Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Noodlening van IMF dalk vir salarisse gebruik – Tito

Die noodlening van R70 miljard wat die Suid-Afrikaanse regering van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) ontvang het, kan dalk ingespan word om die salarisse van staatsamptenare te betaal.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 26: Minister of
Tito Mboweni, minister van finansies, en pres. Cyril Ramaphosa skud blad na afloop van Mboweni se begrotingsrede in Februarie vanjaar. Foto: Brenton Geach/Gallo Images via Getty Images

Die DA is reeds besig om vir Tito Mboweni, minister van finansies, hieroor te verklik by die IMF, want volgens die DA is salarisbetalings vir wat hy na verwys as “kaders”, buite die perke van wat die lening voor gebruik mag word.

“Deur toe te gee dat die IMF-lening gebruik kan word om salarisse te betaal, het Mboweni afstand gedoen van die bestedingsverpligtinge wat hy in sy brief van voorneme gemaak het om die finansiële steun te verkry onder die IMF se instrument vir noodfinansiering,” sê dr. Leon Schreiber, DA-LP, Vrydag in ’n verklaring.

“Dié brief het die regering daartoe verbind om die noodhulp van die IMF te gebruik om gesondheidsdienste aan die voorste linie te ondersteun, die betalingsbalansprobleme wat deur die pandemie veroorsaak is, op te los, die weerloses te beskerm, ekonomiese hervorming te ondersteun, werkskepping te dryf en staatskuld te stabiliseer.”

Daar word nié genoem dat staatsdienssalarisse daarmee betaal mag word nie.

Mboweni het in ’n geskrewe antwoord op die DA se vraag oor of die geld ($4,3 miljard) vir salarisse gebruik gaan word, gesê dit is moontlik.

Netwerk24 het die geskrewe antwoord onder oë gehad.

“Die leningsontvangste (of uitbetalings) sal dus deel uitmaak van die Nasionale Inkomstefonds wat gebruik word om bestaande regeringsprogramme te ondersteun, wat salarisbetalings kan insluit,” skryf die tesourie.

Maar die geld sal nie “spesifiek” vir salarisbetalings geoormerk word nie, sê die tesourie. Dit bly net ’n moontlikheid.

Die tesourie vaar in sy antwoord uit omdat daar volgens hom geen tegniese voorskrifte deur die IMF is oor hoe die geld bestee moet word nie.

Die DA noem egter dat in die brief van voorneme wat Mboweni onderteken het om die lening te bekom, daar geen sprake van salarisse was as een van die uitgawes wat die lening moet help dek nie.

Dit is dus volgens die DA oneg van Mboweni om nou só van koers te verander nadat die geld ontvang is.

Die DA skryf tans aan die IMF om hom hiervan in te lig.

“Hierdie skielike verandering deur Mboweni van sy toegewyde posisie van omsigtige openbare finansiële bestuur na skuld wat openbare besteding moet dryf, is skaars verbasend. Dit is nou openbare kennis dat sy kruistog oor ekonomiese hervorming deur sy kollegas in die kabinet volstrek verwerp is wat al herhaaldelik getoon het dat hulle deur onbelemmerde uitgawes Suid-Afrika oor die fiskale afgrond wil stuur,” sê Schreiber.

“Vir jare lank is die konsensus onder internasionale finansiële instellings, graderingsagentskappe, ekonome en selfs sommige in die tesourie self dat die land se openbare loonrekening onvolhoubaar geword het en dat dit gesny moet word om te verhoed dat die begroting uitblaas.

“Mboweni was aanvanklik ’n sterk voorstander van hierdie posisie, maar wil nou eerder die vakbonde paai deur aan hul eise voldoen deur ekstra besteding aan die loonrekening toe te ken.”

Tito Mboweni, minister van finansies, sê die IMF se noodlening aan Suid-Afrika kan dalk gebruik word om staatsamptenare se salarisse te betaal. Foto: Getty Images

In sy noodbegroting van Junie het Mboweni belowe om grootskaalse besnoeiings in besteding te bewerkstellig.

Die grootste probleem bly die salarisrekening van die staat.

In Junie is 58c uit elke rand se belastinginkomste bestee aan die salarisse vir staatsamptenare, sê die DA.

Volgens Nazmeera Moola, hoof van beleggings by NinetyOne, was die regering se belofte in Junie om besteding met R390 miljard te besnoei, slegs gebou op ’n vorige belofte in Februarie se begroting om toe al reeds besteding met R160 miljard oor drie jaar te besnoei.

Die belofte van Februarie sou hoofsaaklik gedryf geword het deur besnoeiings aan die salarisrekening van die staat.

R37 miljard sou volgens die plan reeds in 2020 gesny moes word, en dit was “klaar baie ambisieus”, sê Moola.

Maar om so ’n besnoeiing te kon bewerkstellig het dit beteken die regering moes teruggaan op sy driejaarooreenkoms met vakbonde in 2018 vir vaste salarisverhogings elke jaar.

Hierdie saak is tans in die hof, maar Moola reken dat al sal vordering gemaak word in November wanneer die saak aangehoor word, sal dit eers gefinaliseer word ná Februarie se begrotingsrede, wat beteken die gewensde besnoeiings sal nie betyds kan geskied nie.

Staatsamptenare is veronderstel om ingevolge die loonooreenkoms van 2018 (resolusie 1) die volgende verhogings in 2020 te kry:

  • Salarisvlak 1 - 7: inflasie plus 1%
  • Salarisvlak 8 - 10: inflasie plus 0,5%
  • Salarisvlak 11 - 12: volgens inflasiekoers

Selfs toe dié ooreenkoms gemaak is, was die loonrekening reeds “onbekostigbaar” sê Moola.

“Die groeiende aandeel van die lone in staatsuitgawes het die infrastruktuurbegroting alreeds in 2012 begin erodeer.

“Teen 2018 was die lone besig om die begroting vir nie-loonverbruiksartikels op te eet. Die provinsiale gesondheidsdepartemente het in die laaste maande van dié boekjaar gesukkel om hul verskaffers te betaal.

“Hierdie giftige bestedingsmengsel het beteken dat die regering ’n beperkte vermoë het om die anemiese langtermyn- ekonomiese groei van die ekonomie te verbeter,” sê Moola.

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Imf  |  Diens  |  Verhogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.