Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Onafhanklike direkteure skep pap op JSE

Nie-uitvoerende direkteure word al hoe meer gebruik in die onderskeie direksies van JSE-genoteerde maatskappye, maar wie is dié sakeleiers en hoe lyk hul vergoeding?

Ter illustrasie.Foto: Getty Images

Die persentasie nie-uitvoerende direkteure (NUD’s) het op ’n jaargrondslag in 2018 met 6,4% toegeneem ten spyte van ’n afname in die aantal JSE-genoteerde maatskappye in dieselfde tydperk van 5,25%.

Luidens die jongste PwC-verslag oor NUD’s in Suid-Afrika is die kwessie van die vergoeding van sulke onafhanklike direkteure een wat dus baie aandag en oorsig verg.

Dié verslag dui daarop dat daar tans 2 402 NUD’s in die direksies van die JSE se 325 hoofbord-genoteerde maatskappye is. Hierdie individue oorsien ’n totale markkapitalisasie-waarde van R12 950 miljard.

Die vergoeding vir dié individue beloop ’n gemiddeld van R904 000 per jaar wanneer die kleinste maatskappye op die JSE ook ingesluit word.

Maar vir die top-100-maatskappye op die JSE beloop die NUD’s se vergoeding ’n gemiddeld van R3 392 000 per jaar, terwyl die boonste kwartiel van voorsitters van dié direksies gemiddeld R9 029 000 verdien.

Die PwC-verslag dui ook daarop dat dit veral die grootste maatskappye is waarvan die vergoeding vir hul direkteure nog jaarliks styg, terwyl kleiner maatskappye op ander maniere hul NUD’s probeer beloon waar die salarisse slegs met inflasie tred hou.

Die boonste kwartiel van die JSE se genoteerde maatskappye het hul NUD’s se vergoeding in 2018 met gemiddeld 17,8% verhoog teenoor 2017, terwyl die algehele salarisverhogings gemiddeld slegs 5,3% vir dieselfde tydperk is.

Volgens die verslag is dit ook nie verrassend nie dat 14,4% van NUD’s nou op veelvoudige direksies sit nie. PwC betwyfel egter hoe volhoubaar hierdie toedrag van sake kan wees.

nie-uitvoerende direkteure

“Dit kan dalk moontlik wees om in meer as een direksie van kleiner maatskappye te dien. Maar die data wys egter daarop dat talle nie-uitvoerende direkteure wat in talle direksies dien, ook baie meer verskillende portefeulje-verantwoordelikhede as nie-uitvoerende hoofde by groot maatskappye in uiteenlopende nywerhede het.

“In hierdie scenario sou die effektiwiteit as ’n nie-uitvoerende direkteur moeilik wees om te bereik in so ’n komplekse sakeomgewing,” verduidelik PwC.

nie-uitvoerende direkteure

Rakende diversiteit onder die 2 402 NUD’s wat in die verslag ontleed is, is daar nog baie werk om te doen.

Slegs 20,1% van alle NUD’s van JSE-genoteerde maatskappye is vroue, en volgens die verslag word dié geslag steeds erg uitgesluit van die belangrikste posisies in sakeondernemings.

Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se 2018 Global Gender Gap-verslag, is Suid-Afrika 19de op die algemene wêreldranglys. Die land is 70ste vir geslagsverteenwoordiging onder algemene wetgewers, senior beamptes en bestuurders, en het hiermee slegs 32,1% vroulike verteenwoordiging.

Suid-Afrika is 91ste op die ranglys vir ekonomiese deelname en geleenthede.

“Volgens die WEF-studie rakende leierskapposisies wêreldwyd het maatskappye met goeie topkwartiel-verteenwoordiging van vroue in uitvoerende komitees merkwaardig beter gepresteer as dié met geen vroueverteenwoordiging in die topbestuur nie.

Volgens sommige ramings behaal maatskappye met goeie vroueverteenwoordiging soveel as ’n 47%-premie op hul gemiddelde opbrengs op ekwiteit,” verduidelik PwC.

Die oorgrote meerderheid van NUD’s in Suid-Afrika is ook steeds wit, al bied dié lede van die onderskeie direksies die grootste geleentheid vir diversifikasie aangesien hul onafhanklikheid ook hul kontrakte met maatskappye verkort teenoor uitvoerende direkteure.

Uit die 2 402 NUD’s in die verslag is 61% wit, 31% swart, 5% bruin en 3% Indiër.

Meer oor:  Pwc  |  Vergoeding  |  Uitvoerende Hoofde  |  Salarisverhogings  |  Jse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.