Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Oliepryse styg, Eskom laat rand verder verswak

Die rand het Woensdag met nog 10c of 0,7% verswak tot R14,35 teenoor die dollar nadat die nuus oor Eskom se reddingsboei verder na die mark deurgesyfer het ná die Paasnaweek.

Oliepryse styg nadat Amerika sanksies teen Iran se olie-uitvoer verskerp het.

Die rand het die Donderdagaand voor die Paasnaweek op R14,05 gesluit; hy is dus nou al 30c swakker teenoor die dollar.

Ontleders skryf die verswakking toe aan algemene dollarsterkte en Eskom se finansiële verknorsing.

Die nuus dat Eskom stil-stil van die afgrond gered is met R5 miljard van die regering af, is op Donderdag 18 April laatmiddag in ’n DA-verklaring bekend gemaak.

Die nuus het egter eers op Goeie Vrydag, toe die plaaslike markte vir die vakansiedag toe was, begin deursyfer. Die regering het op 2 April noodgedwonge R5 miljard se noodfondse aan Eskom betaal sodat hy sy verpligtinge kon nakom.

Lees ook: Eskom stil-stil van afgrond gered met R5 mjd.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global se navorsingspan, sê Eskom is vir Suid-Afrikaners soos Brexit vir die Britte. “Die staatsonderneming is soortgelyk aan Brexit deurdat sy probleme langdurig is met geen duidelike oplossing in sig nie, en dit skep angs.”

RMB Global het nie in sy nuusbrief Dinsdag ná die reddingsboei verwys nie, en in Woensdag se nuusbrief skryf Ramkhelawan-Bhana hulle was dalk “te ongeërg om aan te neem dat die mark Eskom se kontantvloeiprobleme gelate gaan aanvaar aangesien die omvang van sy finansiële verknorsing welbekend is”.

“Nogtans beklemtoon die betaling van die nasionale tesourie die las wat die staatsonderneming in die afsienbare toekoms op die fiskus en op die land se kredietgradering gaan plaas.”

Sy sê in die lig hiervan is dit geen wonder dat die rand nou op sy swakste vlak sedert die begin van die maand is nie.

Ramkhelawan-Bhana glo nie die rand sal gou weer tot R14,20 versterk nie in die lig van nuwe markinligting, onder meer die swak verbruikersvertrouesyfers wat Woensdag uitgereik is.

Sy maan ook die styging in die olieprys tot amper die hoogste vlak in ses maande gaan sake vir verbruikers vererger.

Brent-ruolie het Woensdagmiddag teen $74,48 per vat verhandel. Dit lyk asof hy stewig op pad is na sy hoogste vlak vir 2019. Die olieprys was laas einde Oktober op dié vlak.

Dié styging kom nadat Amerika sommige lande se kwytskelding van oliesanksies teen Iran opgehef het. Dié lande mag dus voortaan ook nie olie van Iran invoer nie. Dit wakker vrese van ’n kleiner wêreldolievoorraad aan en laat dus die prys styg.

Ramkhelawan-Bhana sê dit lei tot risikovermyding en ’n swakker aptyt vir Suid-Afrikaanse bates.

Terselfdertyd versterk die dollar, onder meer danksy beter as verwagte maatskappywinste wat die S&P tot rekordhoë vlakke druk. Swak verbruikersvertroue in Europa lei ook daartoe dat die euro teenoor die dollar verswak.

Deon Kohlmeyer, ’n skuldmark-ontleder van RMB, sê staatseffekte het Dinsdag hoër geopen. Namate die nuus oor die reddingsboei aan Eskom verwerk is, het die rigtinggewende tien-jaar-R186-staatseffek met nog ses basispunte tot 8,54% verswak.

Hy sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se versekering Dinsdag dat Eskom nie op die rand van ’n ineenstorting is nie, het gemoedere gekalmeer en staatseffekkoerse gestabiliseer.

Mamello Matikinca, hoofekonoom van FNB.

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, sê nadat die rand vroeg in Februarie tot onder R13,50 teenoor die dollar versterk het, het die beurtkragkrisis die rand tot naby R14,50 teen einde Maart laat verswak.

Die swak rand het bygedra tot die skerp petrolprysstyging die afgelope twee maande.

Bianca Botes, ’n tesouriebestuurder van Peregrine Treasury Solutions, sê die sterk dollar plaas verdere druk op die rand ná die betreklik vinnige verswakking die afgelope paar dae tot bo R14,30.

Meer oor:  Eskom  |  Olieprys  |  Randdollarwisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.