Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Nuwe regstel-reëls: ‘Las op kleinsake juis ligter’

Wysigings aan die wet oor regstellende aksie is juis om die regulatoriese las op kleiner ondernemings te verlig, het Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, Woensdag gesê.

Werkgewers met 49 of minder werkers hoef nie aan die voorgestelde nuwe sektorale teikens vir regstellende aksie te voldoen nie, maar hulle moet wel sorg dat hulle nie onbillik diskrimineer teen enige werker nie, en moet minstens die nasionale minimum loon betaal, het Nxesi aan die parlement se portefeuljekomitee oor arbeid gesê.

Hy en sy departement het die wysigingswetsontwerp oor diensbillikheid voor die komitee verdedig ná die openbare sitting daaroor wat in April gehou is.

Die wysigings behels nié streng kwotas soos kritici dit probeer uitmaak nie, maar juis veel meer buigsame teikens vir elke ekonomiese sektor, sê Nxesi.

Die wysigings is noodsaaklik, want ná meer as 20 jaar dat die Wet op Diensbillikheid in 1998 van krag geword het, vorder werkgewers steeds so stadig soos ’n gletser met die toepassing van regstellende aksie, sê Nxesi.

Billike diskriminasie

Die departement verskil van die vakbond Solidariteit, wat beweer die wetswysigings is ongrondwetlik. “As daar diskriminasie is in die wetgewing, is dit om die wanbalanse van die verlede te herstel, en dan is dit billike diskriminasie waarteen die Grondwet nie gekant is nie,” sê Thembinkosi Mkalipi, hoofdirekteur vir arbeidsverhoudinge van die departement.

Volgens Mkalipi het die konstitusionele hof reeds Solidariteit se hofaansoek om die wetgewing oor regstellende aksie ongrondwetlik te laat verklaar, van die hand gewys.

Volgens hom is die Menseregtekommissie se Gelykheidsverslag van 2018, waarop Solidariteit van hul argumente grond, nie bindend op die regering nie, maar was dit ’n navorsingsverslag om openbare diskoers aan te moedig.

Dié verslag het aangedui die wetgewing oortree die verpligtinge wat die internasionale konvensie vir die uitwissing van alle rassediskriminasie oplê aan lande wat dié konvensie bekragtig het.

Potensiaal vir korrupsie

Oor kritiek dat korrupsie bevorder kan word deurdat amptenare omgekoop kan word om voldoeningsertifikate uit te reik, het Mkalipi gesê daar is nie ruimte vir so iets nie. Die proses waardeur werkgewers aansoek doen vir ’n voldoeningsertifikaat, is geoutomatiseerd en daar is nie geleentheid vir iemand om ’n spreekwoordelike bruin koevert aan ’n amptenaar of arbeidsinspekteur te gee nie, sê hy.

Die stelsel werk soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se e-filing-stelsel, en die werkgewer kry onmiddellike reaksie.

Konsultasie met sektore

Daar is al met 16 ekonomiese sektore oor voorgestelde teikens vir hulle gekonsulteer, en nog net twee sektore – vervaardiging en openbare administrasie – is uitstaande.

Dié proses behoort teen Junie of Julie klaar te wees, volgens Mkalipi.

Die teikens behels nie vaste, verpligte kwotas met ’n rigiede uitkoms wat tot elke prys behaal moet word nie, maar is buigsame doelwitte waarna gemik moet word binne die raamwerk van wat redelik en prakties uitvoerbaar is. Redes wat werkgewers kan aanvoer om nie die teikens te haal nie sluit in:

  • Nie genoeg vakante poste nie;
  • Nie genoeg bevorderingsgeleenthede nie;
  • Nie genoeg teiken-individue in die aangewese groepe met die relevante kwalifikasie, vaardigheid en ervaring nie;
  • Waar ’n onderneming oorgeneem is of met ’n ander saamgesmelt het wat hom verhoed om die teikens te haal; en
  • Waar die betrokke sake- of ekonomiese omstandighede dit nie moontlik maak om die teikens te haal nie.

Oor die feit dat dié teikens gehaal moet word om vir staatskontrakte te kan meeding, het Mkalipi gesê daar is tog ook reeds ander voldoeningsvereistes vir staatskontrakte, soos ’n belasting- of bemagtigingsertifikaat. Die wetswysigings bepaal bloot dat die sertifikaat oor voldoening aan regstellende-aksie-teikens nou ook by die lys gevoeg word om transformasie in die ekonomie te versnel.

Waarom die sektorale teikens nie al in 1998 deel van die wet was nie, was omdat werkgewers tyd nodig gehad het om stelsels en prosesse te ontwikkel.

Ekonomiese potensiaal

Dr. Michael Cardo, DA-lid van die komitee, wou weet of die wysigings regtig tot ekonomiese groei sal bydra. Ondanks die bestaande wette het ongelykheid in Suid-Afrika net vererger, en is die 40% armste swart mense in 2015 nog net so arm soos in 2006, het hy gesê.

Cardo meen die teikens is net ’n kwota met ’n ander naam, veral met die dreigement van boetes en die weerhouding van ’n voldoeningsertifikaat. Volgens hom kan die afdwing van die sektorale teikens tot werkverliese en bankrotskap van ondernemings lei.

Internasionale navorsingstudies het wel gewys op die voordele van diversiteit en dat dit tot ekonomiese groei kan lei as dit reg benut word, het Thobile Lamati, direkteur-generaal van arbeid, in reaksie hierop gesê.

“As daar werklike bereidwilligheid aan die kant van werkgewers was om diversiteit te verseker, sou ons nie gewees het waar ons nou is nie, en sou die regering nie die noodsaak gevoel het om so ’n wet in te stel nie. Ons is waar ons is weens die arbeidsmarkmislukkings, veral aan die kant van die maatskappye wat oor die jare nie eens hul eie regstellendeaksieplanne kon instel nie.”

Wat wil die wetsontwerp bereik?
  • Dit gee die minister van arbeid die mag om teikens vir regstellende aksie vas te stel vir spesifieke ekonomiese sektore – byvoorbeeld hoeveel swart of bruin mans of vroue in alle vlakke van ’n maatskappy in ’n spesifieke subsektor van die ekonomie moet wees. Dit impliseer dat werkgewers dus hul eie regstellende-aksieplanne sal moet aanpas waar dit nie inpas by die teikens wat die minister vir hul betrokke sektor vasgestel het nie.
  • Hoe hulle die teikens haal, sal in ag geneem word wanneer die owerhede moet bepaal of die werkgewer aan die wet voldoen en of hy dus ’n voldoeningsertifikaat vir regstellende aksie kan kry.
  • Die wetsontwerp bepaal dat maatskappye moet voldoen aan die teikens om vir staatskontrakte te kan tender, tensy hulle redelike gronde het om te kan regverdig waarom hulle nie die teikens kon haal nie.
  • Werkgewers met minder as 50 werknemers word nie meer as “aangewese werkgewers” ingevolge die wet beskou nie en hoef nie meer aan hoofstuk 3 van die wet oor regstellende aksie te voldoen nie.
  • Waar ’n vakbond werkers by ’n betrokke werkplek verteenwoordig, mag die werkgewer nou slegs dié vakbond raadpleeg oor die opstel van sy diensbillikheidsverslag, en nie meer sy werknemers nie.


    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.