Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Onderwys is sleutel tot werkskepping, groei’

Suid-Afrika gaan nie naastenby die doelwitte haal wat die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) vir 2030 gestel het nie, maar dit beteken nié die doelwitte moet laat vaar word nie.

k
Tot 75% van Suid-Afrikaanse gr. 4-leerlinge kan nie met begrip in enige taal lees nie. Beter gehalte onderrig word beskou as van kernbelang om werkloosheid in die land op te los. Foto: Pixabay

Dr. Miriam Altman, ’n kommissaris van die Nasionale Beplanningskommissie (NBK), het Donderdag gesê dit is duidelik dat volle indiensneming nie teen 2030 gehaal gaan word, die teiken wat in 2011 in die NOP gestel is, nie. Volle indiensneming word vir Suid-Afrika se werkloosheid van net 6% beskou, teenoor die 30,8% wat tans heers.

Altman sê egter dit beteken nie mense moet sinies raak oor die teikens nie. Voorbeelde van lande soos Maleisië en Viëtnam wys dat werkloosheid wel drasties verminder kan word.

Altman het ’n voorlegging gedoen oor navorsing wat die kommissie gedoen het met die titel “Review of Economic Progress towards the NDP’s Vision for 2030: Recommendations for Course Correction”, wat onlangs gepubliseer is. Die NBK is ’n liggaam bestaande uit akademici en bedryfsleiers wat navorsing doen oor ekonomiese beleid en ingrypings aanbeveel. Hoewel die NBK onafhanklik funksioneer, word dit deur die departement van beplanning, monitering en evaluasie gefinansier.

Die kommissie wys daarop dat net 2,5 miljoen poste in die tien jaar van 2010-’19 geskep is. Teen 2019 was dit reeds 1,5 miljoen minder as die teiken wat die NOP gestel het, oftewel sowat 60% van die teiken is nie gehaal nie. Die NBK waarsku dat die teiken weens die werkverliese in 2020 selfs verder gemis gaan word.

Nog ’n kommerwekkende tendens is dat vervaardiging in die tien jaar 313 000 poste verloor het. Daarby het die rol van klein ondernemings in werkskepping gekrimp.

In 2008 het hulle 64% van alle poste verseker, en teen 2015 was dit net 55%.

Selfs al gaan die 2030-teiken nie gehaal word nie, sê Altman: “Dis steeds belangrik dat ons ons verbind tot volle indiensneming as topprioriteit, selfs as die tydsberekening verander.”

Ekonomiese groei

Werkskepping bly agterweë omdat ekonomiese groei sloer. Die NOP se ambisieuse teiken was dat ekonomiese groei teen 2020 tot gemiddeld 4,6% versnel moes word, maar dit was gemiddeld net 2,2%, met net 0,2% groei in 2019. Gegewe dat bevolkingsgroei 1,6% is, beteken dit die land word armer.

Altman wys daarop dat daar wel vordering was met sekere doelwitte, maar dat dit weer omgekeer het. Mense wat minder as die bestaansminimum verdien, het van 51% van die bevolking in 2006 tot 36,4% in 2011 gedaal, en toe weer in 2016 tot 40% gestyg.

Ongelykheid bly ook die hoogte ter wêreld, met 90% tot 95% van alle welvaart wat in die hande van die 10% rykste mense in die bevolking gekonsentreer is, teenoor die wêreldwye gemiddeld van 55% tot 60%. Die 40% armste Suid-Afrikaners besit slegs 5% van alle welvaart.

Altman sê dis uiters kommerwekkend dat Suid-Afrika se middelklas so klein is en so min bates het.

Lang tydperke van redelike groei is nodig, maar ons het heeltyd ekonomiese ommekere. Dit duur te lank om te herstel wanneer krisisse toeslaan.
Trudi Makhaya

In haar reaksie op die voorlegging het Trudi Makhaya, pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese raadgewer, ook beklemtoon dat Suid-Afrika se middelklas “baie klein, bate-arm en kwesbaar” is. Dit beteken plaaslike vraag na produkte groei nie vinnig genoeg nie.

Sy is bekommerd oor die “stop-begin-, stop-begin-aard” van ekonomiese groei. “Lang tydperke van redelike groei is nodig, maar ons het heeltyd ekonomiese ommekere. Dit duur te lank om te herstel wanneer krisisse toeslaan.”

Onderwys

Altman het beklemtoon dat Suid-Afrika op die versterking van staatsinstellings en van menslike vermoëns moet fokus. Dit sluit in dat basiese onderwys dringend verbeter moet word.

Beter onderwysuitkomste is die enkele belangrikste manier om armoede te verminder, indiensneming te bevorder en groei aan te moedig, glo die NBK.

