Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
OB ondersoek SAP-kontrak met departement
Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Andrew Mkhondo

Die openbare beskermer (OB) ondersoek nou die regering se kontrak van R671 miljoen met die Duitse sagtewarereus SAP.

SAP het reeds toegegee dat hy verkeerd opgetree het in verskeie transaksies wat vriende van oudpres. Jacob Zuma betrek.

Busisiwe Mkhwebane, die OB, het ’n naamlose brief ontvang wat beweer die regte proses is nie gevolg toe ’n kontrak in 2016 aan SAP toegeken is vir die lewering van dienste aan die departement van water en sanitasie nie.

Die brief beweer ook dat die kontrak dienste wat SAP reeds gelewer het, verdubbel.

Die departement is onder skoot van opposisiepartye omdat hulle glo die vorige minister, Nomvula Mokonyane, het nie die krisis met die droogte in Kaapstad goed bestuur nie.

Mokonyane is in Februarie met Gugile Nkwinti vervang.

Volgens Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB, word SAP se kontrakte met waterrade ook ondersoek.

SAP het nie kommentaar gelewer nie, maar het wel gesê hy is besig om alle kontrakte met die Suid-Afrikaanse regering so ver terug as 2010 te ondersoek.

Rajiv Sekhri, woordvoerder van SAP, sê hulle is bewus van die kontrakte wat deel vorm van SAP Suid-Afrika se breër ondersoeke.

Ons het hulle parlement toe genooi en hulle ’n geleentheid gegee om hulself te verduidelik
Mlungisi Johnson

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê hulle is nie bewus van die OB-ondersoek nie. “Geen teken van korrupsie bestaan nie, aangesien die verkryging ’n volledige proses gevolg het.”

Die ouditeur-generaal (OG) het verlede jaar omvattende wanbesteding by die departement uitgelig.

Mlungisi Johnson, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor water en sanitasie, sê LP’s het amptenare van die departement vantevore oor die SAP-kontrak uitgevra, met het “teenstrydige antwoorde” gekry.

“Ons het hulle parlement toe genooi en hulle ’n geleentheid gegee om hulself te verduidelik. Hulle het dit nie aanvaar nie en sal nou voor ’n ondersoek te staan kom.”

Die komitee vergader Dinsdag met die OG, die tesourie en ’n ondersoekspan wat aan die presidensie verslag doen om die omvang van die parlementêre ondersoek na die departement van waterwese te bepaal.

Die OG het verwys na die SAP-kontrak om vyf jaar lank IT-produkte aan die departement te verskaf teen R450 miljoen, en twee jaar van ondersteuningsdienste te lewer teen R221 miljoen. Die OG-verslag beskryf die koste as “hoog”.

Minstens R285 miljoen van die geld is reeds aan SAP betaal.

SAP het vroeër in Maart gesê sy interne ondersoek het bevind hy het “onbehoorlik” opgetree deur meer as $9 miljoen (bykans R130 miljoen) se kommissie te betaal aan maatskappye wat deur die Gupta-familie beheer word, ten einde kontrakte met Eskom en Transnet te bekom.

SAP sê daar is geen bewys dat staatsamptenare regstreeks betaal is nie.

Drie Gupta-broers word ondersoek weens beweerde korrupte bande met Zuma.

Minstens een van hulle, Ajay Gupta, het landuit gevlug in die dae voordat Zuma gedwing is om as president te bedank. – Reuters

Meer oor:  Sap  |  Busi­Siwe Mkhwebane  |  Ajay Gupta  |  Jacob Zuma  |  Parlement  |  Ob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.