Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Onteiening: ‘Moenie huise, bates gryp’

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) sê die regering moet versigtig wees oor die bewoording van wetgewing oor grondonteiening sonder vergoeding sodat gewone mense se huise en bates nie onteien kan word nie.

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika.

“ ’n Wysiging wat alle eiendom of spesifieke klasse eiendom – huise, bates, intellektuele eiendom, produktiewe landbou-eiendom, onder meer – kwesbaar laat vir onteiening sonder vergoeding sal ’n werklike risiko vir banke inhou, asook vir die land se vermoë om sowel plaaslike as internasionale investering te lok, ’n inklusiewe ekonomie te laat groei en werk te skep,” sê Cas Coovadia, besturende direkteur van Basa.

Die vereniging glo voordat grondonteiening sonder vergoeding deurgevoer word, moet behoorlike navorsing oor die uitwerking daarvan en ’n gesaghebbende oudit van grondeienaarskap gedoen word.

Daarby moet ’n elektroniese register vir alle eiendom opgestel word.

“Ons verstaan dat grondhervorming – heeltemal tereg – ’n emosionele debat is wat aan die kern raak van die regstelling van die ongeregtighede van die verlede, maar om die toekoms van ons land en sy mense te verseker, moet die uitkoms ook gegrond wees op empiriese, beredeneerde argumente,” sê Coovadia.

Hy het gereageer nadat die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee sy finale verslag aanvaar het dat art. 25 van die Grondwet gewysig moet word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Basa het geskrewe en mondelinge voorleggings aan die komitee gedoen.

“Basa ondersteun grondhervorming. Suid-Afrika het nog nie behoorlik afgereken met die gevolge van grondonteiening tydens apartheid en kolonialisme nie; en die trae pas van grondhervorming – tesame met stygende armoede en ongelykheid – het tot verspreide frustrasie gelei wat ons maatskaplike en ekonomiese stabiliteit bedreig.

“Grondhervorming, herverspreiding en besitreg is maniere om kwesbare mense toegang te gee tot ’n veilige inkomste en geleenthede om die welvaart oor generasies heen te skep wat nodig is om die ongeregtighede van die verlede reg te stel.”

Coovadia doen ’n beroep dat die parlement en betrokke regeringsdepartemente ’n duidelike wetgewende raamwerk vir onteiening skep, en dit so gou as moontlik doen.

Hy sê enige wysiging aan die Grondwet moenie eiendomsreg in Suid-Afrika verswak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.