Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nomura positief oor rand, R13 teenoor dollar wink
Sedert die einde van verlede jaar het die rand se waarde nege keer in redelike kort tydperke met meer as 5% teenoor die VSA-dollar gestyg of gedaal.

Nhlanhla Nene is in drie jaar twee keer uit Suid-Afrika se kabinet weg, en sy teëspoed was die katalisator om een van die grootste rand-bere in een van die grootste rand-bulle te verander.

Die Japanse bankgroep Nomura glo nou die rand kan oor die volgende ses maande tot so laag as R13 teenoor die dollar versterk, terwyl hy in Januarie 2016 nog voorspel het dat die rand tot R19 kan verswak.

Namate die rand vandeesweek verswak het te midde van die gissings oor Nene se bedanking as minister van finansies het Nomura aanbeveel dat beleggers ’n langposisie in rand teenoor die dollar inneem.

Hy het rand gekoop op R14,85 en teiken ’n vlak van in die lae R13 teenoor die dollar oor ses maande.

Dit is teenoor die mediaan-vooruitskatting van ’n wisselkoers van R15,14 teenoor die dollar onder 24 ontleders deur Bloomberg, wat Nomura onder die vier positiefste voorspellers oor die rand plaas.

Dit is ’n skerp ommekeer van Januarie 2016 toe Nomura voorspel het die rand kan van R16 tot R19 verswak nadat oudpres. Jacob Zuma in Desember 2015 vir Nene afgedank het.

Die meeste ontleders in Bloomberg se peiling het destyds ’n vlak van R15,30 teenoor die dollar voorspel, wat Nomura die negatiefste voorspeller sou maak.

Nomura het Nene se afdanking in Desember 2015 as ’n erger risiko-skok as die finansiële krisis van 2008 beskryf. Maar Nomura meen sy bedanking sal hierdie keer ’n minimale uitwerking op die markte hê, en kan selfs eerder ’n positiewe sein wees dat die regering nie meer korrupsie sal duld nie.

’n Volgehoue handelsoorskot en ’n sentrale bank wat versigtig is om rentekoerse te verlaag sal die rand steun, skryf Nomura in ’n navorsingsnota.

Nomura sê die handelsbalans het aansienlik verbeter danksy die swakker rand sedert Nene die vorige keer uit die kabinet geskuif is, wat die rand baie mededingend maak.

Die feit dat Nene hierdie keer weg is sonder om skuldig bevind te word aan iets wat hy verkeerd gedoen het, wys dat die verdraagsaamheid vir korrupsie veel laer is as wat dit in die verlede was, sê die Nomura-ontleder Henrik Gullberg in die navorsingsnota.

Nomura se sienings is egter in stryd met dié van ander internasionale banke soos Morgan Stanley en Deutsche Bank wat aanbeveel het dat beleggers kortverkope op die rand moet aangaan.

Nomura se posisie het egter reeds vrugte afgewerp danksy die verstewiging van die rand sedert Tito Mboweni in Nene se plek aangestel is.

Die rand was Donderdagmiddag 1% sterker op R14,60.

Die rand het in 2015 met 25% verswak en was op ’n rekordlaagtepunt in Desember daardie jaar. Vanjaar het die rand met 16% verswak weens onder meer stygende Amerikaanse rentekoerse en ’n sterker dollar, asook krisisse in Turkye en Argentinië wat die algemene sentiment jeens opkomende geldeenhede negatief laat draai het.

Gullberg meen die ergste is waarskynlik verby, solank die kredietgraderingsagentskap Moody’s Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd behou wanneer hy na verwagting Vrydag sy jongste beraming sal uitstuur. - Bloomberg

Meer oor:  Nomura  |  Tito Mboweni  |  Nhanhla Nene  |  Rand  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.