Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Onluste kan inflasie oor volgende maande opdruk

Die hoop dat inflasie sy boonste draaipunt vir 2021 verbygesteek het, hang nou aan ’n draadjie weens verlede week se onluste.

Die prys van noodsaaklike kos mag nie skerper styg as die koste vir verskaffers nie, maar nie-noodsaaklike produkte kan wel skerper styg weens die vraag wat deur die onluste geskep word. Foto: Reuters

Ekonome is relatief seker die Junie-inflasiekoers van 4,9% wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdag bekend gemaak het, beteken Mei se 5,2% was inderdaad die draaipunt. Tog is daar vrees dat die afgelope week se onluste dié belangrike ekonomiese syfer weer sal laat styg.

In watter mate die vernietiging van eiendom en infrastruktuur, die ontwrigting van verskaffingskettings en tekorte aan kos en ander benodigdhede pryse gaan opdruk, is egter nog baie onseker.

“In dié stadium lyk dit asof kos, klere, huishoudelike toestelle en farmaseutiese produkte die meeste deur die onluste beïnvloed is,” sê die ekonomiese span van Momentum Investments, Johann van Tonder, Sanisha Packirisamy en Herman van Papendorp.

Die voordeel van die feit dat Suid-Afrika nog onder ’n ramptoestand vir die Covid-19-pandemie funksioneer, is dat die prys van ’n lang lys noodsaaklike dinge nie buitensporig verhoog mag word nie. Niemand in die plaaslike verskaffingsketting mag hul winsgrens op dié produkte of dienste verhoog nie, maar hulle mag wel stygings in koste aan hul klante en dus eindelik ook aan verbruikers deurgee.

Paniekaankope kan nog ’n bron van opwaartse druk op goedere se inflasie wees.
Koketso Mano van FNB

Koste kan bes moontlik in toom gehou word danksy die feit dat die Nasionale Verbruikerskommissie ’n vergunning toegestaan het wat maatskappye die reg gee om met mekaar oor die verkryging van voorraad te praat, iets wat normaalweg deur die Mededingingswet verbied sou gewees het.

Die regering se beroep op die South African Special Risks Insurance Association (Sasria) om eise so vinnig as moontlik uit te betaal, kan spoedige herstel aanhelp en dus die invloed op pryse beperk, meen die Momentum-span.

Hulle wys wel daarop dat die styging van munisipale tariewe in Julie óók in dié maand opwaartse druk op inflasie sal plaas. Munisipale dienste weeg 6,13% in die inflasiemandjie.

Enige opwaartse druk op inflasie sal die pas versnel waarteen die Reserwebank die rentekoers verhoog. In dié stadium verwag al die ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het dat die rentekoers Donderdag onveranderd sal bly. 31% verwag dat die koers wel in September of November of albei maande verhoog sal word, maar 69% reken dit sal vir die hele 2021 onveranderd bly.

Die FNB-ekonoom Koketso Mano is eweneens bekommerd oor die invloed van die onluste, maar meen dit sal merendeels die prys van nie-noodsaaklike kos en ander produkte laat styg.

“Paniekaankope kan nog ’n bron van opwaartse druk op goedere se inflasie wees.

“Ons siening is egter dat vraag in die algemeen gedemp sal bly, veral gegewe die getal poste wat in die gedrang is en die lae verbruikersvertroue.”

As die rand verswak, kan dit die prys van alle ingevoerde goedere, sowel as die koste van vervoer, laat styg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.