Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nobel-ekonoom wys hoekom ons swak geldbesluite neem
Prof. Richard Thaler op die nuuskonferensie by die Universiteit van Chicago waarop aangekondig is hy het vanjaar die Nobelprys in ekonomiese wetenskappe ontvang. Foto: Paul Beaty, AP

Waarom spaar die meeste mense nie genoeg vir aftrede nie? En waarom hou ons nie by ons Nuwejaarsvoornemens nie?

Een van die belangrikste redes is dat ons besluite vereenvoudig deur in ons kop afsonderlike “rekeninge” te skep en nie die uitwerking van elke individuele besluit op ons langtermynplan in ag neem nie.

Mense swig maklik voor versoekings en vergeet dat daardie nuwe paar skoene of restaurantete minder geld beteken wat hulle op lang termyn kan spaar, of daardie stukkie koek jou dieet omver kan gooi.

Jare se navorsing oor waarom mense sekere ekonomiese en leefstylbesluite neem, al is dit nie rasioneel of in hul beste belang nie, het prof. Richard Thaler (72) die Nobelprys in ekonomiese wetenskappe besorg.

Thaler, verbonde aan die Universiteit van Chicago, is een van die pioniers in die veld van gedragsekonomie. Thaler se werk het bewys dat mense nie altyd rasionele besluite neem, soos wat klassieke ekonome aanvaar het nie.

“Dat ons swig voor korttermynversoeking is ’n belangrike rede waarom ons planne om vir ons oudag of gesonder leefstylkeuses dikwels misluk,” sê die Nobelkomitee in sy nuusverklaring oor waarom Thaler die toekenning ontvang het.

Thaler het aan The Telegraph gesê hy reken sy belangrikste bydrae tot die ekonomie is “die erkenning dat ekonomiese agente mense is, en dat ekonomiese modelle dit in berekening moet bring”.

Thaler was egter nie net tevrede om die fenomeen van irrasionele besluitneming uit te lig nie – hy het ook met ’n oplossing vorendag gekom. Hy het die begrip van “nudging” ontwikkel – maniere waarop mense sagkens aangespoor kan word om die regte besluite te neem.

Thaler het verskeie boeke oor die onderwerp geskryf, onder meer The Winner’s Curse (1992); saam met Cass Sunstein Nudge: Improving Decisions About Health, Wealth, and Happiness (2009); en Misbehaving: The Making of Behavioral Economics (2015).

Hy het ook ’n batebestuursfirma, Fuller & Thaler Asset Management, op die been gebring wat van die beginsels probeer toepas.

The Economist berig Thaler het die Britse regering geadviseer oor hoe mense aangemoedig kan word om beter keuses te doen. Dit het tot die stigting van die Behavioural Insights Team gelei. Dié staatsentiteit is intussen in ’n deels geprivatiseerde maatskappy omgeskep.

Thaler het ook informeel vir pres. Barack Obama van die VSA geadviseer.

Bronne: The Economist, Wikipedia, Nobelprize.org, The Telegraph

Meer oor:  Begroting  |  Nobelprys  |  Besteding  |  Finansiële Beplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.