Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Onluste-hulp: Nou sal SA móét groei

’n Beter as verwagte belastinginkomste danksy stewige kommoditeitspryse en hoër maatskappybelasting uit sekere sektore beteken die regering kan sy hulppakket van R38 miljard vir onluste-skade uit bestaande hulpbronne finansier sonder om geld ten duurste te leen.

Tito Mboweni, minister van finansies.

Kenners waarsku egter dít sal nie noodwendig in die toekoms ’n lewenslyn wees nie.

Sterk, volhoubare ekonomiese groei bly die enigste manier waarop Suid-Afrika probleme soos armoede en werkloosheid kan oplos, sê Izak Odendaal, beleggingstrateeg van Old Mutual Wealth, in reaksie op die hulpmaat­reëls wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag aangekondig het.

Odendaal sê tydens die Covid-19-pandemie het ’n geraamde 1 miljoen tot 1,5 miljoen bykomende mense hul werk verloor. Die land se werkloosheidsyfer staan op 43,2% volgens die breë definisie (ook ontmoedigde werksoekers).

Mboweni het Woensdag gesê voortgesette maatskaplike onrus kan sakevertroue en beleggings knou en ekonomiese groei demp.

Volgens Billy Joubert, ’n senior assosiaat-direkteur by Deloitte Suid-Afrika, kan plaaslike en buitelandse beleggers hul planne vir nuwe beleggings afskaal of afstel. Op kort termyn is nuwe beleggings ontwrig en op lang termyn kan voornemende beleggers die pad vat.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het Woensdag gesê in gesprekke met beleggers wat Suid-Afrikaanse staatseffekte koop, het hy dit duidelik gemaak die fundamentele boustene bestaan steeds vir hervorming en heropbou. “Danksy goeie belastinginkomste het ons meer geld om hierdie eenmalige krisis te hanteer.”

Mboweni verwag Suid-Afrika se ekonomie sal eers teen 2023 weer groei gelykstaande aan 2019-vlakke bereik.

Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, sê in ’n nota vóór die onluste en plundering is groei van 4,5% vir 2021 verwag; nou is dit eerder 3,9%.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het op die nuuskonferensie gesê die skade in KwaZulu-Natal en Gauteng het die ekonomie R48 miljard gekos. Dit sal ’n groot impak hê op belastinginkomste en die belastingbasis.

Odendaal meen daar is baie kleiner ondernemings wat nie verseker is nie en nie sal herstel nie, terwyl ander kan besluit om die versekeringsgeld te vat en nie weer hul deure te open nie. Dit sal belastinginkomste raak.

Volgens die SAID het belastinginsameling in die eerste drie maande van die belastingjaar teen die vinnigste pas in drie jaar gestyg. Dit volg nadat ’n bykomende R37,8 miljard in 2020-’21 ingesamel is. Kieswetter het gesê dit is danksy hoër maatskappybelasting uit die finansiële en mynbousektor. Plaaslike BTW-inkomste is ook beter as verwag danksy vervaardiging, die finansiële sektor en mynbou se prestasie.

Bishop sê vóór die onluste is verwag die regering kon met die goeie belastinginvordering sy fiskale posisie met R50 miljard tot R100 miljard verbeter.

“Met die skade aan die ekonomie en die belastingbasis weens die gewelddadige onluste sal die oorskot op inkomste nader aan R50 miljard wees.”

Volgens Bishop was kommoditeitspryse in die tweede kwartaal byna 15% hoër op ’n kwartaalgrondslag. Dit help uitvoer en belastinginkomste. Die SAID het ook sukses met beter belastingnakoming en dít help om inkomste te verhoog.

Volgens Odendaal moet ons die beste voordeel trek uit die huidige kommoditeitslopie, want dit gaan een of ander tyd eindig en dan lyk die belastinginkomste dalk nie so gunstig nie. Hy sê die spesiale maatskaplike toelae van R350 per maand vir mense wat tydens Covid-19 hul werk verloor het, kon nou hervat word danksy meer belasting wat ingevorder is, maar dit sal nie noodwendig die geval wees in die nuwe belastingjaar nie.

Dié soort maatskaplike steun is baie nodig, maar sal nie voortgesit kan word sonder belastingverhogings nie.

Daar is egter bitter min ruimte vir belastingverhogings, meen hy.

Joubert sê net soveel kan uit bestaande belastingbetalers getap word. Die oplossing is meer werkskepping, want so brei jy die belastingbasis uit, verseker meer persoonlike inkomstebelasting én verdieners betaal BTW wanneer hulle hul inkomste bestee.

Isaac Matshego en Nicky Weimar, ekonome van Nedbank se ekonomiese eenheid, skryf in ’n nota dis bemoedigend dat die regering se hulppakket, gelykstaande aan 0,7% van die verwagte BBP in 2021-’22, uit bestaande bronne gefinansier word sonder om bykomende lenings aan te gaan. Dit sal dus geen invloed hê op die begrotingstekort en skuldlas soos in die Februarie-begroting in die vooruitsig gestel is nie.

Die bruto skuld tot BBP vir 2021-’22 word op 81,9% geraam en behoort teen 2025-’26 op 88,9% te draai.

Die staatsversekeraar, Sasria, sal na raming tussen R15 miljard en R20 miljard se eise ontvang.

Sasria het aangedui hy het R9,7 miljard op sy balansstaat, en nog R6,5 miljard sal van sy herversekeraars kom.

Die tesourie sal aanvanklik R3,9 miljard aan Sasria toeken en het bykomende finansiële steun beloof sou die entiteit dit nodig kry.

  • Spesiale maatskaplike toelaes: R27 miljard
  • Oorbetaling aan Sasria: R3,9 miljard
  • Ondernemings sonder Sasria-dekking: R2,3 miljard (grootliks uit hertoewysings in die departemente van kleinsakeontwikkeling en van handel, nywerheid en mededinging)
  • Weermag: R700 miljoen
  • Polisiediens: R250 miljoen
  • Belastingaansporing vir indiensneming: R5 miljard

Totale finansiering: R38,8 miljard

Meer oor:  Inperkings  |  Plundery En Geweld  |  Onluste  |  Pandemie  |  Hulppakket  |  Covid-19  |  Tesourie  |  Vlaag 3  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.