Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ondersoek na ingevoerde ‘wit slym’ gevra

Berigte oor korrupsie en die ontduiking van regulasies oor voedselveiligheid in die Brasiliaanse vleis- en hoenderbedryf moet Suid-Afrikaanse verbruikers bekommer.

Só sê die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging (Sapa) in ’n verklaring wat Vrydagoggend uitgereik is.

“Die jongste berigte lui dat die Brasiliaanse polisie klagte van bedrog met voedselveiligheidstoetse teen top-amptenare van dié land se vernaamste pluimvee-uitvoerder ondersoek. Die uitvoerende hoof is in hegtenis geneem,” sê Sapa.

Die Brasiliaanse maatskappy BRF SA is een van die wêreld se grootste pluimvee-uitvoerders. Hierdie maatskappy is volgens Sapa ook een van die verskaffers van meganies ontbeende vleis (MDM) – dit is vleis wat meganies herwin is van hoenderkarkasse (sogenaamde wit slym) nadat die dye en borsies al afgehaal is. Dit word dan deur ’n sif gedruk en tot ’n smeer verwerk.

Wat doen die plaaslike pluimveebedryf om listeria hok te slaan?

Die Suid-Afrikaanse Pluimveebedryf finansier al jare self sy toetsprotokol vir listeria en die departement van landbou het ongehinderde toegang tot sy abattoirs.

Daar word ook aktief saam met die departement van landbou gewerk om doeltreffende maatreëls in te stel wat verbruikers se veiligheid verseker.

Dit sluit die onlangse instelling van ’n onafhanklike vleisinspeksieskema in asook ’n oorsig van die toetse wat vir vleis gedoen word.

“Dis tyd dat ingevoerde vleis- en pluimveeprodukte aan dieselfde streng standaarde as ons eie bedryf voldoen,” sê die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging.

“Suid-Afrika voer dié smeer in groot hoeveelhede van Brasilië af in vir gebruik in verwerkte vleis, waaronder polonie, Weense worsies en ander wors.”

Die vereniging het ’n beroep op die departement van landbou, bosbou en visserye gedoen om vas te stel of BRF SA ’n verskaffer van MDM aan Suid-Afrika is. En indien wel, hoeveel maandeliks van hierdie maatskappy af ingevoer word.

Sapa vra ook dat die Suid-Afrikaanse owerhede by sy Brasiliaanse eweknieë vasstel of die voedselveiligheidstoetse wat BRF SA ontduik het, ook toetse vir Listeria monocytogenes insluit.

“Gegewe die ernstige uitbreking van listeriose in Suid-Afrika wat tot die dood van 180 mense gelei het, hoop ons hierdie is iets wat die departement vinnig sal vasstel.”

Sapa het die departement gekritiseer vir sy stadige reaksie om ’n protokol in te stel wat die toetsing van ingevoerde MDM vir die listeria-bakterie reguleer.

“Ons verstaan dit is eers verlede week met vleisinvoerders gefinaliseer. Wanneer dit ingestel word, sal dit ’n stap vorentoe wees om Suid-Afrikaanse verbruikers te beskerm, maar dit moes lankal gedoen gewees het.”

Sapa wys daarop dat Suid-Afrikaanse verwerkte vleisprodukte nou in verskeie lande verbied word.

“Maar ons gaan voort om ongetoetste MDM te aanvaar terwyl die toetsprosedure in die uitvoerland dalk omseil is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.