Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verbod op drankverkope: 'Dis kranksinnig'

Jy kan doodeenvoudig nie iets wegreguleer nie.

Drankmisbruik gaan nie ophou omdat die regering dit verbied nie, waarsku ekonome. Foto: Unsplash

So sê prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, na aanleiding van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat drankverkope met onmiddellike effek gestaak is.

“Dis kranksinnig.

“Regulasies deug nie om iets te stop nie – dit kan slegs gebruik word om gedrag aan te pas.

“Net soos in die geval van sigarette, gaan ons nou net ’n smokkelbedryf vir drank hê soos wat daar in die verlede was. Hiermee gepaard gaan ook die versterking van sindikate en bendes wat gretig is om deur smokkelary geld te maak.”

LEES OOK: SA bly op vlak 3, maar hier’s 12 dinge wat jy moet weet

Rossouw meen Ramaphosa het sy toespraak goed begin deur te beklemtoon dat dit mense se eie verantwoordelikheid is en behoort te wees om hulself teen Covid-19 te beskerm.

“Die regering misgis hom as hy dink dat hy drankmisbruik kan stopsit deur middel van ’n verbod op wettige verkope. Dit is nog altyd ’n eienaardige idee onder politici dat hulle dink wanneer hulle iets verbied, die verbruik daarvan gaan ophou.”

Prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand.

Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, sê die regulasies is ’n gevolg van die regering se onvermoë om die land te regeer.

“Almal het aan die begin begrip gehad dat ’n streng inperking van drie weke die nodige tyd moes skep om die land se gesondheidsektor gereed te kry, maar ondanks die mooi woorde van die president is die land nie gereed nie.

“Dié onvermoë het die kollig op 25 jaar se roekelose bestuur van die openbare gesondheidsektor laat val. En nou betaal Suid-Afrikaners vir dié onvermoë met swak regulasies wat die ekonomie vernietig,” sê Buys.

Volgens Ramaphosa verwag die regering nou dat die piek van infeksies in sekere dele van die land einde Julie gehaal sal word, maar in ander dele eers teen einde September. Dit kan beteken dat drankverkope vir minstens nog twee maande verbied word.

Buys stem met Rossouw saam dat die verantwoordelikheid vir veiligheid eerder by Suid-Afrikaners self lê.

“Die virus se verspreiding is ernstig. Die antwoord lê egter nie by die regering nie, maar by gewone burgers wat verantwoordelik omgaan, alles moontlik doen om die virus se verspreiding te beperk en gesonde metodes vind om te leef en te werk.”

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Inperking  |  Drankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.