Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Nóú moet SA plan maak of ekonomie rafel uit’
Moody’s Investors Service se hoofkantoor in New York.Foto: Reuters

As die regering nie wil hê dat Suid-Afrika se ekonomie “uitrafel nie”, moet hy sy huis nou dringend in orde kry.

So waarsku Sipho Pityana, uitvoerende hoof van Business Unity South Africa (Busa), nadat die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service Vrydagnag die land ’n laaste kans gegee om sy kredietgradering op beleggingsgraad te behou.

Moody’s – die laaste van die drie groot graderingsagentskappe wat Suid-Afrika se staatskuld op beleggingsgraad het – het dié gradering onveranderd gehou.

Moody’s het wel, soos alom verwag is, die vooruitsig vir die gradering van stabiel na negatief verander.

Pityana sê hy is “verontrus, maar nie verbaas” oor Moody’s se besluit nie.

“Die sakegemeenskap sê al maande lank dat drastiese en fundamentele optrede nodig is ten opsigte van kern- ekonomiese kwessies.

“Dit is nou bevestig dat die gebrek aan optrede ons na ’n baie glibberige afdraande gelei het,” sê hy.

“Moody’s het tereg daarop gewys dat die regering sy huis in orde moet kry. Indien nie, gaan ons beleggingsgradering tot rommelstatus afgegradeer word.

“Ons weet almal wat dit beteken: Ons ekonomie sal selfs verder terugsak, ons sal onsself nie meer uit die skuld kan leen nie en die hele ekonomiese stelsel gaan begin uitrafel,” sê hy.

Peter Leon, senior vennoot van die regsfirma Herbert Smith Freehills, sê die regering het nou geen ander keuse as om dringend die staat se salarisrekening te verlaag, ontslae te raak van staatsondernemings wat teen ’n verlies bedryf word, en die private sektor toe te laat om met Eskom en Telkom mee te ding nie.

Moody’s het dit in sy aankondiging duidelik gemaak dat volgende jaar se begrotingsrede gaan bepaal of ook hy Suid-Afrika se staatskuld tot rommelstatus gaan afgradeer.

Ons weet almal wat dit beteken: Ons ekonomie sal selfs verder terugsak, ons sal onsself nie meer uit die skuld kan leen nie en die hele ekonomiese stelsel gaan begin uitrafel.
Sipho Pityana, Busa

Moody’s was duidelik nie beïndruk met Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) nie. Lucie Villa, Moody’s se hoofontleder van Suid-Afrika, sê in ’n verklaring daar word te min oor besnoeiingsmaatreëls gesê en slegs verwys na “bykomende bedryfs- en finansiële hervormings wat nodig is om die las van Eskom en ander staatsondernemings op die fiskus te stuit”.

“Dié week se aankondiginge verteenwoordig nog nie ’n ontwikkelde, geloofwaardige fiskale strategie nie. Die ontwikkeling van ’n geloofwaardige fiskale strategie om die styging in staatskuld in toom te hou, insluitend die 2020-begrotingsproses en -rede, sal deurslaggewend wees om die kredietgradering op sy huidige vlak te behou.”

Villa sê Eskom se las op die staatskas is ’n groot bron van kommer, maar dis ook duidelik die land is in ’n strik van lae ekonomiese groei vasgevang.

Die tesourie het kort nadat Moody’s sy verklaring Vrydag in die middernagtelike ure uitgereik het, in ’n verklaring gesê Mboweni het op ’n ander uitkoms gehoop, maar erken Moody’s se besluit “met ’n swaar hart”.

“Mede-Suid-Afrikaners, dis nou die tyd om ons moue op te rol en te doen wat ons moet doen. Dis nou of nooit. Ons het alle hande nodig. Die regering, die arbeidsektor, die sakesektor en die burgerlike samelewing – ons het mekaar nou nodiger as ooit tevore.”

Kredietgradering

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê Moody’s se besluit om sy vooruitsig na negatief te verander, was glad nie ’n verrassing nie.

“Moody’s waarsku dat Suid-Afrika sy huis bitter gou in orde moet kry, of hy kan tot rommelstatus afgegradeer word,” sê Parsons in ’n verklaring.

“Suid-Afrika het dus kennis ontvang dat hy dringend sy ekonomiese bestuur moet verbeter.”

Parsons sê die “fundamentele uitdaging vir Suid-Afrika bly dus die oorhoofse een van noodsaaklike hervormings wat ’n voorvereiste vir groei is.

“Die negatiewe vooruitsig dra Moody’s se toenemende kommer oor dat die politieke wil nie daar is om die amptelike planne om die ekonomie om te keer, in werking te stel nie.

“Die onlangse MTBR, terwyl dit ’n eerlike uiteensetting gee van Suid-Afrika se betreurenswaardige fiskale vooruitsig, het nie die nodige vertroue geskep dat belangrike veranderinge inderdaad dringend toegepas gaan word nie.

“Die opstel van ’n geloofwaardige fiskale strategie om die groeiende staatskuld in te kort, stel beleidmakers voor moeilike keuses, maar dit is keuses wat nie langer vermy of onbepaald uitgestel kan word nie,” sê Parsons.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.