Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
OG lê wakker oor Eskom, SAUK, Sanral
k

Nasionale en provinsiale departemente vaar steeds vrot met hul oudits, hoewel daar enkele tekens van verbetering is.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal. Foto: Skermgreep

In die ouditeur-generaal (OG) se eerste verslag sedert sy in Desember vir Kimi Makwetu opgevolg het wat in November dood is, sê Tsakani Maluleke die regering moet meer aandag aan staatsondernemings en belangrike departemente soos gesondheid en onderwys gee.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens, SA Express en LMT Products (’n filiaal van Denel) het geen finansiële state vir die 2019-’20-boekjaar ingedien nie. Die OG se ouditeure het nou al drie jaar lank nog nie ’n oog oor die meeste filiale van die SAL se finansiële state gegooi nie.

Die volgende staatsentiteite het boonop gebieg hulle is onseker oor hul finansiële state en hulle weet nie of hulle as ’n lopende saak kan voortgaan nie:

  • Eskom
  • PetroSA
  • Die SAUK
  • Denel en drie van sy filiale (Densure, Denel Aerostructures en Denel Vehicle Systems)
  • Landbank
  • Pelchem
  • Die Kernenergiekorporasie van SA
  • Die Onafhanklike Ontwikkelingstrust
  • Die Padongelukfonds
  • Die SA Nasionale Padagentskap (Sanral)

Die finansiële state van 17 entiteite was van so ’n swak gehalte dat dit nie eens geoudit kon word nie. Dit sluit dié van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, sewe TVET-kolleges en vier provinsiale entiteite in Noordwes in.

Volgens Maluleke het die Covid-19-pandemie die ouditproses vir die 2019-’20-boekjaar vertraag en daarom kon die verslag nou eers uitgereik word. Gewoonlik word dit teen September van elke jaar gepubliseer.

Beter en slegter

Die oudits van 66 entiteite het verbeter, maar 35 entiteite het versleg.

Net 111 entiteite (26% van die totaal) het skoon oudits, wat effens beter is as die 98 of 23% van die vorige jaar. Hulle verteenwoordig 17% van die besteding van R1 700 miljard van alle nasionale en provinsiale departemente.

Onreëlmatige besteding

Onreëlmatige besteding het in die boekjaar van R66,9 miljard tot R54,34 miljard gekrimp.

Maluleke waarsku egter dat die bedrag hoër kan wees omdat R2,08 miljard se kontrakte nie geoudit kon word nie weens verlore of onvolledige inligting. Daarby het 31% van die entiteite onvolledige syfers gegee of erken dat hulle nie presies weet watter besteding onreëlmatig was nie.

Die oplopende bedrag van onreëlmatige besteding van vorige jare wat nog nie uitgesorteer is nie, staan op R262,03 miljard.

Vrugtelose en vermorste besteding

In die boekjaar het 231 entiteite R2,39 miljard vrugteloos bestee of vermors. Dit is geld wat permanent verlore is vir die staat as dit nie teruggekry word nie.

Dit is meer as die R2,36 miljard wat in die 2018-’19 boekjaar vermors of vrugteloos bestee is.

Interne beheer

Basiese interne beheer is nog oral swak, het Maluleke opgemerk. Net 34% van entiteite het doeltreffende planne in plek om by die wortel van negatiewe ouditbevindinge uit te kom.

Behoorlike boekhouding is nog ’n swak punt en slegs 42% van entiteite het goeie beheer.

Ongemagtigde besteding

Ongemagtigde besteding het van R1,65 miljard tot R18,12 miljard opgeskiet, maar hiervan is R15,13 miljard weens die vroeë betaling van April 2020 se welsynstoelaes as reaksie op die Covid-19-inperking.

Regseise

Teen die jaareinde het 87% van die departemente regseise van R147,12 miljard teen hulle gehad.

Die algemeenste eise is mediese nalatigheid teen provinsiale gesondheidsdepartemente – ten bedrae van R105,8 miljard.

WAT DOEN DIE OG?

Die ouditeur-generaal gaan jaarliks staatsbesteding na en kyk of openbare geld bestee is aan waarvoor dit bedoel was.

Die OG kyk na 3 goed

1. Billike weergawe van syfers en of daar wesentlik verkeerde syfers aangemeld is;

2. Betroubare en geloofwaardige inligting oor hoe die entiteit presteer het vergeleke met voorafgestelde doelwitte;

3. Hoe goed die entiteit voldoen het aan alle wette en regulasies oor geldsake.

Die OG kan dan die volgende plakkers op elke entiteit se finansiële state sit:

• Skoon oudit – Alles is soos dit moet wees.

• Ongekwalifiseerde oudit met bevindinge – Nie sleg nie, maar daar is goed wat verantwoordbaarheid in gevaar kan stel.

• Gekwalifiseerde oudit – Die entiteit kon nie sy geldsake goed bestuur om die beste resultate te kry nie en hy kan nie rekenskap van sekere syfers gee nie.

• Ongunstige (“adverse”) oudit – Baie probleme oral en niks is volgens die korrekte reëls en prosedures gedoen nie.

• Afwysende oudit (“disclaimer”): Dinge was so sleg dat die entiteite nie eens betroubare bewyse kon gee om die finansiële state te staaf nie.


Meer oor:  Prasa  |  Sauk  |  Petrosa  |  Denel  |  Eskom  |  Landbank  |  Ouditeur-Generaal  |  Staatsondernemings  |  Oudit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.