Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ons probleem? Te min eerder as te veel kapitalisme

So ’n week of wat gelede gesels ek met die honneursklas in joernalistiek in Stellenbosch oor die onderwerp “Hoe skryf ’n mens oor kapitalisme?”

Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Ek begin met die voor die hand liggende vraag: Wat is kapitalisme? Hande skiet op. Ek kies een: “Dis wanneer mense van hul vryhede ontneem word.”

Ek steier effe terug, maar kies nog ’n hand. “Dis wanneer mense uitgebuit word.”

Vinnig kom ek agter in dié klas het kapitalisme nie ’n goeie reputasie nie. Daar is werk om te doen.

Ek begin met ’n eenvoudige definisie van kapitalisme: Dit is die vermoë om te kan kies wat ’n mens produseer en wat ’n mens verbruik. Dit is vryheid: Die beperking van ’n owerheid se mag om te dikteer waar ons moet woon, wat ons moet eet, watter werk ons moet doen en wie ons moet ken.

Ek kan sien dit stel baie teleur. Maar wat van armoede, vra die een. “Kyk net na al die geweldige armoede in ons land. Dis kapitalisme!” Dis ’n wonderlike voorbeeld, antwoord ek. Want as ons ontsteld is oor armoede, soos ons moet wees, dan moet ons ook vra wat oor die afgelope 200 jaar met armoede gebeur het sodat ons die oorsaak van armoede kan uitlig.

Die geskiedenis wys onomwonde dat daar waar vryhede van eiendomsbesit, van demokrasie, van ’n vrye pers, van die vrye mark is, daar het mense se welvaart merkwaardig toegeneem. 40 jaar gelede was 44% van die wêreld se bevolking brandarm. Vandag, nadat vryhede na China en Indië en groot dele van Afrika versprei het, is dit minder as 10%.

“Maar dit skep ongelykheid – en dís die oorsaak van al ons kwale: misdaad, minderwaardigheid, moedeloosheid.”

Ongelykheid is inderdaad fel, antwoord ek. En dis belangrik om te verstaan dat terwyl wêreldwye ongelykheid afgeneem het, het dit in lande meestal toegeneem. Dit beteken eenvoudig dat die vryhede wat met voorspoed geassosieer word, in lande ongelyk versprei is.

Byvoorbeeld: ’n Derde van Suid-Afrikaners mag nie die grond besit waarop hulle woon nie, want hulle woon in die voormalige tuislande. Dis juis in dié gebiede waar die armste Suid-Afrikaners woon.

En dis ’n belangrike punt: Kapitalisme beteken nie daar is geen rol vir die staat nie. Lees gerus weer Adam Smith se The Wealth of Nations. Die staat speel ’n sleutelrol om burgers die vaardighede te gee om die meeste van die vryhede van die mark te maak. Daarom is daar ’n regstelsel en ’n onderwys- en gesondheidstelsel en daarom is daar regulatoriese ratte om seker te maak mense word nie uitgesluit nie.

Maar dié ratte misluk ook gereeld. Selfs in die “sosialistiese” Swede word die private sektor in die skoolstelsel gebruik omdat die owerheid besef dat die mark sommige dinge beter doen. Die staat speel wel ’n toesighoudende rol.

Dis ook belangrik om te weet dat kapitalisme nie dieselfde ding as groot sakeondernemings is nie. Mededinging is die spilpunt van ’n kapitalisme wat vir almal werk. Monopolieë en oligopolieë se markmag beteken dat hulle nie die verbruiker op die beste manier bedien nie, en dikwels gebruik hulle hierdie mag om politici se arm te draai om hul voordele te beskerm. Dis staatskaping, en Suid-Afrikaners ken die gevolge hiervan goed.

geld,
Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash

Een student kom ná die klas na my toe. Ek kan sien iets pla: Hoekom is ons nooit aan dié weergawe van kapitalisme blootgestel nie? Dis moeiliker om te beantwoord. Weens universiteitsprogramme wat al hoe meer in silo’s aangebied word, word baie studente, veral in lettere en sosiale wetenskappe, beperk tot één beskouing: dat kapitalisme mense uitbuit.

Die meeste BA-studente, byvoorbeeld, kan nie ekonomie as vak neem nie. (Dis natuurlik ’n goeie voorbeeld van anti-kapitalisme: die beperking van keuses.) En selfs al sou hulle ekonomie neem, sou hulle in hul eerste jaar meer te doen kry met modelle wat elastisiteit en inflasie verduidelik en minder die oorsprong van welvaart en armoede. Dit beteken dat ’n hele generasie meningsvormers ’n wanbegrip van die mark het.

’n Wonderlike voorbeeld kom uit Azille Coetzee se boek In my vel. Op bl. 62 beskryf sy ’n interaksie tussen haar en haar buitelandse woonstelmaats: “ ‘Almal wat middelklas is in Suid-Afrika stel ’n skoonmaker aan,’ probeer ek hierdie wanopvatting ook regstel. ‘Arbeid is goedkoop, want daar is arm mense. So byna geen wit mense skrop hul eie vloere en toilette nie.’

“ ‘Oh, like apartheid?’ vra Astrid.

“ ‘Nee . . . nie meer nie,’ stamel ek, ‘maar ja, dit is ’n rasse-ongelykheid wat uit apartheid spruit. Maar ook gewoon neoliberale kapitalisme, ’n mens sien dit in Amerika ook.’ ”

Net soos die joernalistiekstudente, het Coetzee ’n verwronge opvatting van kapitalisme. Apartheid se probleem was nie te veel kapitalisme nie; dit was te min kapitalisme. Dit was ’n stelsel waar die staat – nie die vrye mark nie – mense hul vryhede ontneem het. Mense kon nie kies waar hulle woon of werk, met wie hulle trou of waar hulle skool gaan nie.

Apartheid was anti-vryheid.

Die manier waarop ons oor kapitalisme praat, maak saak. As ons die volgende generasie meningsvormers oplei deur hulle net blootstelling aan ’n verwronge ideologie te gee, gaan hulle die antwoorde op ons geweldige samelewingskwale op die verkeerde plekke soek. Ons gaan sondebokke maak van die mense wat juis die sleutel tot ons sukses het: entrepreneurs wat werk skep waar ons kan werk en met hul nuwe produkte en dienste vir ons almal meer keuses bied.

Die vryhede van kapitalisme is die fondament van ’n welvarende samelewing. Ons kort meer, eerder as minder kapitalisme. Laat ons nie die volgende generasie van dié waarheid ontneem nie.

  • Johan Fourie is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Johan Fourie  |  Opvoeding  |  Kapitalisme  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.