Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ons kan nie meer wag, sê Tito oor groeiplan

Die ANC en sy alliansievennote moet so gou moontlik besluit of hulle Tito Mboweni, minister van finansies, se nuwe “groeiplan” wat veronderstel is om Suid-Afrika se ekonomie weer aan die brand te skop, gaan aanvaar of nie.

Tito MboweniFoto: DAILY SUN

“Tyd is van sleutelbelang. Sommige dinge kan nie wag nie. Ons moet voortgaan,” het Mboweni Woensdagmiddag op ’n vraag-en-antwoordsessie in die Nasionale Vergadering gesê.

Dit was sy reaksie nadat Elphas Buthelezi, IVP-LP, aan hom gesê het dat die nasionale tesourie se beleidsdokument, getiteld Economic Transformation, Inclusive Growth, and Competitiveness Towards an Economic Strategy for South Africa, met sy “duidelike strategieë” ’n stap in die regte rigting vir die land is.

Buthelezi wou egter weet hoe Mboweni beplan om veral die steun van die ANC-alliansievennote (die SAKP en Cosatu), wat die plan openlik teenstaan, te werf om dit te aanvaar sodat dit geïmplementeer kan word.

Volgens Mboweni is dit baie belangrik dat steun vir “die belangrike werk” gewerf moet word.

“Soos julle weet is beleid uiteindelik politiek. Dit kan nie van mekaar geskei word nie. En die politiek moet die leierskap voorsien.”

Hy sê hulle was al in gesprek daaroor met die leiers van die ANC, die private sektor en “alle ander leiers” wat relevant vir die ondersteuning van die plan is.

Mboweni het bygevoeg dat daar ook “byna ’n hele dag” lank gesprekke was met die ANC se nasionale uitvoerende komitee oor die plan.

“Die komitee vir ekonomiese transformasie van die party het dit ook bespreek. Die ANC moet dus as hoof van die alliansie uiteindelik die besluit neem. Maar ons kan nie wag nie.”

Volgens Mboweni is dit nodig omdat daar veral twee sektore in die ekonomie is waarin talle werksgeleenthede geskep kan word.

“Dit is landbou en toerisme. Toerisme is die ‘laag hangende vrugte’. Ons moet vinnig beweeg om hierdie sektor te help om werk te kan skep.

“Daarom is die spoed waarteen ons visums aan toeriste uitreik wat die land wil besoek, belangrik. Daarom het die minister van binnelandse sake ’n groot vennoot van my geword om te verseker dat ons die visum-kwessie uitsorteer. Dat ons ontslae raak van al hierdie dinge van onverkorte geboortesertifikate vir kinders, en so meer.

“Daarom wag ons nie vir ’n toekomstige datum om die plan te implementeer nie. Ons maak vordering en ek is tevrede daarmee.”

Volgens hom word daar ook vordering gemaak in die vervoer- en kommunikasie-bedrywe.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Groeiplan  |  Minister Van Finansies  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.