging in werkloosheid is die 0,5 van ’n persentasiepunt tot 34,7% in Mpumalanga.

Die provinsies met die laagste werkloosheidskoers is Limpopo (20,3%) en die Wes-Kaap (20,4%).

Uitgebreide werkloosheid styg deur die bank

As dit kom by uitgebreide werkloosheid, is nie ’n enkele provinsie beter daaraan toe as ’n jaar gelede nie. Uitgebreide werkloosheid sluit mense in wat nie meer aktief werk soek nie, onder meer omdat hulle moed verloor het dat hulle werk gaan kry.

Die Wes-Kaap bly die provinsie met die laagste uitgebreide werkloosheidskoers, van 23,8%, maar dis 0,6 van ’n persentasiepunt hoër as ’n jaar gelede.

Uitgebreide werkloosheid het die skerpste gestyg in Noordwes, met 3,2 persentasiepunte, wat dié provinsie tot boaan dié ranglys skuif met uitgebreide werkloosheid van 46,6%.

werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.