Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Pandemie-wolk hang nog lank oor boubedryf
Die jongste konstruksievertroue-indeks van FNB en die BEO wys die boubedryf gaan nie sommer gou regkom nie, al is die ekonomie grotendeels weer oop. Foto: CANVA

Die boubedryf is op sy slegste plek nóg, blyk dit uit die jongste konstruksievertroue-indeks van FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO).

Die indeks vir die tweede kwartaal vanjaar is op sy laagste vlak nog, en deelnemers aan die peiling is boonop erg pessimisties oor vooruitsigte vir die derde kwartaal.

Drie uit die vier subindekse waaruit die indeks saamgestel is, het in die tweede kwartaal skerp gedaal. Dit is hardeware-kleinhandelaars wat met 21 indekspunte geval het, subkontrakteurs met 20 en hoofkontrakteurs met 13. Dit is net argitekte, bestekopnemers en boumateriaalvervaardigers, wat saam die vierde subindeks vorm, wat onveranderd is.

Met die meeste boukontrakteurs wat glad nie in April en Mei kon werk nie, is dit nie verbasend dat die bedrywigheidsvlakke getuimel het nie, sê Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom van FNB.

Die deelnemers het slegte moed vir die derde kwartaal omdat bestelboeke ook onder druk is. Daar is nog nie genoeg nuwe vraag nie.

Werk word gekanselleer en tenders word uitgestel namate kliëntfirmas moet sluit of hul kontantvloei meer aggressief moet bestuur. Dit dui alles op ’n langer tydperk waarin boubedrywighede nie gaan groei nie. Die impak van die Covid-19-verwante sluit van die ekonomie sal nog vir nog ’n geruime tyd in die bousektor gevoel word, en ’n vinnige herstel is hoogs onwaarskynlik, waarsku Mkhwanazi.

Vir argitekte en bestekopnemers was aktiwiteit steeds baie swak, maar rofweg onveranderd van die eerste kwartaal. Hulle het ander werkreëlings en kan meestal van die huis af werk, verduidelik hy.

Hardewarekleinhandelaars se sakevertroue het die skerpste geval – van 24 indekspunte tot net 3. Hul vooruitsigte lyk sleg want krimpende verbruikersinkomste sal vir die res van die jaar ’n impak op hul sake hê, benewens die verlangsaming in konstruksievraag.

Mkhwanazi meen dit is selfs in die medium termyn moeilik om ’n volle herstel in die boubedryf te voorspel, gegewe hoeveel skade die inperking aan die eiendomsbedryf aangerig het, en hoe sowel individuele as sakeondernemings se gedrag in die toekoms kan verander.

Die konstruksievertroue-indeks is gegrond op ’n peiling wat tussen 13 Mei en 1 Junie gedoen is. Die indeks wissel tussen 0 (’n uiterste gebrek aan vertroue) en 100 (uiterste vertroue). Dit dui die persentasie deelnemers aan wat tevrede is met heersende saketoestande in ses sektore: argitekte, bestekopnemers, hoofkontrakteurs, subkontrakteurs (wat loodgieters, elektrisiëns, kabinetmakers en uitrusters insluit), vervaardigers van boumateriaal soos sement, bakstene en glas, en kleinhandelaars in boumateriaal en hardeware.

konstruksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.