Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nuwe komitee dui op verdere oopstel van ekonomie

Politieke ontleders sê die nuwe ministeriële advieskomitee oor maatskaplike en gedragsverandering, wat Dinsdag bekend gestel is, is nog ’n sterk aanduiding dat die regering van plan is om die ekonomie verder te heropen.

Dit kom nadat Netwerk24 Maandag berig het die Covid-19-bevelsraad het verlede week aanbevelings aan die kabinet voorgelê dat sekere bedrywe, onder meer die skoonheidsbedryf, toegelaat moet word om op vlak 3 van die inperking te heropen.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag met die bekendstelling van die nuwe advieskomitee gesê die regering wil ’n minder afdwingende benadering oor Covid-19 volg en dat mense eerder vrywillig die gesondheidsmaatreëls moet nakom.

“Dis nie realisties om die samelewing op lang termyn in te perk nie,” sê hy.

“Die geveg moet op voetsoolvlak deur ’n gedragsverandering in gemeenskappe gewen word – in restaurante, huise, kerke, winkelsentrums en minibustaxi’s.”

Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Foto: Jaco Marais
Dis nie realisties om die samelewing op lang termyn in te perk nie.
DR. ZWELI MKHIZE

Die nuwe advieskomitee, wat nie die ander panele en komitees vervang nie, is gesamentlik deur die gesondheidsdepartement en die departement van maatskaplike ontwikkeling in die lewe geroep om raad te gee oor “maatskaplike en kulturele ingrypings” in gemeenskappe om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan. Biskop Malusi Mpumlwana is as die voorsitter aangewys, met die res van die komiteelede wat onder andere uit tradisionele en geloofsleiers bestaan.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê alles dui daarop dat die regering meer vryhede aan mense wil teruggee en die ekonomie verder wil heropen – volgens hom omdat die regering onder al hoe meer druk verkeer.

“Die regering kon nie in sy strategie slaag nie. Hy het besef hy het nie die kapasiteit om mense soos babas op te pas nie en boonop is daar al hoe meer hofsake wat ophoop oor hoe hy die krisis hanteer. Mense is ook keelvol,” sê Mathekga.

Die politieke ontleder Theo Venter sê hoewel mense ’n verdere verslapping in die inperkingsmaatreëls kan verwag, sal dinge nie sommer na normaal terugkeer voordat ’n entstof vir Covid-19 gevind word nie – wat maande of jare kan neem.

Ons praat hier van ’n nuwe normaal wat kom. Sekere regulasies soos beperkings op die getal mense wat ’n byeenkoms mag bywoon, sal waarskynlik nog lank met ons wees. So ook die verskynsel dat baie mense van die huis af werk.
THEO VENTER

“Ons praat hier van ’n nuwe normaal wat kom. Sekere regulasies soos beperkings op die getal mense wat ’n byeenkoms mag bywoon, sal waarskynlik nog lank met ons wees. So ook die verskynsel dat baie mense van die huis af werk,” sê Venter.

Venter sê op vlak 3 van die inperking het Suid-Afrikaners reeds ’n voorsmakie van dié nuwe normaal gekry omdat die regering nie meer so erg daarop fokus om mense se bewegings in te perk nie, behalwe in brandpuntgebiede.

“Ons sien eintlik reeds dat mense self verantwoordelikheid moet neem vir hul eie bewegings. Omdat die polisie nie meer so streng is met permitte nie, is daar eintlik niks wat mense keer om rond te rits nie,” sê hy.

Phumla Williams, kabinetswoordvoerder, kon Dinsdag nog nie sê wanneer die aanbevelings van die Covid-19-bevelsraad, dat sekere bedrywe op vlak 3 van die inperking mag heropen, weer voor die kabinet sal dien nie.

Hoewel sy sê die kabinet het verlede week die aanbevelings na die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 vir oorweging verwys voordat hy die groen lig daarvoor kan gee, is dit onduidelik na presies watter advieskomitee sy verwys.

Mlungisi Mtshali, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, het Maandag aan Netwerk24 gesê die bevelsraad se aanbevelings is op voorleggings deur bedrywe gegrond wat aanvanklik nie gereed was om op vlak 3 te heropen nie.

Hoewel hy verklap het dat die kabinet oorweeg om die skoonheidsbedryf te laat heropen, wou hy die aankondiging oor watter ander bedrywe mag heropen aan Jackson Mthembu, minister in die presidensie, oorlaat.

Mtshali sê as die kabinet die aanbevelings goedkeur, sal die regulasies gewysig kan word.

Meer oor:  Theo Venter  |  Ralph Mathekga  |  Zweli Mkhize  |  Skoonheidsbedryf  |  Inperking  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.