Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
OBK kry weer hoof van beleggings ná die Matjila-jare

Die batebestuurder van die staat, die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), het besluit om die rol van beleggingshoof terug te bring ná die omstredenheid wat die afgelope jare om sy voormalige uitvoerende hoof, Dan Matjila, gehang het.

Sholto Dolamo is met ingang van 6 Augustus as die waarnemende beleggingshoof aangestel.

Sholto Dolamo
Sholto Dolamo van die OBK gaan eers waarneem as beleggingshoof tot 'n permanente aanstelling volg. Foto: Verskaf

Hy is tans uitvoerende hoof van navorsing en projekontwikkeling en is ’n lid van die uitvoerende bestuurskomitee van die OBK.

Luidens ’n verklaring het die direksie van die OBK besluit om verskeie uitvoerende poste weer in te stel, waaronder dié van beleggingshoof, aangesien dit die OBK se “besluitnemings- en inwerkingstellingsvermoë sal versterk”.

Die OBK het in Maart in ’n verklaring gesê die direksie het die verslag van die Mpati-kommissie van ondersoek na probleme by die OBK bespreek. “Die direksie het maatreëls ingestel om die korporatiewe beheerprosesse en aanspreeklikheid te versterk, waaronder om die pos van uitvoerende hoof en beleggingshoof te skei.”

Die OBK het Vrydag gesê die proses om die pos van beleggingshoof te vul, is aan die gang. Dolama sal al die magte van dié pos hê totdat daar ’n finale aanstelling is.

Daar was sedert Matjila in 2006 in die pos aangestel is nooit weer iemand anders in die pos nie, want in die boekjaar tot einde Maart 2016 het die OBK sy organisatoriese struktuur hersien om weg te doen met die pos.

In die jaarverslag vir die boekjaar tot einde Maart 2016 is geskryf die OBK het sy hersiene organisatoriese struktuur suksesvol in werking gestel.

Dit het ingesluit dat die pos van beleggingshoof in vier poste verdeel is, naamlik uitvoerende hoofde van genoteerde beleggings; eiendomsbeleggings, ontwikkelingsbeleggings en private ekwiteit en gestruktureerde transaksies.

Dié hoofde het almal op die uitvoerende komitee gedien.

Vroeër jare het die beleggingshoof as ’n uitvoerende direkteur gedien.

Die OBK se jaarverslae toon Matjila het sedert die 2006-boekjaar as beleggingshoof gedien.

Dit wil voorkom uit die jaarverslae asof hy in die boekjaar tot einde Maart 2008 as uitvoerende direkteur aangestel is waarna daar elke jaar drie uitvoerende direkteure op die direksie gedien het. Dit was die uitvoerende hoof, die beleggingshoof en die finansiële direkteur.

In die 2011-boekjaar is hy as waarnemende uitvoerende hoof aangestel nadat Brian Molefe se verlengde vastetermynkontrak op 30 Julie 2010 geëindig het.

Elias Masilela is daarna in Februarie 2011 as uitvoerende hoof aangestel terwyl Matjila nog as beleggingshoof gedien het.

In die 2014-boekjaar was daar nog drie uitvoerende direkteure naamlik Masilela, Matjila en ’n finansiële direkteur op die direksie.

Matjila is in Desember 2014 as uitvoerende hoof aangestel nadat Masilela bedank het einde Junie daardie jaar.

Die 2015-jaarverslag het getoon hy dien van begin Desember af as beleggingshoof asook uitvoerende hoof.

Die situasie het gegeld totdat die beleggingshoof se pos verdeel is.

In die boekjare tot einde Maart 2016, 2017, 2018 en 2019 was daar net twee uitvoerende direkteure op die direksie.

Matjila het op 23 November 2018 bedank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.