Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nuwe klere en ketels kry weer plek in trollies

Verbruikers koop weer klere, skoene, meubels, toestelle en selfs juweliersware. Nie baie meer nie, maar daar is tog tekens dat hulle weer meer as net basiese kosinkopies elke maand doen.

Die verkope van klere en skoene het in Junie goed gestyg. Foto: Pixabay

Verkope van klere en skoene was in Junie 4,8% hoër as ’n jaar gelede, meubels 5,2% hoër en verkope by “ander” kleinhandelaars 5,7% hoër, volgens die syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdag uitgereik het. Dis die beste of naasbeste groeikoerse vir dié kategorieë vanjaar. “Ander” kleinhandelaars is ’n breë kategorie wat boeke, juweliersware en tweedehandse goedere insluit.

Kleinhandelverkope met 2,4% gestyg, wat dit die derde maand in ’n ry maak van jaargroei bo 2%.

Die syfers is vir Junie 2019 vergeleke met Junie 2018 en gemeet in konstante 2015-rand, ’n manier om die uitwerking van prysstygings te verwyder.

Verkope was in die tweede kwartaal van die jaar 1,1% meer as in die eerste kwartaal. Dié baie belangrike syfer is ’n tentatiewe aanduiding dat die land nié in die tweede kwartaal in ’n resessie verval het nie.

As die syfer geannualiseer word tot 4,4%, wys dit kleinhandelverkope sal ’n stewige positiewe bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) lewer, sê die FNB-ekonoom Siphamandla Mkhwanazi. In die eerste kwartaal was die groei -2,5%.

Verbruikers se besteding verteenwoordig nagenoeg 60% van die land se BBP en kleinhandelverkope op sy beurt ’n groot hap daarvan.

In huidige randwaarde het kleinhandelverkope die afgelope jaar met 5% gestyg, wat die hoogste groei nóg vanjaar is.

Mkhwanazi sê dit bly kommerwekkend dat die verkoopsgroei vir die jaar tot dusver van 1,7%, minder as die helfte is van verlede jaar se 3,6%. Dit wys op die trae vraag. “Dit word ook getoon deur die volgehoue lae prysstygings, wat laer as verbruikersprysinflasie bly. Dit wys kleinhandelaars is nie in staat om prysstygings aan verbruikers oor te dra nie.

“Vraag word onderdruk deur volgehoue druk op verbruikers se besteebare inkomste, weens ’n swakker arbeidsmark en hoër inkomstebelasting.”

Die Investec-ekonoom Lara Hodes sê hoewel die syfers positief is, kom dit van ’n lae grondslag af. Die eerste kwartaal se groei was swak weens fase 4-beurtkrag en lae verbruikersvertroue.

Die Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Dennis Dykes reken kleinhandelverkope sal vir die res van die jaar positief bly. “Die styging sal egter gedemp word deur verskeie dwarswinde wat verbruikers versigtig sal maak om aggressief op nie-noodsaaklike goedere en dienste te bestee.”

Swak wêreldgroei, die regering se swak fiskale posisie en voortslepende beleidsonsekerheid ondermyn beleggersvertroue, wat beteken maatskappye sal nie sommer uitbrei en meer mense aanstel - wat kleinhandelverkope kan help - nie.

“Huishoudings se geldsake sal boonop onder druk bly weens hoër geadministreerde pryse en streng leningskriteria.”

Geadministreerde pryse sluit krag, water en brandstofpryse in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.