Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nuus oor BTW-verslag gou verwag

Verbruikers hou dié week asem op vir nuus of meer produkte in hul winkeltrollie dalk van belasting op toegevoegde waarde (BTW) vrygestel gaan word.

Daar is ’n versoek dat hoendervleis van BTW vrygestel word. Foto: Pixabay

Die paneel onder leiding van prof. Ingrid Woolard moet teen einde Julie (wat Dinsdag is) sy aanvanklike verslag aan die tesourie lewer oor watter nuwe items van BTW vrygestel kan word.

Die paneel kyk benewens na kossoorte ook na die moontlikheid om ’n aantal bykomende produkte van BTW vry te stel, soos kerse, seep en sanitêre produkte.

BTW-voorstelle

Items wat voorgestel word om ook vrygestel te word:

  • Alle ander brood (soos rogbrood en brood met ’n lae glukemiese indeks) benewens bruin brood
  • Vorms van proteïne soos hoendervleis
  • Vroulike sanitêre produkte
  • Kerse
  • Seep
  • Basiese medisyne
  • Skoolklere en ander onderwysverwante goedere
  • Voorafbetaalde lugtyd

Sien hieronder watter kos, ander produkte en dienste reeds van BTW vrygestel is.

Die paneel is aangestel in reaksie op wye protes teen die nasionale tesourie se besluit om BTW vanjaar van 14% na 15% te verhoog, en verskeie rolspelers het daarop aangedring dat die regering maniere vind om die druk op armes te verlig.

Die paneel sou al einde Junie sy aanvanklike verslag uitgereik het sodat die tesourie dit in belastingwetgewing in ag kon neem, maar dit is uitgestel tot einde Julie.

Dié paneel se werk is afsonderlik van die opdrag wat pres. Cyril Ramaphosa aan die ministers in die ekonomiese groepering gegee het om voorstelle te doen oor hoe verligting aan verbruikers gegee kan word ná die BTW-verhoging en die skerp styging in brandstofpryse die afgelope vier maande. Die ministers se terugvoering word óók dié week verrwag. Hulle sluit in Nene as minister van finansies, Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, en dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

Leonard Willemse, senior belastingkonsultant by die ouditgroep Mazars, sê die paneel sal ’n baie moeilike balanseertoertjie moet uitvoer om seker te maak die voorstelle ontwrig nie die tesourie se pogings om die land se begrotingstekort te laat krimp nie.

Leonard Willemse, senior belastingkonsultant by Mazars.

Malusi Gigaba, vorige minister van finansies, het die verhoging van BTW in die Februarie-begroting aangekondig. Willemse sê dit was nie ’n verrassing nie, want die regering het ekstra belastinginkomste dringend nodig om die begroting te laat klop.

Dit was die eerste verhoging in BTW in ’n kwarteeu.

Die wye protes teen die verhoging, selfs van die parlement se staande komitee oor finansies, het Nhlanhla Nene, wat Gigaba as minister van finansies opgevolg het, genoop om die onafhanklike paneel van kundiges in Maart aan te stel om die lys van BTW-vrygestelde items te hersien.

Die paneel moes nie net die bestaande items op die lys hersien nie, maar ook kyk hoe die lys uitgebrei kan word, met inagneming van die voordele vir arm huishoudings, die waarskynlikheid dat produsente voordele na verbruikers sal deurgee, die gemak van administrasie, die potensiaal vir misbruik en die geraamde verlies aan inkomste.

Die paneel se verslag sal net die eerste aanduiding wees van moontlike vergunnings. Dis hoogs onwaarskynlik dat groot aanpassings in die middel van die belastingjaar deurgevoer sal word.

Lys van basiese kos wat tans van BTW vrygestel is:

  • Bruin brood
  • Mieliemeel
  • Stampmielies
  • Rys en mielierys
  • Droë mielies en boontjies
  • Lensies en ander eetbare peulgewasse
  • Sardyne (pilchards) in blikkies
  • Melk, karringmelk, melkpoeier en suiwelpoeiermengsels
  • Vrugte en groente
  • Kookolie
  • Eiers

Ander goedere en dienste wat van BTW vrygestel is:

  • Paraffien
  • Boerdery-insette
  • Skoolfonds en ander onderwysgelde
  • Openbare vervoer vir pad en spoor
  • Residensiële huur
  • Petrol en diesel (waarop die brandstofheffing reeds gehef word)
  • Internasionale vervoerdienste
  • Uitvoerprodukte
  • Sekere toekennings van die staat
  • Sekere finansiële dienste soos ’n mediese skema of pensioenfonds
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.