Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ook Moody’s gradeer SA banke as ‘rommel’
Kredietgraderingsagentskappe voorspel dat moeilike tye voorlê vir Suid-Afrikaanse banke.Foto: Reuters

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service het met die mes ingeklim onder Suid-Afrikaanse maatskappye se skuldgraderings.

Hy het al vyf die land se groot banke tot rommelstatus afgegradeer.

Standard Bank, FNB, Absa, Nedbank en Investec se kredietgraderings is van Baa3 tot Ba1 verlaag.

Boonop hou hy die vooruitsig negatief, wat beteken hy kan die banke binnekort selfs nog verder afgradeer.

Dit kom nadat Moody’s Vrydagaand Suid-Afrika se skuldgradering tot onder beleggingsgraad verlaag het en volg kort op Fitch Ratings se besluit om sy kredietgradering van banke verder te verlaag.

LEES OOK: Fitch gradeer 5 groot SA banke verder in rommel in

Moody’s het staatskuld in rand en in buitelandse geldeenhede met een vlak tot Ba1 afgegradeer.

Die vooruitsig vir die land se gradering, wat dikwels ná ’n afgradering van negatief tot stabiel verander word, is op negatief gehou. Dit beteken die risiko bly hoog dat Suid-Afrika se kredietgradering in November weer verlaag kan word.

Moody’s het Woensdag in ’n verklaring gesê die hoofrede waarom hy banke se skuldgraderings verlaag het, is die toenemend uitdagende bedryfsomgewing waarin hulle hul bevind.

“ ’n Sekondêre drywer is die verswakking van die kredietprofiel van die Suid-Afrikaanse regering, gegewe banke se hoë soewereine blootstelling. Dié blootstelling is hoofsaaklik in die vorm van staatseffekte wat gehou word as deel van hul likiditeitsvereistes, wat hul kredietprofiele aan dié van die regering koppel,” sê Moody’s in die verklaring.

Absa het kort ná Moody’s se aankondiging in ’n verklaring gesê hy het oor die jare “aansienlike buffers” ontwikkel sodat hy “beduidende druk” kan weerstaan.

“Die Absa-groep bly goed gekapitaliseer in al die jurisdiksies waar ons bedrywig is. Ons is vol vertroue dat ons oor beduidende finansiële hulpbronne beskik om weerstand te bied gedurende die huidige krisis.”

Die afgradering van die banke kom kort nadat Moody’s ’n rits ander maatskappye Dinsdag afgegradeer het.

Hy het Sasol se langtermyn-skuldgradering van Ba1 na Ba2 afgegradeer.

LEES OOK: Sasol nóg verder oor rommelafgrond

Moody’s het dié week ook Eskom, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, die Landbank, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) se skuldgraderings verlaag.

As die land se skuld afgegradeer word, word verskeie staatsondernemings se graderings gevolglik ook hersien.

Acsa se skuld is van Baa3 tot Ba1 afgegradeer.

Moody’s behou ’n negatiewe vooruitsig op Eskom, wat beteken sy volgende gradering kan afwaarts wees.

Acsa se gradering word ook op hersiening geplaas vir ’n verdere afgradering. Moody’s sê die skerp val in lugverkeer weens die reisbeperkings oor die koronavirus-pandemie sal Acsa se bedrywighede raak. Hy verwag passasiersverkeer deur Acsa se lughawens sal in die boekjaar tot einde Maart 2021 minstens 30% laer wees as in die pas afgelope boekjaar.

Versekeraars

Moody’s het Woensdagmiddag ook die land se grootste versekeraars afgegradeer, met negatiewe vooruitsigte vir elkeen.

Die kredietgraderingsagentskap sê hul blootstelling aan banke en die regering se swak kredietprofiel maak dit onmoontlik om hulle te skei van die negatiewe vooruitsigte vir die res van die land.

Maar Moody’s sê versekeraars gaan ook sukkel om sake te doen in ’n land met sulke swak ekonomiese vooruitsigte soos Suid-Afrika.

Só is die versekeraars afgegradeer:
  •  Discovery: van Ba1 tot Ba2 – dieper in rommelstatus in.
  • Guardrisk: van Baa3 tot Ba1 – beleggingsgraad tot rommelstatus.
  • Momentum Metropolitan: van Baa2 tot Baa3 – laagste vlak van beleggingsgraad.
  • Standard Insurance: van Baa3 tot Ba1 – beleggingsgraad tot rommelstatus.
Moody’s beklemtoon onder elk van die versekeraars se ontledings dat daar oor die volgende 12 tot 18 maande waarskynlik geen motivering sal wees om hul graderings opwaarts te hersien nie.

Meer oor:  Fnb  |  Absa  |  Standard Bank  |  Fitch Ratings  |  Moody's Investors Service  |  Banke  |  Rommelstatus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.