Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Onsekerheid knou sakevertroue wéér

Onsekerheid het ’n verdere duik in sakevertroue, wat nou al byna tien punte laer is as in Januarie, gemaak.

Richard Downing sê onsekerheid knou investering.

Sakevertroue het in Augustus met 4,2 punte tot 90,5 punte, die laagste vlak in ’n jaar, gedaal, volgens die indeks van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN).

Die indeks, wat maandeliks gemeet word, is net-net hoër as die 89,6 punte van Augustus 2017, maar die indeks het nou al 9,2 punte geval sedert die hoogtepunt van 99,7 in Januarie vanjaar, toe optimisme oor die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-president hoog geloop het.

Die indeks is ’n aanwyser van hoe ondernemings die sake-omgewing ervaar en wat hulle daaromtrent doen.

Dis die derde groot indeks in drie dae wat daarop dui dat saketoestande die afgelope ruk agteruitgegaan het. RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se indeks van sakevertroue was in die derde kwartaal laer op net 38 punte en Agbiz en die Nywerheid-Ontwikkelingskorporasie se indeks van landbouvertroue het tot die laagste vlak in twee jaar, 48 punte, gedaal. Albei dié indekse word kwartaalliks uitgereik.

Net drie van die 13 subindekse wat die SAKKN meet, het verbeter; vyf was onveranderd en vyf het verswak vergeleke met Julie.

  • Verbeter: Invoer, konstruksie en reële finansieringskoste.
  • Verswak: Uitvoer, kleinhandel, inflasie, die prys van edelmetale en die rand.
  • Onveranderd: Energievoorraad, vervaardiging, voertuigverkope, aandeelpryse en reële private lenings.

Richard Downing, een van die ekonome wat die indeks saamstel, sê dis kommerwekkend dat Suid-Afrika se ekonomie sedert omtrent 2008 swakker vaar as die wêreldekonomie en selfs die res van Afrika.

“Die positiewe luim wat aan die begin van 2018 geheers het, is vervang deur onsekerheid,” sê die ekonome, wat sê dit tas Suid-Afrika se posisie as ’n beleggingsbestemming aan.

Die SAKKN sê hy merk met kommer op dat ontluikende lande onder druk is, veral dié wie se fiskale posisie swak is. Die sakeliggaam loof die Reserwebank vir sy “verantwoordelike en deursigtige monetêre beleid”.

Die volgende groot uitdaging vir die sakeklimaat en die rand is waarskynlik die mediumtermyn-begrotingsraamwerk op 24 Oktober.

“Die minister van finansies sal beleggers moet oorreed dat die regering dissipline met besteding aan die dag kan lê in aanloop tot die 2019-verkiesing, en ekonomiese groei kan bevorder.”

Downing sê die ekonomie sal móét groei om sake- en beleggersvertroue te verbeter.

Meer oor:  Ekonomie  |  Sakevertroue  |  Sakkn  |  Beleggers  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.