Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
OG: SA kon baie méér gekry het vir Covid-geld

Suid-Afrika kon baie beter waarde vir sy geld gekry het as daar behoorlike beheer was oor hoe die geld bestee is om die Covid-19-pandemie te beveg.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal. Foto: Skermgreep

Dit blyk uit die tweede oudit-verslag deur die kantoor van die ouditeur-generaal (OG) wat Woensdag uitgereik is.

Dit blyk byvoorbeeld dat die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) moontlik onregmatig ’n enorme R10 miljard uitbetaal het.

Hoewel Tsakani Maluleke, die nuwe OG, met haar bekendstelling van die verslag in Pretoria gesê het dat die WVF reeds sowat R3,4 miljard van dié geld teruggekry het, word geen melding gemaak van die R6,2 miljard waar “betalings gemaak is wat die maksimum oorskry het nie”.

Op bladsy 52 van die verslag van 232 bladsye sê sy spesifiek dat hulle nog besig is om dié bedrag te ondersoek.

Voorheen het dit geblyk dat daar kommer was oor sowat R1 miljard wat die WVF onregmatig as deel van sy Covid-19-Ters-skema betaal het.

LEES OOK: Só word bykans R1 mjd. verkeerd betaal

Maluleke se verslag volg op die eerste verslag wat haar voorganger, Kimi Makwetu, op 2 September bekend gestel het. Makwetu is op 11 November aan longkanker dood kort voordat sy termyn einde November sou eindig.

Die OG het bevind dat R95,34 miljard van die R148,06 miljard, wat haar kantoor oudit, teen 30 September bestee is.

Maluleke sê hoewel beduidende vordering gemaak is om die probleme op te los wat voorheen uitgewys is, is daar steeds uitdagings en kan die staat steeds verbeter.

“Sommige van die inisiatiewe het nie die gewenste resultate behaal nie en is selfs weens mislukte koördinering, monitering en verhoudinge tussen die drie regeringsfere laat vaar. Waar implementeringsagente betrokke was, het ons swakhede in koördinasie en monitering gevind wat lewering, deursigtigheid en aanspreeklikheid in gevaar stel,” sê Maluleke.

LEES OOK: Dís wat skeefgeloop het met Covid-19-inisiatiewe

Makwetu het voorheen bevind dat die staat foute gemaak het met sy vinnige inwerkingstelling van die inisiatiewe om voordele en toelae uit te betaal, en om persoonlike beskermende toerusting (PPE) te midde van die koronaviruspandemie te koop.

“Prosesse, kriteria, behoeftes en kontroles is nie goed oorweeg nie, en in die haas is foute gemaak en geleenthede vir misbruik geskep.”

Covid-19-Ters-skema

Een van die areas waar die OG voorheen baie probleme geïdentifiseer het, was in die WVF se Covid-19-Ters-voordeel.

Voorheen is bevind dat dié voordeel aan onder andere dooies, minderjariges en misdadigers betaal is.

Die voordeel is spesifiek vir mense wat weens die staat van inperking nie kon werk nie.

Maluleke sê die WVF het haar kantoor se eerste verslag ter harte geneem, en drastiese stappe gedoen om die probleme op te los.

Dit het onder meer ingesluit dat die WVF ’n tyd lank alle betalings gestaak het om die stelsels op te gradeer.

Maluleke het die WVF geloof vir die stappe wat hy gedoen het om van die geld terug te kry.

Sy waarsku dat daar wel steeds betalings is wat onreëlmatig blyk te wees, maar dat dit “beduidend” minder is.

Luidens die verslag het die WVF sy stelsels in só ’n mate verander dat geen betalings meer sedert 21 September aan minderjariges en dooies gemaak is nie.

Tot en met 15 September is betalings van R38 092 wel aan 11 misdadigers gemaak.

Die kantoor van die OG het egter bevestig dat teen die tyd dat die betalings gemaak is, was die individue óf nog nie in die tronk nie óf hul besonderhede was nog nie op die stelsels van die departement van korrektiewe dienste nie.

R350-toelaag

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) het, net soos die WVF, ook onmiddellik stappe begin doen om probleme op te los wat deur die OG geïdentifiseer is.

Maluleke sê die agentskap volg nou ’n baie meer konserwatiewe benadering wanneer aansoeke oorweeg word.

Gemiddeld ’n derde van die aansoeke word nou elke maand afgekeur.

Maluleke sê daar is steeds kommer dat sommige individue wat die R350-toelaag ontvang, ook ander staatshulp soos staatspensioene, kindersorgtoelae, WVF-betalings, beurse van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) en hulp van ander Covid-19-skemas ontvang.

“Ons het teen 31 Augustus 67 770 begunstigdes geïdentifiseer wat moontlik ander toelae ontvang het. Dit verteenwoordig 0,32% van goedgekeurde voordele.”

Verkryging van PPE

Wanneer dit by die verkryging van persoonlike beskermende toerusting (PPE) kom, maak al die provinsies hulle skuldig daaraan dat die regte prosesse nie gevolg word nie, dat té veel vir toerusting betaal word, en dat betalings gemaak word vir produkte wat nie op standaard is nie, of laat of glad nie of verkeerd afgelewer word.

Maluleke sê haar kantoor sukkel ook steeds om al die relevante dokumente in die hande te kry wanneer oudits gedoen word.

“Hoewel noodverkrygingsprosesse toegelaat is vir die verkryging van PPE, was dit slegs bedoel om in spesifieke omstandighede toegepas te word. Dit het nie departement toegelaat om voor die voet wetlike vereistes vir ’n mededingende en billike verkrygingsproses te verontagsaam nie.

“Ons het gevind in gesondheid en basiese onderwys was daar steeds gevalle waar mededingende prosesse nie gevolg word nie, wat daartoe gelei het dat kontrakte aan ’n verskaffer of groep verskaffers toegeken is sonder dat die nodige prosesse gevolg is,” sê sy.

Derde verslag

Die OG sê haar kantoor sal voortgaan om die uitgawes te oudit. Daar is reeds begin met werk om ’n derde verslag vroeg in die nuwe jaar op te stel.

In daardie geval sal veral gefokus word op wat by munisipaliteite gebeur.

Meer oor:  Ouditbedryf  |  Ouditeurs  |  Staat Van Inperking  |  Bedrog  |  Ppe  |  Og  |  Koronavirus  |  Verkrygings  |  Korrupsie  |  Covid-19-Ters  |  Inperking  |  Covid-19  |  Ouditeur-Generaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.