Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nog geen nuus oor inperking ná 16 April
blytuis
Die weermag is ontplooi om te kyk dat gehoor gegee word aan die inperking-regulasies. Dié padblokkade is in Woodstock, Kaapstad, gehou. Foto: Jaco Marais

Die regering kan nog glad nie sê wat op 17 April gaan gebeur nie, maar een ding is seker: Die oorlog teen Covid-19 sal nie dan al verby wees nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Vrydag op die daaglikse nuuskonferensie oor die staat van inperking gesê ongeag of die inperking van 21 dae opgehef word, sal dit nie beteken die virussiekte is oorwin nie.

Die besluit oor die inperking kan nie nou al geneem word nie, het hy gesê. Die inperking het op 26 Maart om middernag in werking getree en is vir eers ingestel tot 16 April om middernag.

Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, het ook gesê mense moenie houtgerus wees en dink die afplatting in nuwe gevalle die afgelope paar dae beteken die land is buite gevaar nie.

Byna al die ministers op die virtuele nuuskonferensie het wetsgehoorsame Suid-Afrikaners vir hul opofferings bedank, maar ook gepleit dat mense wel die regulasies van die staat van inperking gehoorsaam.

LEES OOK: Vurige Fikile pleit dat mense regulasies gehoorsaam

Mbalula het die inperking as ’n soort “eksamen” beskryf wat Suid-Afrikaners se wetsgehoorsaamheid toets. Hy het gesê Suid-Afrika is ’n nasie wat gewoond is om die wet te oortree – soos die feit dat mense dronk bestuur, al weet hulle hulle mag nie.

Geen verwysing is op die nuuskonferensie gemaak na die verslapping van die regulasie teen die verkoop van sigarette nie.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het wel aangekondig dat vissers nou tussen provinsies mag reis terwyl die snoek loop. Hulle moet egter steeds saans in hul eie huis slaap omdat verblyfplekke nié oopgemaak sal word nie.

Nog ’n vergunning is dat taxi’s en busse vanaf Saterdag soggens van 05:00 tot 10:00 (eerder as 09:00) noodsaaklike werkers sal mag vervoer. Saans is dit van 16:00 tot 21:00. Die perk op busse en taxi’s het wel nie die afgelope week gegeld nie sodat mense hul maatskaplike toelaes kon gaan haal, maar dié vergunning eindig Vrydagaand om 20:00.

Taxi’s mag nou 70% vol wees, pleks van die 50% wat voorheen aangekondig is.

Verskeie ministers het verwys na die armoede, verliese en ekonomiese probleme wat deur die inperking veroorsaak word en het verseker die staat staan nie onverskillig daarteenoor nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.