Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Olie op hoogste vlak sedert Oktober

’n Relatief stiller week word ná die Paasnaweek op die plaaslike markte verwag met geen noemenswaardige groot plaaslike ekonomiese aanwysers wat bekend gemaak word nie.

China
’n Handelaar Dinsdag by ’n makelaar in Beijing. Aandeelpryse in Asië was Dinsdag wisselvallig, terwyl oliepryse tot hul hoogste vlak sedert Oktober gestyg het. Foto: AP

Maar internasionale oliepryse het tot hul hoogste vlak sedert Oktober geklim, wat druk gaan plaas op plaaslike inflasiesyfers, brandstofpryse en enige ander olieverwante insetkoste.

Ontleders verwag die markte sal rigting soek by die Amerikaanse mark, waar behuisingsyfers en ’n aankoopbestuurdersindeks van die dienstebedryf Dinsdag uitgereik word.

Die rand-dollar-wisselkoers is intussen oor die naweek onkant betrap en het tot so swak as R14,20 teruggesak in reaksie op die nuus oor die nasionale tesourie se reddingsboei aan Eskom wat op die lappe gekom het.

Bianca Botes, korporatiewe tesouriebestuurder by Peregrine Treasury Solutions, verwag die rand sal Dinsdag verder verswak namate die nuus oor die Eskom-reddingsboei deur die valutamarkte syfer.

Die tegniese band waarbinne die rand Dinsdag teen die dollar kan verhandel is tussen R14,12 en R14,26, meen Botes.

Teen Dinsdagoggend het die rand teen R14,17 teenoor die dollar verhandel, teen R15,94 teenoor die euro en teen R18,40 teenoor die Britse pond.

Opkomende markte voel terselfdertyd die pyn van dollaraankope wat hul plaaslike geldeenhede laat verswak. Dit is volgens Botes in reaksie op die geopolitieke stryd tussen Amerika en Iran oor olieverkope wat ’n negatiewe invloed op sentiment het.

Amerika het aangekondig hy gaan nie meer enige koper van Iranse Brent-ruolie kwytskeld van sanksies nie. Die doel van die sanksies is om Iran se olieuitvoer tot stilstand te dwing. Dit het Maandag ’n sterk lopie in die olieprys ontketen.

Ontleders meen ’n prys van $80 per vat vir Brent-ruolie in die huidige marktoestande is nou ’n moontlikheid – iets wat nog enkele dae gelede onwaarskynlik geklink het. Die olieprys het in Londen tot $74,50 per vat gestyg. Die Amerikaanse olieprysmaatstaf - West Texas Intermediate - het tot $65,85 per vat gestyg.

Op die markte in Asië was beurspryse wisselvallig. Aandeelpryse in China was laer, in Suid-Korea was dit bykans onveranderd en die beurs in Sydney was sterker. Pryse in Japan en Hongkong was wisselvallig.

Meer oor:  Olieprys  |  Markte  |  Randdollarwisselkoers  |  Markverslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.