Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nou moet dié instelling met R3 mjd. gered word

Die Reserwebank het Vrydag ’n waarborg van R3,4 miljard uitgereik as 'n reddingsboei aan sy filiaal, die Korporasie vir Openbare Deposito’s (CPD).

Nomfundo Tshazibana
Fundi Tshazibana, voorsitter van die CPD.

Dié CPD is getref deur die wanbetalings van die Landbank op die skuldbriewe wat aan beleggers uitgereik is.

Die CPD het verskeie skuldinstrumente van die Landbank gekoop met die deposito’s wat hy op sy beurt van die regering en openbare instellings kry.

Die filiaal van die Reserwebank het ’n verlies van R2,8 miljard gely in die pas afgelope boekjaar en dit het die redding genoodsaak. Daarteenoor is ’n wins van R92,1 miljoen in die vorige boekjaar getoon.

Fundi Tshazibana, adjunkgoewerneur van die Reserwebank en voorsitter van die CPD, sê die waarborg is genoeg om die beleggingsarm van die bank se verlies in die boekjaar te dek en om sy reserwes aan te vul wat tot nul gedaal het.

Wat doen die CPD?

Die CPD ontvang en hou deposito’s van die regering en openbare entiteite. Die deposito’s word in korttermyn-geldmarkinstrumente, spesiale skatkiswissels van die tesourie en by die Reserwebank belê.

Die korporasie is in 1984 as ’n filiaal van die bank gestig ná die ontbinding van die Nasionale Finansieringskorporasie. Dié korporasie was die bank se eerste filiaal en het in 1949 sy bedrywighede begin.

Die Finansieringskorporasie is begin met die doel om die plaaslike geldmark te verdiep en sodoende die benutting van kapitaal in die ekonomiese belang van Suid-Afrika te verseker.

Die Finansieringskorporasie word beheer deur die Wet op die Korporasie vir Openbare Deposito’s.

Al die geld wat by dié korporasie belê word en die rente wat daarop verdien word, is op aanvraag betaalbaar.

Die Finansieringskorporasie ontvang ook met toestemming van die minister van finansies deposito’s van ander deposante.

Bron: Reserwebank

“Ons moes voorsiening maak vir wat ons nie sal kan verhaal van die Landbank nie. Dit was een van die redes hoekom die waarborg gegee is.

“Weens die Landbank se wanbetalings word ons teen ’n verlies bedryf en sou ons nie ’n lopende saak wees nie. Dit sou deposante werklik bekommer het.”

Landbank kon in April nie lenings ter waarde van R50 miljard terugbetaal nie. In Junie het hy in gebreke gebly om die rente op amper R120 miljoen se skuld te betaal.

Landbank het Vrydag gesê hy kon ook nie rente betaal op R320 miljoen van sy skuldbriewe einde Junie nie.

Die nasionale tesourie waarborg omtrent R5,7 miljard van Landbank se skuld en het verlede week noodfinansiering van R3 miljard aan die maatskappy verskaf.

Luidens die CPD se jaarverslag vir die boekjaar tot einde Maart het die markwaarde van sy blootstelling aan Landbank se promesse einde Maart R899 miljoen beloop. In April is nog van die promesses gekoop wat sy blootstelling tot R1,14 miljard verhoog het.

Die CPD se totale bates het einde Maart R69,8 miljard beloop terwyl sy totale aanspreeklikhede R72,4 miljard beloop het.

Dit laat die CPD tegnies insolvent omdat sy aanspreeklikhede sy bates oorskry het, luidens die jaarverslag.

Om dit reg te stel het die Reserwebank ’n waarborg aan die CPD uitgereik van R3,45 miljard om sy aanspreeklikhede na te kom. - Reuters, bygewerk deur Nellie Brand-Jonker

Meer oor:  Landbank  |  Reserwebank  |  Waarborg  |  Reddingsboei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.