Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Paashaas bring soet nuus vir ekonomie

Die Paashaas het oënskynlik Suid-Afrikaners se leë trollies in April voller gelaai.

paashaas
Paasfees het 'n keerpunt in die kleinhandelverkope help meebring, maar kan dié momentum sonder die Paashaas voort gesit word? Foto: Argief

Dit kom ná die maer dae van die eerste kwartaal se kleinhandelverkope en algehele droewige ekonomiese omstandighede tot en met einde Maart.

Maar nou is die vraag of die Paas-langnaweek ál rede was wat dié belangrike syfers opgestoot het.

Suid-Afrikaners koop steeds nie méér kosprodukte nie, maar verkope in dié kategorie is darem uiteindelik weer dieselfde as ’n jaar vantevore.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Woensdag sy jongste kleinhandelsverkoopsyfers uitgereik. Tesame met die publikasie van BankservAfrica se indeks van ekonomiese transaksies (Beti) blyk dit dat verbruikers weer net-net op hul eie bene kan staan en die land se ekonomie aan die gang kry.

Kleinhandelverkope teen konstante 2015-pryse (om die effek van inflasie uit te haal) het in April met 2,4% op ’n jaargrondslag toegeneem. Dit is die hoogste groeikoers sedert November.

Suid-Afrikaners sukkel steeds met veral twee soort produkte in hul begroting: kos en huisverbeteringe.

Kosverkope, wat in Maart nog op ’n jaargrondslag voortdurend gedaal het, het uiteindelik ’n keerpunt bereik.

Leër en leër trollies was vir bykans ’n halwe jaar die realiteit van talle verbruikers, maar April se verkope van kos en drank was op ’n jaargrondslag uiteindelik nie meer negatief nie. Groei was 0%, wat beteken volgens volume is dieselfde hoeveelheid kos as ’n jaar gelede aangeskaf.

In Maart was dié groeikoers nog -2,4%, in Februarie -1,3%, in Januarie -1,9% en in Desember -2,4%.

Al waar geen keerpunt nog manifesteer nie, is in die verkope van produkte vir huisverbeteringe, wat in April op -2,4% teenoor April 2018 gestaan het.

Dié twee kategorieë is die enigstes uit die sewe kategorieë van kleinhandelverkope wat die SSA meet, wat nie op ’n jaargrondslag groei aangeteken het nie.

Vergeleke met verlede maand is dit ’n merkwaardige verbetering. In Maart was daar net twee kategorieë wat wel gegroei het.

Die grootste bydraers tot die algehele groei van 2,4% teenoor April 2018 is:

  • Klere en skoene: 6,4%-groei (dra 1,2 persentasiepunte tot algehele groei by)
  • Medisyne, grimering en toiletware: 5,3% (0,4)
  • Verkope by algemene handelaars: 1,2% (0,5)

Kleinhandelverkope het op ’n kwartaalgrondslag nog nie heeltemal herstel nie, met ’n 0,3%-daling vir die drie maande tot einde April teenoor die voorafgaande drie maande.

Luidens die Beti vir Mei is dit hoogs waarskynlik dat die verbeterde koopkrag en ekonomiese aktiwiteit ’n aanduiding is dat kleinhandelverkope se herstel kan voortduur deur die tweede kwartaal.

Dit is wel slegs as die Paastyd nie slegs ’n eenmalige hupstoot was nie, verduidelik Siphamandla Mkhwanazi, ’n ekonoom van FNB.

“Hoewel die April-syfers ’n welkome verwikkeling is, sal druk op verbruikers se diskresionêre inkomste, weens die swakker arbeidsmark en hoër inkomstebelasting, na verwagting lei tot onderdrukte kleinhandelverkope vanjaar,” sê Mkhwanazi.

“Die toenemende gebruik van ongesekureerde krediet, hoofsaaklik deur hoëinkomste-verbruikers, sowel as ons verwagting dat rentekoersverlagings in Julie op pad is, kan in die komende maande kleinhandelverkope grootliks ondersteun.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.