Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gaan Reserwebank se adjunk dalk Absa toe?

Daniel Mminele, een van die Reserwebank se adjunkpresidente, gaan aftree wanneer sy tweede vyfjaartermyn op 30 Junie ten einde loop. Hy is slegs 54 jaar oud.

Daniel Mminele, adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: Lisa Hnatowicz

Mminele het volgens ’n verklaring deur die Reserwebank aan pres. Cyril Ramaphosa en die sentrale bank se direksie aangedui hy wil nie nog ’n termyn dien nie.

Mminele wil geen onderhoud oor sy uittrede toestaan nie, het die Reserwebank bevestig. 

Niks is oor sy toekomsplanne bekend gemaak nie.

Daar word die afgelope ruk bespiegel dat Mminele Absa se uitvoerende hoof kan word. Mminele moet ingevolge sy dienskontrak met die Reserwebank voldoen aan ’n afkoeltydperk van ses maande waartydens hy nie elders mag werk die sonder uitdruklike goedkeuring van die Reserwebank se direksie nie, het die Reserwebank aan Netwerk24 bevestig.

Hy ontvang in dié tyd steeds sy Reserwebank-salaris.

Indien hy dus geoormerk is vir ’n pos by Absa, sal dit nie voor Januarie 2020 wees nie.

Dit stem presies ooreen met die tyd waarin René van Wyk as uitvoerende hoof van Absa gaan dien. Songezo Zibi, kommunikasiehoof van Absa, het aan Netwerk24 bevestig dat Van Wyk tot 31 Desember vanjaar as uitvoerende hoof sal waarneem. Hy beklee die pos sedert 1 Maart.

Zibi sê Absa sal in Augustus, wanneer die bank sy halfjaarresultate uitreik, aankondig wie sy nuwe uitvoerende hoof is.

Maria Ramos het einde Januarie onverwags aangekondig dat sy as uitvoerende hoof van Absa afgetree. Sy is 60 jaar oud.

LEES OOK: Absa se 2 jaar lange houvas op Ramos

Mminele, wat die afgelope paar jaar respek opgedwing het vir sy vaardige kommunikasie van monetêre beleid, het byna 20 jaar diens by die Reserwebank, tien jaar daarvan as adjunkpresident. Hy het op 6 September 1999 by die bank begin werk en is in 2009 as adjunkpresident aangestel.

Hy was voorheen onder meer hoof van die bank se afdeling vir internasionale banksake en hoof van finansiële markte.

Die Reserwebank loof Mminele vir sy diens, toewyding en groot bydrae tot die Reserwebank se werk.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, sê Mminele het ’n “onuitwisbare merk op dié voortreflike instelling en sy bydrae tot die bank was van onskatbare waarde”.

Die proses om Mminele se opvolger aan te wys, lê in Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, se hande. Die Reserwebank se direksie maak wel aanbevelings.

Mminele se aftrede beteken twee poste vir adjunkpresidente is nou vakant. Francois Groepe het in Januarie bedank.

Die derde adjunkpresident is Kuben Naidoo, wat uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid is. Dis die liggaam wat toesig hou oor finansiële maatskappye. Kuben was voorheen die registrateur van banke.

Kganyago se eerste termyn verstryk in November. Hy het voorheen gesê hy is bereid om die land verder te dien, maar dis in Ramaphosa se hande.

Ekonome het selfs vóór Mminele se bedanking kommer uitgespreek oor die vakatures en die stilte oor Kganyago se pos.

LEES OOK: Dié vakante poste by Reserwebank kwel ekonome

Die bedanking kom op ’n tydstip wat die Reserwebank ’n ongekende aanslag op sy rol beleef. Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, het onlangs gesê die Reserwebank se mandaat moet verander word, waarna pres. Cyril Ramaphosa verseker het die sentrale bank se onafhanklikheid sal gerespekteer word.

LEES OOK: Reserwebank sal onafhanklik bly – Ramaphosa 

In 2017 het die Reserwebank Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, in die hof uitgedaag toe sy haar met die sentrale bank se mandaat bemoei het.

Meer oor:  Daniel Mminele  |  Reserwebank  |  Monetêre Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.