Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Noodstappe oor Covid-19 ‘nie genoeg’

Die vervaardigingsektor wat in Februarie met 2,1% gekrimp het teenoor ’n jaar gelede, word in die volgende paar maande deur nog uitdagings in die gesig gestaar - soos tekorte in die verskaffing van grondstowwe en beurtkrag - wat produksie en groei kan belemmer, waarsku ekonome.

Werkers in die Chinese vervaardiger Hisense se fabriek in Atlantis. Foto: Wikus de Wet

Thanda Sithole, ’n ekonoom by FNB, sê tussen 1 Januarie en 15 Maart het Suid-Afrika 17 dae van fase 2-beurtkrag gehad en twee dae van fase 3. Die vervaardigingsektor trek lank reeds swaar en het volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingsyfers in 2020 meer as 100 000 poste afgeskaf.

Volgens Sithole behoort ekonomiese herstel in die res van die wêreld die plaaslike vervaardigingsektor te steun deur uitvoer. Hoër insetkoste weens stygende oliepryse en grondstowwe kan egter produksievolume beperk.

In ’n onlangse verslag sê die konsultantgroep Deloitte weens die erge ekonomiese inkrimping van 7% in 2020 en onsekerheid oor die Covid-19-pandemie en die sukses van inentingsprogramme in die volgende paar maande, sal sekere ekonomiese sektore langer neem om te herstel en daar kan ’n groter behoefte wees aan regrukstrategieë en die herskikking van ondernemings.

Respondente wat met herskikking gemoeid is, het in ’n Deloitte-peiling gesê die hotel- en ontspanningsbedryf, kleinhandel en kommersiële eiendomme sal nog vanjaar swaarkry.

Sowat 90% van die respondente meen die regering se fiskale en monetêre reaksiemaat­reëls om die impak van Covid-19 te versag, was veral vir sakeondernemings ontoereikend.

Sowat 67% sê banke en finansiële instellings het die grootste steun aan die ekonomie gebied, sê Deloitte.

Sowat 27% van die respondente het aangedui betalingsvakansies was van die algemeenste stappe onder maatskappye om hul balansstaat en likiditeit te beskerm, terwyl sowat 20% elk bedryfskoste besnoei het (personeelvermindering ingesluit) en nienoodsaaklike kapitaalprojekte uitgestel het.

Laasgenoemde twee word gesien as stappe wat vinnig verligting bied, maar om bedryfskapitaal op die doeltreffendste manier te gebruik is meer volhoubaar, het die respondente aangedui. Nagenoeg 80% het gesê herskikkingsaktiwiteit het in 2020 toegeneem en 88% verwag dit sal vanjaar hoër wees as verlede jaar.

Volgens Deloitte sal dit na verwagting buite die formele proses van sakeredding wees, en eerder behels om niekernbates te verkoop (15% van respondente) en uittrede uit die mark deur te verkoop (15%, wat gedwonge samesmeltings en verkrygings verwag). Sowat 13% voorsien sakeredding en net 7% verwag insolvensie en bankrotskap.

Volgens Deloitte glo 94% van die respondente daar is ’n 50%- óf groter kans dat ’n onderneming suksesvol reggeruk kan word as advies oor herskikking ingewin word wanneer die rooi ligte begin flikker.

“Herskikking” het steeds ’n negatiewe konnotasie in die raadsaal en om dít en onderhandelings daaroor te vermy is vir baie ’n kwessie van trots, lui Deloitte se verslag. Meer as die helfte van die respondente glo bestuurspanne vermy dikwels ingrypings en wil bewys hulle kan hulself uit die moeilikheid kry.

Van die respondente meen onlangse sakereddingsprosesse by staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) het die gebruik van sakereddingspraktisyns by private ondernemings benadeel en talle glo só ’n proses kan nie slaag nie weens te veel gevestigde belange en met uiteenlopende doelwitte. Die meeste respondente beskryf ’n suksesvolle sakeredding as een waarin die onderneming solvent en likied met sake kan voortgaan, beter opbrengste vir krediteure lewer en poste beskerm.

Volgens Deloitte moet bepaalde doelwitte en prioriteite aan die begin van die proses uitgeklaar word. Meer as 80% beskou dit as baie belangrik dat die onderneming beskerm word en 56% meen die behoud van poste is belangrik.

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Sakeredding  |  Herstrukturering  |  Vervaardiging  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.