Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Om SAL te red, ‘behoort nie prioriteit te wees’

Kenners is ergerlik daaroor dat die regering hoegenaamd nou vra waar nóg R10,5 miljard vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) vandaan gaan kom. Om ’n nasionale lugdiens te hê, behoort nie prioriteit te wees nie.

Daar is steeds geen sekerheid oor wanneer die SAL geld gaan kry vir sy sakereddingsplan nie.

“As jy geld in ’n lugdiens belê, moet dit van iewers anders kom,” sê Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual en voormalige minister van finansies. Manuel sê ten einde die ekonomie reg te ruk ná die Covid-19-krisis moet daar duidelikheid kom oor kompromieë wat nodig is.

Mondli Makhanya, redakteur van City Press, sê ook die land het “een boodskap en een gesprek” nodig.

“Moeilike besluite moet geneem word. Dit was frustrerend om te hoor dat ons as land weer praat oor waar R10,5 miljard gevind kan word om ons sukkelende lugdiens reg te maak. Waarom is dit ’n prioriteit?

“Ons weet wat ons prioriteite is. Ons weet Eskom is ’n prioriteit, ons weet voedselsekerheid is ’n prioriteit, werkloosheid is ’n prioriteit. Waarom is dit dat ons as land hierdie heftige debat moet hê oor of ons ’n nasionale lugdiens moet hê?”

Makhanya sê moeilike besluite moet geneem word oor staatskuld, die staat se salarisrekening en oor hervorming.

Hy sê pres. Cyril Ramaphosa moet aan homself vertel hy sal gelukkig wees om net een termyn te dien – hy het dus nie vriende nodig wat hom weer tot ANC-leier (en dus president) moet verkies nie. Hy moet eerder daarop fokus om dit sy nalatenskap te maak om die land en veral die ekonomie “reg te maak”.

Manuel, Makhanya en Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Centre for Development and Enterprise (CDE), het deelgeneem aan ’n paneelbespreking oor die ekonomie ná die Covid-19-krisis wat die afgelope week deur die Universiteit van die Vrystaat aangebied is.

Die drie het saamgestem dat die staat gebroke is.

Bernstein het daarop gewys dat die land in ’n gemors was wat deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande streng inperking vererger is. “Die land het hervorming nodig en na my mening sal ons nie vorentoe beweeg tensy die regering se geloofwaardigheid as ’n hervormer gevestig is nie. Twee en ’n half jaar van beloftes en baie min veelseggende optrede het daardie geloofwaardigheid ondermyn,” het sy gesê met verwysing na die tyd vandat Ramaphosa president geword het.

Suid-Afrika het die potensiaal om ’n fantastiese Afrika-ekonomie te wees, met allerhande sterkpunte waarop ons kan bou. Maar ons hou aan teleurstel.
Ann Bernstein van die CDE

Die CDE lê klem op projekte wat vir jong mense geleenthede skep, ongeag hul opvoedingsvlak. Bernstein sê “dapper keuses” moet gedoen word as die ekonomie gaan groei – en op ’n manier gaan groei wat meer arbeidsintensief is.

“Suid-Afrika het die potensiaal om ’n fantastiese Afrika-ekonomie te wees, met allerhande sterkpunte waarop ons kan bou. Maar ons hou aan teleurstel.”

Makhanya het ook gesê ’n bevoegde staat moet opgebou word. Dis vir hom een van die grondliggende dinge wat die Nasionale Ontwikkelingsplan uitlig.

Trevor Manuel, voormalige minister van finansies.

“Die staat is baie gebroke, en daar is geen manier waarop ons vorentoe kan beweeg terwyl die staat so gebroke is soos nou nie. Dis wat ons tydens die inperking gesien het, toe dit so maklik vir sekere elemente was om uit baie noodsaaklike fondse te steel wat bedoel was om lewens te red. Dit was ’n klassieke voorbeeld van ’n gebroke staat.”

Makhanya sê ’n bevoegde staat sal dit moontlik maak om munisipaliteite – waar die ekonomie moet “gebeur” en waarvan kleinsakeondernemings afhanklik is – te verbeter.

Manuel sê die inperking het Suid-Afrika se ekonomie by ’n diep kloof laat afgly. “Ons bevind ons op die bodem van dié kloof.”

Hy reken daar is minder opsies as wat mense dink om uit die krisis te kom.

“Ek dink die 51%-inkrimping in die tweede kwartaal (geannualiseer) moet ’n gevoel van dringendheid en fokus meebring. Ons is nie alleen nie, maar ons moet bitter eerlik wees oor waar ons is. En ons moet ons ook moeilike vrae afvra oor of ons die middele het om die ekonomie te herbou.”

Manuel meen dat die noodlening van $4,3 miljard (nagenoeg R73,5 miljard volgens Vrydag se wisselkoers) wat die regering by die Internasionale Monetêre Fonds geleen het, nie genoeg is nie. Al hoe meer mense reken die land sal ’n volwaardige gebeurlikheidslening van die IMF nodig hê.

Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Centre for Development and Enterprise.

Manuel sê hoewel die geld wat vir Covid-19-verwante ingrypings ingevolge die IMF se snelle finansieringsinstrument sonder enige uitdruklike voorwaardes toegestaan is, is daar tog “fynskrif’.

In die brief van voorneme wat die leningsaansoek vergesel het, het Tito Mboweni, minister van finansies, en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, hulle daartoe verbind om die styging in staatskuld relatief tot die bruto binnelandse produk te temper. Daar was ook ’n verbintenis tot strukturele hervorming.

“Dit is dus nogal belangrik dat ons verstaan waartoe ons ons verbind het en waarteen ons gemeet gaan word.”

Die IMF het self gewaarsku dat die staatsdiens se salarisrekening in toom gebring moet word. Dit kom te midde van dreigemente deur die vakbond Nehawu dat hy gaan staak omdat staatsamptenare nie vanjaar verhogings gekry het nie.

Die IMF waarsku ook oor die gereelde – en groot – reddingsboeie aan staatsondernemings.

Manuel sê daar was nou al talle beleidsdokumente en besprekings oor hoe om die ekonomie reg te dokter.

“Die kommer wat ek oor dié dokumente het, is dat onvoldoende aandag aan staatsfinansies gegee word, wat die raamwerk is waarin alle ekonomiese ontwikkeling moet plaasvind. Dis basies ’n vergelyking: Wat jy bestee, is die som van wat jy belas plus wat jy kan leen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.