Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Nog te vroeg om te sê’ oor hoër rentekoers
Daniel Mminele, Daniel Mminele, een van die adjunkpresidente van die Reserwebank.

Die Reserwebank sal hou by sy mandaat, naamlik om inflasie in toom te probeer hou.

Dit is egter nog te vroeg om enige “vaste gevolgtrekking” te maak oor hoe die afgradering van staatskuld die inflasievooruitsig gaan raak.

Só het Daniel Mminele, een van die adjunkpresidente van die Reserwebank, Dinsdagaand op ’n geselligheid van die bank se afdeling vir finansiële markte gesê.

As die inflasieverwagting verswak, kan die Reserwebank dit oorweeg om die rentekoers te verhoog. Die bank probeer die inflasie 12 tot 18 maande vooruit voorspel.

Mminele sê Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) se afgradering is ’n “ernstige terugslag” vir Suid-Afrika.

“Ons sal nou ons pogings moet verskerp om versekering te verskaf en ons voortgesette verbintenis tot gesonde makro-ekonomiese beleid en hul konsekwente en voorspelbare inwerkingstelling moet oordra, sodat ons die huidige kredietgraderingskoers kan omdraai.

“Dit sal voortgesette samewerking tussen die regering, sake en arbeid verg om plaaslike en internasionale beleggersvertroue ’n hupstoot te gee.”

Dit volg op S&P se besluit Maandagaand om staatskuld met een vlak af te gradeer, wat effekte in buitelandse geldeenhede op niebeleggingsgraad, oftewel rommelstatus, te staan gebring het. Staatskuld in rand is tot net een vlak bo rommel afgegradeer.

Fitch Ratings kan so gou as Vrydag besluit oor sy graderings, wat albei op die laagste beleggingsgraad is. Die derde groot kredietgradeerder, Moody’s Investors Service, het Dinsdag aangekondig hy gaan oor tussen 30 en 90 dae sy besluit aankondig. Moody’s gradeer staatskuld op twee vlakke bo rommel.

Pessimistiese ontleders voorspel dat die rand skerp gaan verswak, inflasie skerp gaan styg en die rentekoers weer gaan styg tot 25%, soos in die laat 1990’s. Nie almal stem egter met dié baie droefgeestige siening saam nie.

Beleidsdilemma

Mminele sê sentrale banke wêreldwyd het tans ’n groot beleidsdilemma. Groot onsekerheid oor staatsbeleid heers, wat “stamperige ritte” op wêreldwye finansiële markte kan meebring, insluitende op aandele- en effektemarkte.

Die Reserwebank besluit tweemaandeliks oor die rentekoers en die volgende besluit word eers in Mei verwag. Die bank se monetêrebeleidskomitee kan wel ’n noodvergadering hou indien ’n dramatiese wending plaasvind, maar ’n tussentydse rentekoersbesluit is hoogs onwaarskynlik.

In Maart het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, gewys op al die faktore wat inflasie laat taan het. Hy het toe heel optimisties geklink en herhaal dat die bank reken die boonste draaipunt van die rentekoers is bereik.

Daar was egter ook ’n waarskuwing dat die faktore wat inflasie bepaal, maklik kan omkeer.

Later dieselfde dag het pres. Jacob Zuma die kabinet geskommel en onder meer vir Pravin Gordhan, minister van finansies, en sy adjunk, Mcebisi Jonas, afgedank, wat tot die S&P-afgradering aanleiding gegee het.

Meer oor:  Fitch  |  Standard & Poor's  |  Daniel Mminele  |  Rommelstatus  |  Rentekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.