Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Ondersoek na SAID-hoë was ’n klug’
Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Deon Raath

Die ondersoek na Tom Moyane se regterhand by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het geen tande gehad nie en was eintlik maar ’n klug.

“Dis ’n klassieke voorbeeld van hoe Moyane regsprosesse manipuleer ten einde die belange van Jonas Makwakwa en andere te beskerm,” sê ’n voormalige SAID-hoë wat nie geïdentifiseer wil word nie.

Die SAID het basies belastingbetalersgeld gemors deur ’n regsfirma te vra om Makwakwa te ondersoek.

Dit blyk uit ’n verklaring op die regsfirma Hogan Lovells se webwerf dat die verwysingsraamwerk van hul ondersoek só beperk was dat dit nie die werklike misdade wat hy moontlik gepleeg het, ondersoek het nie.

Makwakwa is onlangs ná ’n tugverhoor by die SAID onskuldig bevind aan klagte dat hy onder meer nie al sy belange verklaar het nie.

Net soos KPMG en ander groot firmas wie se rol in staatskaping nou blootgelê word, is hierdie net nog ’n voorbeeld van ’n vername regsfirma wat toelaat dat hy deur sy kliënt gemanipuleer word.

Moyane, kommissaris van die SAID, het Hogan Lovells in September aangestel om ondersoek in te stel na Makwakwa en Kelly-Ann Elskie, wat glo tussen 2010 en 2016 saam R1,6 miljoen in hul eie bankrekeninge inbetaal het.

Daar was onder meer 75 kontant-inbetalings van altesame R785 000 van Maart 2010 tot Januarie 2016.

Die SAID het Makwakwa in 2016 weens dié beweringe geskors, maar hy het in November ná ’n jaar tuis op volle betaling bloot teruggekeer werk toe.

Die verwysingsraamwerk van Hogan Lovells se ondersoek was baie beperk, blyk uit die regsfirma se verklaring. Dit het slegs probeer vasstel of hulle as werknemers van die SAID aan wangedrag skuldig bevind kan word.

’n Ondersoek mag nie breër wees as die verwysingsraamwerk nie. Dis een van die redes waarom mense skepties is oor die regterlike ondersoek wat pres. Jacob Zuma onlangs na die SAID gelas het. Die verwysingsraamwerk daarvan is nog nie bekend gemaak nie.

Die regsfirma het aanvanklik uitdruklik gesê daar is ’n plig op die SAID om potensiële misdade soos belastingontduiking en geldwassery te ondersoek. Nou blyk dit uit ’n mediaverklaring op Hogan Lovells se webwerf dat hulle slegs toegelaat is om potensiële wangedrag te ondersoek.

“Regsfirmas soos Hogan Lovells sal baie moeilike vrae moet vra oor hul eie optrede in hierdie ondersoek,” sê die voormalige SAID-hoë.

“Net soos KPMG en ander groot firmas wie se rol in staatskaping nou blootgelê word, is hierdie net nog ’n voorbeeld van ’n vername regsfirma wat toelaat dat hy deur sy kliënt gemanipuleer word.”

Lavery Modise, voorsitter van Hogan Lovells, wou geen vrae oor die ondersoek beantwoord nie. Hy sê alle navrae moet aan die SAID self gerig word.

Volgens die regsfirma se verklaring het hy aanbeveel dat Makwakwka dissiplinêr vervolg word omdat hy nie buitebelange verklaar het nie. Geen optrede is teen Elskie aanbeveel nie.

Die SAID het daarna ’n tugproses gevolg en Makwakwa is onskuldig bevind op alle aanklagte, volgens Hogan Lovells.

Valke-ondersoek

Die inbetalings is by die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) aangemeld, waar banke alle verdagte transaksies moet aanmeld. Die FIS het die transaksies as “ongewoon en verdag” beskryf.

Van daar af moet die vervolgingsowerhede verder ondersoek instel en bepaal of iemand van ’n misdaad aangekla moet word.

Die Valke stel wel ondersoek in na die transaksies, het HuffPost SA vroeër berig.

Corruption Watch het ook bedrogklagte teen hulle ingedien.

In sy boek The President’s Keepers skryf Jacques Pauw daar is videobeeldmateriaal van hoe die twee letterlik bondels note by ’n kitsbank inbetaal.

Die paartjie, wat saam ’n kind het, het ’n buite-egtelike verhouding gehad (Makwakwa was getroud).

Pauw is in sy boek skerp krities daaroor dat Moyane die ondersoek uitgekontrakteer het terwyl die SAID eintlik self die vermoë het om ondersoek in te stel of iemand inkomste kry wat nie in belastingopgawes verklaar word nie.

Makwakwa word alom beskou as een van Moyane se bondgenote in die poging om pres. Jacob Zuma uit die hof te hou. Die belastinggaarder skuil agter sy verskoning dat hy geen inligting oor belastingbetalers se belastingsake bekend mag maak nie en wil nie sê of hy Zuma ondersoek nie.

Zuma, wat jare lank geen belastingopgawes ingedien het nie, het volgens Pauw R1 miljoen per maand van die KwaZulu-Natalse sakeman Roy Moodley ontvang vir vier maande nadat Zuma president geword het.

Pauw se boek onthul ook verskeie ander gevalle waar Zuma geld, dikwels kontant, van weldoeners ontvang het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.