Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Oos-Kaap doen sake met China

Die Oos-Kaap hoop om beleggings uit China en uitvoergeleenthede na dié land te bevorder met ’n ooreenkoms wat Phumulo Masualle, premier van die Oos-Kaap, en Che Jun, goewerneur van die provinsie Zhejiang in China, Vrydag onderteken het.

Sakelui van Nelson Mandelabaai het ook samesprekings gevoer met amptenare van Zhejiang.

Masualle sê die samesprekings is daarop gefokus om nuwe beleggings vir die Oos-Kaap te werf.

Che Jun (links), goewerneur van die provinsie Zhejiang in China, en Phumulo Masualle, premier van die Oos-Kaap, nadat hulle verskeie memorandums van sakeooreenkomste onderteken het. Foto: Lulama Zenzile

Che se besoek aan die Nelson Mandelabaai-metro volg ná Masualle se besoek aan China twee maande gelede. Kort ná Masualle se besoek het ’n maatskappy in die stad Shenzhen ’n beleggingsooreenkoms van R300 miljoen onderteken om ’n teëlvervaardigingsaanleg in Oos-Londen se nywerheidsontwikkelingsone (IDZ) op te rig. Dit sal glo sowat 1 000 werksgeleenthede skep.

Masualle sê ’n ooreenkoms om vleis na China uit te voer is nou onderteken.

“Dit is ’n verhouding wat ons graag vir jare wil volhou aangesien hulle ’n aansienlike mark het wat verskeie produkte van ons land kan gebruik.”

Ian Landman, mede-eienaar van Lentaba Meat, ’n vleisverwerkingsmaatskappy in Port Elizabeth wat Vrydag by die geleentheid was, sê die hoeveelhede wat uitgevoer sal word, moet nog vasgestel word, maar nuwe werkgeleenthede kan vir 30 tot 40 mense geskep word. Hy sien dit as ’n positiewe ooreenkoms wat tot die plaaslike ekonomie sal bydra.

“Ons sal aanvanklik kapitaal gebruik om die slagpale uit te brei, maar op lang termyn behoort die ooreenkoms volhoubaar te wees.”

Che sê daar is ’n groot mark vir vleisprodukte en vis van ’n hoë gehalte in Zhejiang, met sy bevolking van 56 miljoen.

Athol Trollip, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, was ook by die samesprekings en sê toerisme is die volgende sektor waarop gefokus moet word.

“Hulle het ’n groot bevolking wat toenemend reis. Die Chinese afgevaardiges in ons stad sien in die middel van die winter sulke mooi weer, hulle sal kan teruggaan en hul mense vertel ons het die hele jaar mooi weer.”

Meer oor:  Phumulo Masualle  |  China  |  Oos-Kaap  |  Nelson Mandelabaai  |  Uitvoer  |  Ooreenkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.