Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Om nie jou e-tol te betaal, het ernstige gevolge
’n Argieffoto van ’n vorige betoging teen e-tol op die N1-hoofweg in Johannesburg. Foto: DENZIL MAREGELE

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gaan voort om verstekvonnisse teen motoriste te kry wat weier om e-tol op die Gautengse paaie te betaal.

Dit beteken mense se kredietgeskiedenis by kredietburo’s kan geraak word, en hulle kan dit dan moeilik vind om skuld aan te gaan om byvoorbeeld ’n nuwe motor of huis te koop of om ’n selfoonkontrak aan te gaan.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê hy is onlangs deur lede van die publiek ingelig dat Sanral nou die verstekvonnis-roete volg.

Navrae aan Sanral oor hoeveel verstekvonnisse al verkry is, hoeveel geld al daardeur teruggewen is en wat die totale skuld van nie-betalers tot dusver beloop, is nog nie beantwoord nie.

Outa meen Sanral tree binne sy regte op om die verstekvonnisse te kry, maar die vraag is waarom Sanral dié roete volg teen motoriste wanneer die wettigheid van die e-tolstelsel nog in die hof betwis word.

“Deur verstekvonnisse vir die nie-betaling van e-tol te verkry, kan motoriste se kredietgradering geraak word, wat dit moeiliker maak om krediet te kry. Verstekvonnisse ontstaan wanneer iemand nie reageer op ’n skulddagvaarding of dit teenstaan nie,” volgens Rudi Heyneke, vervoerportefeuljebestuurder by Outa.

Heyneke meen dat Sanral met dié verstekvonnisse ’n gevaarlike oorlog teen die burgers van Suid-Afrika voer. “Ons het gevalle gesien waar hierdie verstekvonnisse verkry is vir skuld wat reeds verjaar het.”

Die vraag is ook wat gebeur met verstekvonnisse wat teen motoriste verkry is vir voertuie wat nie eens hulle s’n is nie, of waar ander mense hul nommerplate gekloon het.

Deur verstekvonnisse vir die nie-betaling van e-tol te verkry, kan motoriste se kredietgradering geraak word, wat dit moeiliker maak om krediet te kry.
Rudi Heyneke

Outa het motoriste gewaarsku om nie skulddagvaardings te ignoreer nie maar dit teen te staan. Hulle kan Outa se kantore nader vir hulp oor hoe om die dagvaarding teen te staan. Maar as hulle dit ignoreer stel hulle hulself bloot aan verstekvonnisse en verdere regstappe kan daaruit volg.

Dit blyk die staat is boonop onder geen verpligting om motoriste in te lig as ’n verstekvonnis uitgereik is nie. Mense mag dit dalk eers uitvind wanneer hulle aansoek doen om krediet, wat vernietigende gevolge vir huishoudings se geldsake kan inhou, het Heyneke gewaarsku.

Outa raai mense wat tot dusver geweier het om e-tol te betaal aan om by ’n kredietburo na te gaan of daar ’n verstekvonnis van Sanral teen hulle is. Wanneer dit gebeur het sonder dat hulle daarvan bewus was, kan hulle die vonnis deur die howe laat omkeer, maar as hulle dit ignoreer kan hul kredietgradering negatief geraak word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het met die begroting in Februarie aangevoer dat e-tol hier is om te bly omdat die regering die verbruiker-betaal-beginsel wil toepas. Dr. Blade Nzimande, minister van vervoer, het op sy beurt in November al belowe dat gesprekke aan die gang is om die e-tolkwessie op te los.

Volgens Outa sal Sanral waarskynlik eers eisbriewe uitstuur voordat ’n dagvaarding uitgereik word. Mense kan die brief ignoreer, maar hulle verbeter hul kanse in die hof as hulle reageer.

Mense wat reeds ’n dagvaarding ontvang het, behoort volgens Outa so gou moontlik ’n prokureur te raadpleeg.

Meer oor:  Outa  |  Sanral  |  Kredietburo  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.