Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Onluste eers verby, maar wat dan nou?

Onlangse gebeure het opmerkings van jare gelede weer in herinnering geroep.

Ulrich Joubert

Eerstens, ’n swart kollega by Transnet wat in die vroeë 2000’s opgemerk het dat sy nie verbaas sal wees indien daar eendag ’n opstand uit die plakkerskampe kom teenoor die elite van die huidige bedeling nie omdat laasgenoemde vere vir hulle voel terwyl die inwoners van die plakkerskampe niks het om te verloor nie.

Tweedens, die Vrystaatse boer wat aan my genoem het dat daar in 1995 1 500 mense in sy dorp gebly het en 8 000 in die township, terwyl daar in 2005 slegs 500 mense in die dorp en 30 000 in die township gebly het.

Sy daaropvolgende woorde was: “En hoe dink jy moet ons nou vir almal sorg?”

Toe ek dié nag tuiskom, was ek dankbaar dat ons nie regtig weet wat die Johannesburg-verhouding is tussen dié wat die wa deur die drif moet trek en dié wat daarvan afhanklik is nie.

Kort ná 2010 op ’n seminaar in Secunda het die toekomskundige wat ook betrokke was, opgemerk dat die rookwolke wat ons daardie oggend van die township neffens Leslie gesien het, nie sodanig gaan oor dienslewering nie, maar eerder daaroor dat baie van die jong inwoners wéét dat hulle in hul leeftyd nie ’n heeltydse werk in Suid-Afrika sou hê nie.

Oorsake

Op die oomblik is daar soveel menings oor die redes vir die onlangse onrus as wat daar kommentators is.

Van die meer ooglopende oorsake is:

  • Die politiek in die regerende party;
  • Die toename in werkloosheid;
  • Die gepaardgaande verdieping van armoede en toename in die aantal honger mense;
  • Die onsekerheid weens die Covid-19-pandemie;
  • Die swak vertoning van die ekonomie;
  • Die onvermoë van die veiligheidsdienste om die onrus betyds te beheer;
  • Die idee dat misdaad gepleeg kan word sonder gevolge; en
  • Die maatskaplike verval van veral gesinstrukture.

Dié oorsake is die gevolg van onderliggende tendense van die afgelope 27 jaar.

Die algemene ekonomiese beleid wat gevolg is, het meegebring dat die groeipotensiaal van die ekonomie sedert 1994 gehalveer is, van sowat 2% tot ongeveer 1%.

Dit is dus geen verrassing dat werkloosheid toegeneem het nie en dat Johannes Jordaan in ’n onlangse Sake­siening getoon het dat werkloosheid volgens die breë definisie teen 2030 tot amper 50% kan styg met die gepaardgaande negatiewe toename in misdaad en emigrasie van geskooldes.

Dit is kommerwekkend dat inligting daarop dui dat die behoefte om te emigreer skerp toegeneem het weens die onrus en die onvermoë van die veiligheidsdienste om dit aanvanklik te beheer.

Ongelukkig word emigrasie verder “aangemoedig” deur die oormatige inmenging van die staat in die werking van die ekonomie deur byvoorbeeld aan te dring op swart ekonomiese bemagtiging, terwyl die eenvoudige oplossing sou wees om ekonomiese groei op dreef te kry en sodoende meer werkgeleenthede te skep.

Die huidige arbeidsbedeling bring egter mee dat ondernemings eerder masjiene of robotte as mense aanstel.

Weermaglede loop op 16 Julie deur die township van Alexandra in Johannesburg op soek na goedere wat in die plundery van veral 13 en 14 Julie in Gauteng gesteel is. Die gevoel is dat veral die polisie met onlustebeheer gefaal het.Foto: Getty Images

Onderliggend tot die werkloosheidsprobleem is die gebrekkige onderwys- en opleidingstelsel, wat op lang termyn die grootste struikelblok vir ’n noemenswaardige verbetering in die groeipotensiaal is.

Dié probleme het die afgelope jaar weens die pandemie-inperkings en die verlies van onderrigtyd verdiep.

Aanduidings is dat baie kinders reeds minstens ’n jaar se onderrig verbeur het.

Indien daardie verlore onderrigtyd nie ingehaal kan word nie, sal dit mettertyd meebring dat werkloosheid nóg verder styg as wat nou gevrees word.

Misdaad

Investering, langtermyngroei en indiensneming kan slegs gedy in ’n omgewing waar misdaad in bedwang is en mense nie vir hul lewe vrees nie.

Die aanvanklike optrede van die veiligheidsmagte tydens die onlangse onluste skep skeptisisme oor die vermoë van dié magte om onluste-situasies doeltreffend te beheer.

Dit is ondenkbaar dat die N3-roete vir byna ’n week gesluit was weens die onrus.

Dit is noodsaaklik dat álle vervoerroetes goed funksioneer om die ekonomie op dreef te hou.

Vir enige ekonomie om te presteer, is dit noodsaaklik dat munisipaliteite goed funksioneer in die lewering van dienste teen ’n billike prys. Dit is ongelukkig nie in Suid-Afrika die geval nie – ook nie wat die lewering van dienste deur die meeste staatsondernemings betref nie.

Oplossings?

Die uitdeel van aalmoese (welsynstoelae) gee korttermyn­verligting. Dit voorkom dat sommige gemeenskappe in totale armoede verval, maar dit bied nie langtermynoplossings nie.

Indien dit aan meer as 18 miljoen mense uitgedeel word, is dit nie op lang termyn volhoubaar nie.

Dit is dus van kardinale belang dat ekonomiese groei versnel word sodat meer volhoubare werkgeleenthede geskep kan word.

Dit kan egter slegs vermag word indien die openbare sektor goed funksioneer sodat ’n omgewing geskep word waarin die private sektor kan sake doen en werk skep.

Dit maak ook nie sin nie as die ekonomie groei en werkgeleenthede skep, maar daar is ’n tekort aan die noodsaaklike vaardighede weens ’n gebrekkige onderwys- en opleidingstelsel.

Dié probleme sal aangepak moet word, maar daar bestaan ongelukkig geen kitsoplossings nie. Dit benodig sterk politieke leierskap, wat tans grotendeels afwesig is.

’n Lang en moeisame pad lê voor waarin oor die breë ekonomiese beleid herbesin moet word.

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en voormalige wenner in Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Onluste  |  Sakesiening  |  Staatstoelae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.