Dr. Miriam Altman, ’n kommissaris van die Nasionale Beplanningskommissie, sê dit is duidelik dat volle indiensneming nie teen 2030 gehaal gaan word, maar die doelwit moenie afgeskryf word nie.

Daar is wel vordering in die onderwys. Dit sluit in dat 70% van Suid-Afrikaners van 20 tot 34 jaar oud nou hoër opvoedingsvlakke as hul ouers het. In 2016 het 57% van die leerlinge in arm skole (skole waar geen skoolgeld gehef word nie) gematrikuleer met vrystelling om B-grade te gaan studeer, teenoor 35% in 2008.

Studies wys egter dat 75% van gr. 4-leerlinge nie met begrip in enige taal kan lees nie – en dit is ’n agterstand wat hulle baie moeilik of ooit weer inhaal.

Altman sê dit is dringend noodsaaklik dat die stand van onderwys weer gereeld gemeet word. Sy stel voor dat die jaarlikse nasionale assesserings (ANA’s), wat leerlinge in gr. 3, 6 en 9 se taal- en syfervaardigheid getoets het, heringestel word.

“ANA gaan nie daaroor om onderwysers te straf nie, maar jy moet weet waar jy is as jy ’n krisis het soos ons het.”

Die ANA’s is in 2015 weens teenstand deur onderwysersvakbonde afgeskaf omdat hulle gemeen het dit word gebruik om onderwysers en skole te verneder. Dit sou in 2017 deur ’n driejaarlikse nasionale geïntegreerde assesseringsraamwerk (NIAF) vervang word, maar dit het nog nie gerealiseer nie.

Digitale ekonomie

Altman sê een belangrike manier waarop onderwys verbeter kan word, is deur skole aan die internet te verbind. Sy het navorsing aangehaal wat wys dat 80% van die land se skole naby genoeg aan LTE- of vesel-infrastruktuur geleë is en dat hulle gou – nog in 2021 – aan die internet verbind sou kon word. Net 30% van skole het egter internetverbinding.

Die raming is dat dit tussen R30 miljard en R80 miljard sou kos om die sowat 35 000 skole, wat sonder internet is, toe te rus – geld wat die staat nie het nie. “Dis tyd om na nuwe modelle van finansiering te kyk.”

Een van die suksesresepte van Viëtnam, ’n veel armer land as Suid-Afrika, was juis dat miljoene mense aan die internet verbind is. Net 10% van Suid-Afrikaanse huishoudings het toegang tot die internet, teenoor 30% in Viëtnam.

Isaah Mhlanga, ekonoom van Momentum, het in sy reaksie gesê die pandemie het Suid-Afrika se ekonomie verander. Digitalisering beteken die vaardighede wat nodig is, is baie anders as dié wat in die pandemie verlore is.

Staatsdiens

Wat die staatsdiens betref, sê Altman die heersende gesprek is dat daar besnoei moet word of dat belasting verhoog moet word. Sy sê die gesprek moet eerder fokus op die verbetering van dienslewering, aangesien onderwysers en ander staatsamptenare wel van uiterste belang is om uitkomste te verbeter.

Investering

Altman wys daarop dat in lande wat van tussen 1980 en 2008 met minstens 6% per jaar gegroei het, was daar hoë vlakke van investering en spaar. Investering was gemiddeld 29% van die bruto binnelandse produk en spaar 33%.

Die NOP se teiken was vir investering van 30% van die bruto binnelandse produk (BBP), waarvan die staat ’n derde sou moes doen. Die werklike investering van 2010-’15 was net 18,4% en die land se spaarkoers was minder as 20%.

In 2017 was die investeringsgaping R526 miljard, waarvan die private sektor R374 miljard verteenwoordig het.

Altman sê die syfers wys dus dat daar wel investering is – anders as die narratief dat maatskappye bloot op groot hope kontant sit en niks daarvan in die ekonomie belê nie – maar dit is te min om beduidend met groei te help.

Daar was sedert 2014 ook ’n afname in investering deur staatsondernemings.

Munisipaliteite en staatsdepartemente onderbestee hul infrastruktuurbegrotings, wat meebring dat die tesourie hul begrotings besnoei. Aan die ander kant is daar te gereeld projekte waarvan die koste die begroting oorskry – met Kusile en Medupi wat die twee mees ooglopende voorbeelde is.

Die gevolg is dat infrastruktuurbesteding nie die gewenste uitwerking het om groei en transformasie te bevorder nie.

Ramaphosa lê nou al jare lank klem op infrastruktuur as sleutel tot ekonomiese groei. Dit is ook sentraal tot die ekonomiese herstelplan wat hy verlede jaar bekend gestel het.

Meer oor:  Trudi Makhaya  |  Indiensneming  |  Onderwys  |  Werkskepping  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.