Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Pak dié 4 goed om uit rommelstatus te kom

Suid-Afrika moet wakker skrik en onmiddellik vier uitdagings aanpak om sy weg uit rommelstatus te vind.

So waarsku prof. Raymond Parsons van die NWU se Sakeskool.

Die vier take is:

  • Verseker ’n suksesvolle veldtog vir inentings teen Covid-19.
  • Stabiliseer staatsfinansies.
  • Kry staatsondernemings se finansies gesond.
  • Verseker dat daar genoeg elektrisiteit is.
Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool. Foto: Denzil Maregele

Parsons het gereageer op die besluite van twee kredietgraderingsagentskappe – Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) en Fitch – om hul kredietgraderings van Suid-Afrika vir eers onveranderd te laat.

Parsons glo hul besluit gee ten minste vir Suid-Afrika “meer tyd om sy ekonomiese huis in orde te kry”.

Maar, waarsku hy, die vier korttermyntake moet met ander ekonomiese hervormings opgevolg word om ’n grondslag vir volgehoue groei op mediumtermyn te lê wat werk skep.

Fitch se jongste vooruitskatting vir ekonomiese groei vir Suid-Afrika stem breedweg met die Reserwebank se jongste verwagting die afgelope week ooreen dat BBP-groei vanjaar 4% kan oorskry, sê Parsons.

Dié “sterk” herstel is grootliks omdat dit met die inkrimping van 7% verlede jaar vergelyk word, tesame met sterk internasionale kommoditeitspryse, verduidelik hy.

S&P het sy gradering van Suid-Afrika se staatskuld die naweek onveranderd gelaat – op BB- vir staatseffekte wat in buitelandse geldeenhede uitgereik is en op BB vir staatseffekte in rand. Dis onderskeidelik drie en twee vlakke onder beleggingsgraad en ook onderskeidelik een en twee vlakke bo C-graad.

Nóg goeie nuus is dat S&P die vooruitsig vir die gradering op stabiel gelos het. Dit beteken bes moontlik dat S&P Suid-Afrika nie in 2021 gaan afgradeer nie, tensy die land se geldsake drasties verswak vergeleke met verwagtinge. ’n Negatiewe vooruitsig gaan gewoonlik ’n afgradering vooraf, hoewel dit nie in yster gegiet is nie.

soos begin 2021
Suid-Afrika se kredietgraderings soos dit tans daar uitsien.

Kort daarna het Fitch Ratings aangekondig hy laat die land se graderings onveranderd, alles op BB, met sy vooruitsig steeds negatief. Dit beteken Suid-Afrika het ongeskonde van die eerste ronde graderingsbesluite van die jaar afgekom nadat Moody’s Investor Service die vorige week geen gradering gedoen het nie.

Die nasionale tesourie het in reaksie hierop laat weet hy is bewus van die druk op die graderings. Die regering bly verbind tot hervorming wat groei sal versnel.

Die tesourie het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om die verspreiding van Covid-19, wat ekonomiese groei kniehalter, te probeer voorkom. Die pas van inentings sal oor die volgende maande versnel, word belowe.

S&P se kommentaar

Die grootste gevaar vir ’n afgradering bly Eskom se finansiële posisie, maar S&P is ook bekommerd oor die omvang van rente op staatskuld.

Die gradeerder is verder bekommerd oor die mag van vakbonde in sowel die private en staatsektor.

“Pogings tot fiskale konsolidasie (en ons voorspellings op mediumtermyn) is daarop gemik om die groei in die lone in die openbare sektor te beperk deur ’n beplande bevriesing van vergoeding in die openbare sektor – iets wat in die verlede moeilik geblyk het ondanks daadwerklike pogings, as gevolg van ’n sterk vakbondteenwoordigheid in die land.”

S&P reken beoogde ekonomiese hervormings word te stadig in werking gestel en so ook maatreëls wat die “misbruik en vermorsing” van staatsgeld moet bekamp.

Wat die ekonomie betref, sê S&P Suid-Afrika trek tans voordeel uit hoër hulpbronpryse, maar die trae pas van inentings en strukturele probleme kniehalter mediumtermyngroei en beperk die regering se vermoë om skuldvlakke in bedwang te hou.

Suid-Afrika se “geloofwaardige sentrale bank, buigsame wisselkoers, aktief verhandelde geldeenheid en diep kapitaalmarkte” tel in sy guns.

Die Nedbank-ekonoom Isaac Matshego het vroeër gesê agentskappe sal “huiwerig wees om ’n land met betreklik soliede institusionele beheer en diep plaaslike finansiële markte” tot die C-vlak af te gradeer. Hy reken dié faktor kan afgraderings met minstens ’n jaar uitstel.

Meer oor:  Staatskuld  |  Rommelstatus  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.