Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nou begin Cyril se harde werk binne die ANC...

Aanwysers oor werkloosheid, die bruto binnelandse produk (BBP) en armoede- en skuldvlakke toon ’n ekonomie in groot moeilikheid. Saam beskou met die dalende vlak van integriteit van die regering weens korrupsie, is dit duidelik die status quo het onhoudbaar geraak.

Daniel Silke

Iets sal moet verander.

Daar sal fundamentele strukturele en ideologiese skuiwe moet wees om die agteruitgang te stuit. Enigiets minder ingrypend sal die land blootstel aan verdere maatskaplike agteruitgang, ongelykheid vererger en – kommer­wek­kend – populistiese alternatiewe aanvuur.

Ekonome en die sakegemeenskap glo die goeie oorwinning deur die ANC – wat eintlik maar beskou word as ’n stem vir die Ramaphosa-faktor – sal die proses begin om vertroue en waardigheid te herstel en die pad voor te berei vir verstandige beleidsbesluite. ’n Stewige oorwinning vir pres. Cyril Ramaphosa behoort genoeg te wees vir ’n nuwe koers, maar die praktiese politiek in die ANC bly ’n hindernis vir ware verandering.

Om net oor politieke verandering te bly praat, sal nie genoeg wees nie. Beleidsoptrede is nou nodig. Maar in ’n steeds verdeelde ANC kan dit maklik gebeur dat Ramaphosa grondwetlike mag het, maar beperkte mag in sy eie party.

Die ANC sal iets moet doen aan die kwessie van staatsbeheerde maatskappye, veral Eskom. Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies (as hy weer in die kabinet is) is dalk effens voor die groter ANC se besluitnemingsliggame en lede wat betref hul siening om gedeeltelik afstand te doen van aandeelhouding in die verliesmakende reus.

Die ANC het in sy verkiesingsveldtog grootliks weggebly van dié kwessie af. Hy is weens die verdeeldheid daaroor te bang om reguit vir sy kiesers te sê dat nuwe denke nodig is oor die verhouding tussen die staat en staatsbeheerde entiteite (SBE’s).

Die onvermoë van die staat om die SBE’s te bestuur, lê aan die kern van die fiskale afgrond waarop Suid-Afrika staan.

Kan Ramaphosa die nodige ideologiese skuif teweegbring om die private sektor ’n groter rol te gee?

Net so het die kwessie van die nasionalisering van die Reserwebank min aandag gekry. Dit is sekerlik ’n ietwat esoteriese onderwerp vir kiesers wat meer besorg is oor brood-en-botter-sake, maar dit is ’n belangrike faktor in die herstel van beleggersvertroue in die binnelandse ekonomie. Weer eens is dit ’n saak wat die ANC verdeel.

Die derde groot kwessie is grondonteiening sonder vergoeding en die beplande verandering aan die Grondwet. Dis nogal verbasend dat dié saak so diep begrawe was in die verkiesingsveldtog. Dis duidelik dat die herstel van vertroue in die ekonomie sal afhang van duidelikheid oor verblyf- en eiendomsregte. Tog het Suid-Afrikaners tot vandag toe nie duidelikheid oor wat die regering se beleid hieroor gaan wees nie.

In die breë word verwag dat ’n Ramaphosa-regering in ’n groter mate toenadering tot die private sektor sal soek in ’n poging om beleggings te trek. Maar die SBE’s, die Reserwebank en die kwessie van grond kan sulke toenadering in die wiele ry.

Ramaphosa staan voor ’n keuse. Sal hy die belange van sy eie party eerste stel... of sal hy Suid-Afrika eerste stel?

Daarom begin die hardste werk vir Ramaphosa nou eers. En baie daarvan sal in sy party gedoen moet word.

Hoe gaan die nuwe kabinet lyk? Gaan die ministeries in die ekonomiese groep hersien word?

Kan Ramaphosa die nodige ideologiese skuif teweegbring om die private sektor ’n groter rol te gee? Kan hy die idee aan sy party verkoop om die staat se aandeelhouding in die SBE’s te verklein? Kan hy kaderontplooiing in die SBE’s teëwerk?

Kan Ramaphosa sy party sover kry om groter deregulering van die breë ekonomiese beleid te oorweeg? En kan hy die eise van die vakbonde help hervorm om ’n mededingender arbeidsmag te skep?

Dié sake is wesenlik tot die ideologiese hoek waarin die ANC hom bevind. Die gevegsfronte is in die ANC self, selfs al het Ramaphosa op papier ’n sterk mandaat. En, met die EFF wat die meeste nuwe stemme van enige party gekry het, is die vraag hoe ver Ramaphosa bereid sal wees om te gaan, nog méér problematies.

Ramaphosa staan voor ’n keuse. Sal hy die belange van sy eie party eerste stel – die verdeeldheid, die geskiedenis en die vrees vir ’n sterker EFF – of sal hy Suid-Afrika eerste stel en broodnodige strukturele en beleidshervorming deurvoer? Uiteindelik is dit die toets vir enige leier, en een wat kritiek belangrik is in Suid-Afrika in 2019. Die uitdaging wag.

  • Daniel Silke is a politieke ontleder, skrywer en spreker. Dié rubriek het oorspronklik op Fin24 verskyn.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.