Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Onbetaalde rekeninge gróót probleem vir Jo’burg
Johannesburg se middestad met sonsondergang.Foto: Getty Images

Die kredietgradeerder Global Credit Ratings (GCR) het die Johannesburg-metro se kredietgradering onveranderd gelaat, maar wel sy vooruitsig na negatief gewysig.

GCR het Donderdag gesê die metropool is nie in gevaar van ’n skielike afgradering nie, maar die negatiewe vooruitsig is weens die kwesbaarheid van sy groot bestaande skuldlas en swak likiditeitsposisie.

Johannesburg het ’n totale skuldlas van ongeveer R20,1 miljard, wat die GCR as groot beskou, selfs vir Suid-Afrika se grootste stad, wat vir 15% van die land se bruto binnelandse produk verantwoordelik is.

Volgens die GCR maak die metro goeie vordering om sy finansiële posisie te versterk, maar sy kontantvloeiposisie is nou baie kwesbaar.

In kontant beskik die Johannesburg-metro tans slegs oor R2,2 miljard, waar dit R5,3 miljard in 2014 was.

Dit het hoofsaaklik agteruitgegaan weens die metro se probleme met skuldinvordering van inwoners, wat toenemend ’n uitdaging word.

GCR glo ook die agteruitgang van die metro se kontantposisie sal verder bemoeilik word deur nuwe, hoër kragtariewe wat in Julie ingestel is en wat wanbetalers sal laat toeneem.

GCR beskou dié verwikkeling as kredietnegatief.

Die Johannesburg-metro het tans ’n gradering by GCR van AA vir langtermynskuld, slegs twee vlakke onder die hoogste vlak. GCR het tien vlakke vir sy beleggingsgraad-kredietgraderings en 13 onder beleggingsgraad.

Vir korttermynskuld is Johannesburg op A1+ gegradeer, die hoogste gradering moontlik.

Volgens die GCR doen die Johannesburg-metro wel baie moeite om sy algehele finansiële situasie te verbeter.

Die kredietgradeerder besing die lof van Johannesburg se digitale betalingsdienste, streng en gedissiplineerde begroting, asook die goed gediversifiseerde bronne van sy inkomste, veral in tariewe vir water en riool.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.