Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Nuus oor internasionale reis die wenner op vlak 1’

Ontleders sê die plaaslike toerismebedryf was die grootste wenner van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Woensdagaand dat die land Sondag om middernag na vlak 1 van die inperking sal beweeg.

Internasionale toeriste sal weer die land vir besigheid en plesier mag besoek, met internasionale reise wat vanaf 1 Oktober geleidelik hervat sal word. Lande waar koronavirusinfeksies hoog is, sal wel uitgesluit word. ’n Lys van dié lande sal saamgestel word.

Andrew Stark, besturende direkteur van die Flight Centre-reisgroep, sê die aankondiging was meer as waarop die bedryf gehoop het.

“Aanvanklik het ons gedink die regering het swak gevaar deur sy streng inperkingstrategie, maar terugskouend het dit vir ons asem laat skep om nou die ekonomie te kan heropen. In lande soos die Verenigde Koninkryk moes daar nou weer strenger inperkings ingestel word.”

Buitelanders sal slegs die land deur die King Shaka-, die O.R. Tambo- en die Kaapstad-lughawe asook die een oop grenspos tussen die verskillende buurlande die land kan binnekom.

Volgens Stark gaan dit ’n uitdaging wees vir die bedryf om reise te reël wanneer maatreëls in ag geneem moet word soos dat buitelandse toeriste hulself vir die koronavirus moet laat toets 72 uur voordat hulle in die land aankom.

Buitelanders sal slegs die land deur die King Shaka-, die O.R. Tambo- en die Kaapstad-lughawe asook die een oop grenspos tussen die verskillende buurlande die land kan binnekom.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika, sê hy stel egter belang in presies hoe die regering die lys gaan opstel van lande met ’n hoë infeksiekoers. “Dit is baie belangrik dat dit op wetenskap gegrond is en dat die gegewe land se toeriste-omvang vir Suid-Afrika in ag geneem word.”

Dit gaan meer as ‘Jerusalema’ vat om die ekonomie reg te ruk.
Johan Steenhuisen

Prof. Bheki Ndevu, ’n politieke ontleder van die Universiteit Stellenbosch (US), sê hy verwelkom Ramaphosa se kommentaar dat die besluit oor die verlaging na vlak 1 van die staat van inperking op wetenskap gegrond is. “Dit is ’n goeie verwikkeling dat die ekonomie heropen word, met die klem daarop dat dit verantwoordelik gedoen sal word.”

Theo Venter, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê hy sou meer wou weet oor Ramaphosa se planne sou die land ’n tweede vlaag van infeksies beleef.

“Ons sal op ons pasoppens moet wees vir ’n tweede golf, en die aanduidings is dat ons dit skielik sal kan ervaar, soos tans in Europa gebeur.”

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het ná afloop van die president se toespraak aan eNCA gesê die hoogtepunt is dat grense vir internasionale reis oopgemaak word.

“Ons beweeg in die regte rigting,” het Steenhuisen aan die nuusdiens gesê. Hy is egter bekommerd oor die ekonomiese herstel wat “so gou moontlik” moet gebeur. “Dit gaan meer as ‘Jerusalema’ vat om die ekonomie reg te ruk.”

Die vakverbond Cosatu het in ’n verklaring gesê hulle hoop dat die ekonomie op ’n verantwoordelike manier heropen word om ’n toename in infeksies te verhoed.

Weens Covid-19 word die toerismebedryf in die ergste scenario in 2020 deur ’n moontlike vermindering van 73% van sy inkomste in die gesig gestaar. Dit sal lei tot die verlies van 430 000 werke en R82,5 miljard se buitelandse kapitaal wat bedreig word.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was daar in 2019 10 228 593 toeriste wat die land besoek het. ’n Toeris word beskryf as iemand wat minstens een nag in die land oornag.

Die tien lande waar die meeste van Suid-Afrika se toeriste vandaan kom, is:

  • Brittanje: 436 559
  • VSA: 373 694
  • Duitsland: 322 720
  • Frankryk: 165 038
  • Nederland: 144 071
  • Australië: 111 439
  • Indië: 95 621
  • China: 93 171
  • Brasilië: 77 261
  • Kanada: 66 577

Wat betref die sogenaamde Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) is dit net besoekers uit Rusland wat nie die toptien haal nie.

Luidens SSA het 16 276 Russiese burgers die land in 2019 besoek.

Indië (5 miljoen), Brasilië (4,3 miljoen) en Rusland (1 miljoen) is egter van die lande wat die meeste positiewe gevalle van die koronavirus aangemeld het. Hulle het naas die VSA (6,7 miljoen) die tweede, derde en vierde meeste gevalle ter wêreld. China (85 000) is tans 40ste op die wêreldranglys wat betref die aantal positiewe koronovirusgevalle, volgens Worldometer.

Verreweg die meeste toeriste wat die land besoek, is egter van lande in Suider-Afrika. Volgens SSA was 72,7% van toeriste wat die land in 2019 besoek het van dié gebied, terwyl 1,6% van ander Afrika-lande afkomstig is. Die res (25,5%) is afkomstig van oorsese lande.

Die meeste toeriste wat Suid-Afrika in 2019 besoek het, was van Zimbabwe (2,25 miljoen), Lesotho (1,5 miljoen) en Mosambiek (1,3 miljoen). Die drie lande het onderskeidelik 7 576, 1 327 en 5 713 aangetekende gevalle van die koronavirus.

Volgens SSA het Suid-Afrika se toerismeverblyfsektor R25,28 miljard in 2019 verdien.

Beperking op wynverkope op wynplase oor naweke maak nie sin - Agri SA

Agri SA verwelkom die verskuiwing van vlak 2 na vlak 1, het Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof, gesê, maar die beperking op wynverkope oor naweke op wynplase maak egter nie sin nie.

"Dit het 'n uiters negatiewe impak op die finansiële volhoubaarheid van wynplase wat oor naweke groot getalle besoekers en toeriste lok.

"Agri SA doen 'n ernstige beroep op die regering om die verbod op wynverkope oor naweke op wynplase te lig. Die toerismebedryf benodig al die ondersteuning om weer op dreef te kom, so ook wynplase. Dit vorm 'n integrale deel van die plaaslike toerismebedryf en wynverkope kan daarom nie langer oor naweke verbied word nie. Daar is geen rasionele rede waarom die verbod volgehou word nie!"

Meer oor:  Koronavirus  |  Toerisme  |  Internasionale Reis  |  Vlak 3  |  Toeriste  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.