Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nog ’n Vrydag, nog ’n kredietbesluit lê voor!

Dis nie die soort ding waaroor enigeen houtgerus is nie. As Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) Suid-Afrika Vrydagaand afgradeer, is die land op die baie swak C-gradering, minstens vir staatseffekte wat in buitelandse geldeenhede uitgereik word.

Standard & Poor's se kantoor in New York. Foto: Reuters

Maar in die algemeen is die gevoel dat dit nie nou reeds gaan gebeur nie.

Daar is ’n verwagting dat die agentskap, soos Moody’s Investors Service verlede week gedoen het, dalk gaan besluit om nie nou ’n gradering te doen nie. Die datums vir graderingsbesluite beteken nie ’n gradering móét gedoen word nie.

Die agentskap kan ook besluit om die gradering onveranderd te hou, wat dieselfde uitwerking het.

Nog ’n moontlikheid is dat die gradering onveranderd gelaat word, maar die vooruitsig vir die gradering van “stabiel” na “negatief” verander word. Dis gewoonlik die eerste stap wanneer ’n land se geldsake agteruitgaan.

Annabel Bishop, Investec-ekonoom, beskou dit egter as ’n “uiters geringe kans”.

S&P is die enigste van die drie groot gradeerders wat nog ’n stabiele vooruitsig het vir Suid-Afrika se kredietgradering.

S&P se gradering vir staatseffekte in rand is twee vlakke onder beleggingsgraad, maar ook nog twee vlakke bo die C-gradering. Staatseffekte in buitelandse geldeenhede is drie vlakke onder beleggingsgraad en dus net een stap bo C-vlak.

Die Nedbank-ekonoom Isaac Matshego het vroeër gesê agentskappe sal “huiwerig wees om ’n land met betreklik soliede institusionele beheer en diep plaaslike finansiële markte” tot die C-vlak af te gradeer. Hy reken dié faktor kan afgraderings met minstens ’n jaar uitstel.

Sowel Moody’s as Fitch Ratings gradeer alle staatseffekte twee vlakke onder beleggingsgraad en dus nog twee vlakke bo die C-gradering.

’n Afgradering sal die rente wat die staat op sy skuld betaal, laat styg. Dit kan dit moeilik maak om skuldvlakke relatief tot die bruto binnelandse produk in toom te hou.

Kommer oor Suid-Afrika se kredietgradering kan meer oorsese beleggers ook laat onttrek, wat die rand sal laat verswak.

’n Swakker rand kan ’n bose siklus op tou sit – duurder brandstof, hoër inflasie en rentekoerse wat vinniger of skerper styg.

Met ’n negatiewe vooruitsig bly die risiko van ’n afgradering hoog wanneer die agentskappe weer in November oor Suid-Afrika besluit.

Alle oë bly steeds op die loononderhandelinge in die staatsdiens. Tito Mboweni, minister van finansies, se begroting steun sterk daarop dat verhogings beperk moet word oor die volgende drie jaar.

Bishop sê die uiteinde van die loononderhandelinge is baie belangrik.

“Ons reken egter nie die tesourie sal toegee aan vakbonde se eise en die plan vir fiskale konsolidasie wat in die Februarie-begroting uitgestippel is, laat ontspoor nie.”

As die staat ferm bly, kan die vooruitsig vir Suid-Afrika se kredietgradering selfs later vanjaar verbeter.

LEES OOK: Staat se lone: EFF sê daar’s tonne geld

Lucie Villa, Moody’s se hoofontleder vir Suid-Afrika, het net ná die begrotingsrede in Februarie gewaarsku Suid-Afrika wankel op ’n fiskale afgrond. Staatskuld, Eskom se skuld, staatsamptenare se salariseise en trae ekonomiese groei, ook in die lig van die Covid-19-pandemie, bly die faktore wat die risiko verhoog dat Suid-Afrika agterstallig kan raak met die afbetaling van sy skuld – effektiewelik wat die kredietgradering beteken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.