Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Ons is slawe van die staat weens dié pryse’
kospryse, inflasie
Verbruikerspryse het van Januarie 2008 tot April vanjaar met 84,9% gestyg soos gemeet deur die verbruikersprysindeks. Foto: Unsplash

Verbruikerspryse het van Januarie 2008 tot April vanjaar met 84,9% gestyg soos gemeet deur die verbruikersprysindeks.

In ’n internasionale konteks is dit nogal ’n skerp styging, want in die eurogebied het pryse oor dieselfde periode met 16,8% gestyg. Baie mense sal sê maar dié gebied is ’n volwasse, ontwikkelde mark.

In Brasilië het pryse oor dieselfde periode met 79,5% gestyg, maar in China, Rusland en Japan het pryse gedaal. Ander ontwikkelende ekonomieë soos Mauritius het verbruikersprysstygings van 42,1% ervaar, Thailand 18,7% en Rwanda 53%. Mexiko met sy hoë inflasie het prysstygings van 58% ervaar. Vergeleke met hierdie lande is Suid-Afrika ’n uitskieter.

Die rede hiervoor is al jare lank duidelik, en dit is dat die administratiewe pryse van die regering en sy agentskappe met veel meer as inflasie geklim het.

Ek bestudeer administratiewe pryse al sedert 1998. Dit is pryse waaroor die staat beheer het, soos elektrisiteit, water, eiendomsbelasting, belasting op brandstof en ander brandstofpryskomponente, uitgesluit die werklike rand-oliepryse van petrol en diesel.

Net ’n paar van hierdie pryse haal ooit die koerantopskrifte, soos elektrisiteit of brandstof. Maar waterpryse het oor hierdie tydperk met 205% gestyg, en elektrisiteit met 351%, met nog stygings op pad.

Die plaaslike belastings en marges op petrol het met 190% gestyg vergeleke met die styging van 70% in die internasionale pryskomponent.

Die koste van elektrisiteit, brandstof en water het egter ook ’n impak op die koste van vervaardiging en vervoer. Voeg daarby die tariewe van Transnet, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, die Lugverkeernavigasiediens, skoolfonds, parkeergeld, ensovoorts.

Die nuwe brandstofpypleiding van Durban na Gauteng word gefinansier deur ’n heffing op die brandstofprys. Dit is tans 57c per liter. Dit is al 268% meer as die 15,5c wat dit in Maart 2011 was. Dit het bygedra tot die styging van oorhoofse inflasie van 52% oor dieselfde tydperk.

Dié administratiewe pryse is oral teenwoordig en het ’n sneeubaleffek op die pryse van ander goedere en dienste, want dit is onmoontlik om dit te vermy, soos petrol, versekering, lisensies, water, elektrisiteit en selfs skoolfonds.

My beste raming is dat die administratiewe pryse wat die staat en sy agentskappe beheer, oor die afgelope sowat 20 jaar minstens 1 persentasiepunt per jaar tot Suid-Afrika se inflasiekoers gevoeg het.

Die saamgestelde jaarlikse inflasiekoers sedert 1998 was 5,7%, maar as dit net 1 persentasiepunt laer was, sou dit beteken het dat prysvlakke sedert 2008 met net 42,5% gestyg het en nie met 84,9% nie.

Laer inflasie impliseer meer reële besteding, veral vir armer huishoudings.

Dis egter nie al nie – die gehalte van owerheidsdienste het ook ’n impak. Mense ly onder swak skoolopvoeding en hulle waag hul lewe om na staatshospitale te gaan. Dit is benewens die ekstra koste wat mense moet aangaan in die vorm van veiligheidsmaatskappye en elektriese heinings om hulle teen misdaad te beskerm.

In Suid-Afrika betaal inwoners van die hoogste belastings in die wêreld, en dan moet hulle steeds ekstra betaal om ’n redelike lewensgehalte te handhaaf.

Dink aan die impak van elektrisiteit, water, lughawegelde, parkeergeld, tolgeld en talle ander pryse op jou daaglikse lewenskoste. Dink net as water- en kragtariewe die helfte was as wat dit tans is. Winkels se huurgeld sou minder gewees het vanweë laer kragkoste, en die bakkery sou brood teen ’n laer koste kon bak.

Administratiewe kostestygings behoort beheer te word, maar dit het nie gebeur nie want die bestuurders het nooit koste beheer nie.

Suid-Afrikaners sou meer welvarend gewees het was dit nie vir hierdie prysstygings deur die staat nie. Die ekonomie sou laer rentekoerse van sowat 1% of selfs laer kon hê, want inflasie sou laer gewees het.

Dit sou die risiko verlaag het om in Suid-Afrika sake te doen, en sou meer beleggings aangemoedig het (dis nou benewens Eskom se kragopwekkingsuitdagings).

inflasie

Gemiddelde inflasie sou vir die grootste deel van die afgelope tien jaar ver onder die middelpunt van die Reserwebank se inflasieteiken gewees het. Maar dit was nie, en ons regering dra grootliks die skuld daarvoor.

Laer inflasie impliseer meer reële besteding, veral vir armer huishoudings. Dit sou ’n laer risikovrye leningskoers vir die regering beteken het, wat meer geld sou hê om aan die armes of aan infrastruktuur te bestee.

Dit sou beteken dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank sy repokoers laer sou kon hou, en daar sou dus minder kritiek teen hom gewees het. Dit sou meer geld in verbruikers se sak beteken, wat verbruikersvertroue sou aanhelp.

Laer inflasie sou die versperring vir beleggingsbesluite vir die private sektor verlaag, en sou meer werkgeleenthede en meer sakevertroue beteken. Dit sou lei tot hoër groei van minstens 0,5 persentasiepunt, indien nie ’n volle persentasiepunt of selfs meer nie, want vertroue baar vertroue in ’n positiewe kringloop.

Volgens my eenvoudige berekeninge sou minstens ’n ekstra 1 miljoen werkgeleenthede oor die afgelope 20 jaar geskep kon word. Miskien sou ons groter beleggings tydens die hulpbron-opbloei gehad het, en minder werkverliese toe die kommoditeitspryse val, en so sou ons dalk vandag nader aan 2 miljoen ekstra werkgeleenthede gehad het.

Een uit elke vyf werkloses vandag sou dalk ’n werk kon hê, en ongelykheid sou minder gewees het.

Die impak van hoër pryse is omvangryk. Hierdie koste word deurgegee na die volgende vlak, maar die doeltreffendheid van die staatsbeheerde monopolieë word nie getakel nie.

Waarom die Mededingingskommissie nie hierdie situasie ondersoek nie, gaan my verstand te bowe. Die hoë pryse van alledaagse items wat van inwoners slawe maak, kom neer op hoogverraad deur die regering. Suid-Afrikaners sou per capita minstens 10% ryker gewees het as wat hulle vandag is.

Administratiewe prye is al deur baie mense bestudeer en gekritiseer, selfs ook deur die regering, maar niks word daaraan gedoen nie.

Dít is ’n werklike toets vir die regering, en nie net die stryd teen korrupsie nie.

Hoë administratiewe pryse is die gevolg van gierigheid, korrupsie, vermorsing, en die onvermoë van bestuurders om dinge reg te doen.

  • Mike Schüssler is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.